|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
Kommentaa
rKompas: Rigtingwyser vir die Gereformeerde Lewe?
Kompas verskyn binne die verband van die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (VGKSA).
Dit is bedoel, soos in die ondertitel vermeld, as rigtingwyser vir die Gereformeerde Lewe.
Dit word wyer versprei en gelees, vernaamlik binne die verbande van die GKSA en NG Kerke.
Eienaar en uitgewer is die Stigting Woord en Wandel. Sy eindredakteur is ds E Viljoen (Bellville).
Die uitgawe Jaargang 13 / no 7, Julie 2004, is deur een van ons intekenare aan ons redaksie voorgelê met die versoek vir kritiese beoordeling, waaraan ons hiermee voldoen.
Bogenoemde uitgawe van Kompas handel oor die tema: "Kruger en Mandela". Waarom dié twee tegelykertyd in dieselfde uitgawe beskryf word is nie vermeld nie. Wat president SJP Kruger betref, hy word in die redaksionele voorbladartikel positief ingelei en daarna volg drie artikels oor hom, agtereenvolgens: "Paul Kruger as Staatsman", geskryf deur Dr JW Meijer; "Paul Kruger en die Gereformeerde Kerk Rustenburg", aangebied deur prof VE d'Assonville; en dan nog 'n "Kruger Biografie" uit die pen van Ineke Roose. Dan volg twee artikels oor oud-president Nelson Mandela, die eerste geskryf deur Willie Spies (tans 'n parlementslid onder die vaandel van die VF Plus): "Nelson Mandela as Staatsman"; en die tweede geskryf deur 'n lid van Kompas se kernredaksie, A Roos, onder die opskrif: "Mandela - 'n Magstryd". Ons laat vereers die geleentheid verbygaan om op die inhoud van dié artikels kritiek te lewer.
Hoe ter wêreld kan hierdie twee figure, 'n gelowige volksleier en kerkman soos Paul Kruger in dieselfde asem tesame met 'n ongelowige kommunis en voormalige terroristeleier soos Nelson Mandela as tema genoem word? Wat is die gemeenskaplike wat hulle gehad het en het? Kruger se sterfdag en Mandela se ses-en-tagtigste verjaarsdag? Al-twee wêreldberoemd? Hoe bring mens die twee bymekaar? Hoekom die lewensgeskiedenis van Mandela publiseer in 'n tema tesame met 'n terugblik op die geliefde president van die voormalige Zuid-Afrikaansche Republiek?
Die stryd wat Paul Kruger teen die Britse imperiale wurggreep gestry het was nie tevergeefs nie. Hoewel die smartlike Vrede van Vereeniging in sy afwesigheid gesluit is, het die volk wat hy so liefgehad het, sy staatkundige vryheid herwin met die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika op 31 Mei 1961. Dit is waarin Mandela die teenvoeter van Paul Kruger, genl Hertzog, dr DF Malan, adv Hans Strydom en dr Hendrik Verwoerd geword het. Almal die laasgenoemdes was geesverwante van Kruger in dié sin dat hulle hul politieke loopbane, elk op sy wyse, toegewy het aan en bygedra het tot die herwinning van die staatkundige vryheid vir die Boerevolk. Mandela daarenteen het sy lewe toegewy aan die revolusionêre omverwerping van die blankes se regering van Suid-Afrika met die beleid van afsonderlike ontwikkeling.
Mc Alvany beskryf in die Winter-1990 uitgawe van die Mc Alvany Intelligence Advisor onder die opskrif: "Wie is Nelson Mandela en wat staan hy voor?", die volgende onthullende inligting:
"Mandela het in 1944 by die ANC aangesluit en binne 18 jaar een van die topleiers van die ANC en die SAKP geword. In 1963 is hy en sy mede ANC-saboteurs op heterdaad betrap met planne om 48 000 Russiese personeelmyne en 210 000 handgranate in te voer, asook met bewysstukke oor die betrokkenheid van Moskou, Algerië en Oosbloklande in die finansiering en steun van die revolusie in Suid-Afrika.
Mandela het skuld erken en hy en sewe ander is na 'n behoorlike verhoor gevonnis tot lewenslange tronkstraf. Geen menseregte-organisasie het hom ooit beskou as 'n politieke gevangene nie."
Hier, in die Parlement van Suid-Afrika, het die destydse leier van die amptelike opposisie, Dr AP Treurnicht, in die debat op 9 Februarie 1990, die NP-regering soos volg geopponeer:
"Die NP het 'n terroriste-organisasie, die ANC, gewettig. Hulle het die beheerliggaam van daardie organisasie, die SA Kommunistiese Party, gewettig.
... Die NP belowe om dr Nelson Mandela onvoorwaardelik vry te laat; 'n man wat gevangenisstraf uitdien omdat hy skuldig bevind is aan 'n oortreding wat gelykstaande is aan hoogverraad. Hy het erken dat hy gewelddadige revolusie beplan het. Hy was betrokke by 'n plan om die Regering omver te werp met wapengeweld. Die volgende is in hul besit gevind: 210 000 handgranate, 48 000 landmyne en 50 ton plofstof. Hy het swartes aangemoedig om blankes te vermoor. Hy eis blanke kