Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die Gebed vir die owerheid (2)

AKTUEEL: 11 September 2001      

SKRIFOORDENKING:
Die Here se saak is nie hopeloos - Openbaring 13:1-10

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks Ps 92

Aanbidding in Gees en Waarheid

Skrifgeloof en Wetenskap

Verdraaiing van feite en halwe waarhede (Kritiek)

Die Kerkorde van De Mist

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nog 'n interpreterende Bybel

Dr Isak Burger (AGS): 'n "Nuwe seisoen vir die kerk"

Ng kerk en AGS lede van die SARK

The Passion of the Christ - "Moenie gaan kyk nie!"

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Ononderbroke aanslag op Christelik-nasionale onderwys

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die Afrikaner en die Kerk

Globalisering:

PERSRUBRIEK: Die Bybel slegs goed vir 'n verskraalde stel beginsels?

"Versoening" - Dr Beyers Naudé

SARK se betrekkinge met regering en politiek

Nederlandse kerklike verwikkelinge

GESPREK MET LESERS: 

KOMMENTAAR: 
Kompas: "Kruger en Mandela"

MEDIESE ETIEK: 
Gehoorsaamheid uit eie hart?

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 5 September 2004

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY

DIE AFRIKANER EN DIE KERK

- DR AP TREURNICHT.  IN: "CREDO VAN 'N AFRIKANER".  1975. KAAPSTAD: TAFELBERG  (BL 76 - 84)  -

Die onderskeid tussen die aard en funksies van die kerk enersyds en die volkslewe of kultuurorganisasies andersyds moet nie uit die oog verloor word nie. Die kerk staan nie onder die beheer van die staat of 'n politieke party nie. Hy het 'n gesag van sy eie. Sy Hoof is Christus, die gekruisigde en opgewekte. Lidmaatskap word bepaal deur die ware geloof en nie deur die natuurlike band van die volk nie, al is dit ook so dat die gelowiges uit 'n bepaalde volk normaalweg, indien hulle dieselfde belydenis het, ook in een kerkverband lewe.

Ook kultuurorganisasies het 'n eie bestaansreg en funksie. hulle vind nie hul wortel of ontstaan regstreeks in die kerk nie. Ons glo nie aan 'n kerklike oorheersing of reglementering van die kultuurlewe nie. Die kerk het nie die bevoegdheid of organisasie om die lewe in verskillende lewenskringe te orden of te reël nie. Maar al is dit so dat die volks- en kultuurlewe nie vanuit die kerk beheer of vanuit die versoening deur Christus verklaar word nie, is dit ook so dat die lewe weer deur die versoening en Gees van Christus moontlik en sinvol gemaak word.

Die versoende, gekerstende mens word in sy kultuuruitinge geheilig en ánders gerig en geïnspireer as die Christus-vreemde en kerkvreemde mens. Daarom spreek dit vanself dat die kerk 'n groot verantwoordelikheid ten opsigte van die kultuur het. Hy moet aan die kerstening van die kultuur meewerk. Leslie Hunter het dit soos volg gestel: "The Church in its task of leading men into eternal life, must care for the civilization which is its milieu and the culture which is its expression."

Die feit dat die kultuurorganisasies van die Afrikaner  in beginsel en in die praktyk op Christelike grondslag staan, getuig daarvan dat kerk en volk by ons nie in algehele isolasie bestaan en werk nie, dat daar gesonde wedersydse beïnvloeding was en is, en dat ons volk in sy afsonderlike bestaan en eie roepingsbesef Christelik gemotiveerd was.

Vra ons na die krag van die Afrikaner en na die geheim van sy eie nasionale bewussyn, kan ons die volgende kenmerke onderskei:

'n Historiese besef.  Hier is 'n gemeenskap wat homself ken uit die dade van sy voorgeslagte, uit die lyding wat verduur is, die stryd wat deurgeworstel is, die oorwinnings wat behaal is, selfs uit die neerlae wat gely is. Daardeur is die oortuiging op ons bewussyn ingebrand dat hier mense is wat iets anders voel, iets anders bedoel en is.

'n Groepsbewussyn. Juis die groepsbewussyn waar-deur die Afrikaner afstand geskep het tussen homself en die Engelssprekende en die nie-blanke volkere, was deel van die krag van eie volk wees. Ons het die waarheid uitgespreek deur Weaver, maar alte goed besef: Dis vir 'n gemeenskap onhoudbaar om kultureel of polities absloluut ope te wees. Die reg om homself af te skei ("self-segregate") behoort tot die wese van 'n kultuur. Daarsonder verdwyn hy.

So is die Afrikaanse taal ook kenmerk en kragbron van die Afrikaner. Dis gevorm in die skaduwee van Nederlands, gehandhaaf teen die dwang van die draers van die Engelse kultuur, totdat dit méér as net 'n gesprekstaal geword het - ook skryftaal, kanseltaal, gebedstaal, Bybeltaal, sporttaal en vaktaal op die een gebied ná die ander.

Ons krag was en is geleë in die mate waarin ons Christelike lewenswaardes en sedelike norme gehandhaaf het en dit nog doen. Juis daarom gaan dit vir ons nie bloot om Afrikanerskap in onderskeiding van Engelssprekendes, of om 'n blankedom in onderskeiding van die nie-blanke volkere nie, maar om Christen-Afrikanerskap!

Ons krag was ook geleë in die Christelike fundering van ons reg op 'n eie volksbestaan. Verre daarvandaan dat ons ons aangematig het om ná Israel nou weer dié uitverkore volk van God te wees, leef daar tog in die hart van die gelowige Afrikaner die geloof dat God wel hierdie volk tot 'n eie roeping verkies het - saam met ander én onderskeie van ander.

Omdat ons van harte die soewereiniteit van God bely, veral soos uitgedruk in die Skrifwoord: "Uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge", kan ons nie ons volksbestaan as 'n toevalligheid beskou nie. Ons glo, soos prof G van der Leeuw dit uitdruk, dat God vir daardie eienaardige indiwi-due wat ons volke noem, 'n taak het.

Natuurlik weet ons ook dat dit niks baat dat 'n volk hom op sy roeping beroep terwyl die gehoorsaamheid aan God en die geregtigheid en die naasteliefde agterweë bly nie. Verkiesing én gehoorsaamheid, voortbestaan én getrouheid gaan hand aan hand. Verkies . . . om gehoorsaam te wees. Voortbestaan . . . om getrou te wees, en gewaarborg . . . juis deur getrou te wees.

Ons krag as volk lê ook in die rol van die kerk. Die geskiedenis van die Afrikaner kan nie geskryf word sonder die geskiedenis van die Afrikaanse kerke nie. Niemand sal beweer dat ons kerke nooit ons volk gefaal het nie, of dat ons volk altyd die regte waardering vir en getrouheid aan die kerk geopenbaar het nie. Maar ons volk was nooit sonder die kerk nie.

Om net 'n paar grepe te maak. Toe amptelike kerklike instansies die Groot Trek afgekeur het, het die Trekkers hulle nie van die kerk gedistansieer en die weg van 'n eiewillige godsdiens opgegaan nie. Toe die Boerevolk tydens die twee Vryheidsoorloë sy bestaan op die spel geplaas het ter wille van sy vryheid en selfbeskikking, het kerklike ampsdraers, predikante, hulle by die strydmagte in die veld gevoeg. Tydens die ballingskap en die veelbewoë dae van vernedering het ons kerke tientalle predikante na ons mense in die vreemde gestuur.

Toe die Afrikanervolk tydens die Tweede Vryheidsoorlog deur sy vyande beswadder is en aangekla is van wandade en onchristelikheid, was dit 'n tiental Afrikaanse predikante wat ons volk teenoor die buitewêreld verdedig het in 'n pamflet The Truth about the Boer and his Church. Hulle beskou dit as hul plig "openly to protest against the many misrepresentations which have tended to increase the bitterness now existing between the two white races in the country".

Teen die verengelsingsbeleid van Milner het kerkmanne saam met opvoedkundiges en eertydse militêre leiers aan die spits van die beweging vir Christelik-nasionale onderwys gestaan. Daar is voorts die kerk se aandeel in die hantering van die armblanke-vraagstuk; die vertaling van die Bybel - een van die grootste gebeurtenisse in ons geskiedenis; die kerk se sendingbeleid en -aksie op die grondslag van afsonderlike kerklike organisasies vir verskillende volke.

Dink ook aan die betekenis wat ons kerke se besinning oor volkereverhoudinge in die lig van die Skrif vir ons politieke ordening gehad het. Die feit dat ons Afrikaanse kerke hulle teen integrasie en bloedvermenging tussen blank en nie-blank uitgespreek het, was vir die Afrikanervolk tot groot morele steun. Terloops, die petisie met die grootste getal handtekeninge wat nog ooit by ons Parlement ingelewer is, en wel dié in 1939 met byna 'n kwartmiljoen handtekeninge, het skeiding tussen blank en nie-blank gevra, asook 'n verbod op rasgemengde huwelike. En aan die spits van die petisionarisse was 'n kerkman, vader Kestell.

Maar genoeg. Ek het oor hierdie aspek van die krag van die Afrikaner gepraat omdat dit juis teen hierdie krag is dat ons vyande al hul morele, finansiële en selfs militêre krag aanwend. Dis op die punt waar ons meen dat ons die sterkste is dat die aanslag op ons gemaak word - aan die sedelike en kerklik-godsdienstige front. As ons liberalistiese en kommunistiese vyande ons Afrikaanse kerke kan laat skaam kry oor die besondere band tussen kerk en volk, en as hulle oorreed kan word om nasionalisme as onchristelik te veroordeel en integrasie as Christelik aan te prys, as hulle oorreed kan word om dié soort profetiese getrouheid aan die dag te lê waarvolgens ons volk se stryd om afson-derlike voortbestaan veroordeel moet word as rassisme, onregverdige diskriminasie en onchristelike vooroordeel, sal dit vir ons volk 'n kwade dag wees.

Daar is inderdaad 'n aanslag op ons volk aan die kerklik-godsdienstige front. En dit is duidelik dat ons hier met iets veel gevaarliker te make het as die politieke druk, uitgeslape diplomasie, dreigemente van boikotte, of die ingewikkeldheid van ons volkereprobleem.

Feit is: die Afrikaner moet teologies, "Christelik" geïntimideer word! Hy moet skuldig voel oor sy nasionalisme. Hy moet dink dat hy uit die pas is met die Christelike kerk. Hy moet glo dat daar geen Bybelse grondslag vir ons volkerebeleid is nie. In die studiestuk van die Britse Raad van Kerke, The Future of South Africa, word van ons volkerebeleid gepraat as "lastering teen die Heilige Gees". In kerklik-ekumeniese kringe word ons volkerebeleid voorgestel as 'n verskeuring van die liggaam van Christus en 'n sonde teen die eenheid in Christus. Dié eenheid sou dan eenheid van organisasie eis, eintlik op 'n superkerk afstuur en sigbaar gedemonstreer moet word - veral tussen gelowiges uit verskillende volks- en kleurgroepe - onder één dak.

Die aantyging van spreekbuise van die Christelike Instituut kom daarop neer dat wie nie teen apartheid te velde trek nie, profeties ontrou is en 'n "verdemoniseerde ideologie" duld; ook dat twee evangelies, twee here en twee Christusse teenoor mekaar in ons volkslewe te staan gekom het. Indien ons nie die maatreëls vir afsonderlike volksbestaan as onchristelik en 'n vervalsing van die evangelie verwerp nie, sou ons meedoen aan afgodery.

So word die gewete van die Afrikaner aangespreek en word hy geïntimideer. Dit is die plek waar ons moet swig.

LW  Dr Treurnicht het dit geskryf in die vroeg sewentiger jare. Dit is gepubliseer in 'n boek wat in 1975 vir die eerste keer uitgegee is. Dit is gelewer in die hitte van die stryd om as Afrikanervolk staatkundige vryheid te behou. Hy het dit gedoen as 'n behoudende en strydvaardige gereformeerde teoloog. In die volgende uitgawe hoop ons DV die vervolg van sy betoog te publiseer. (Red - PvdK)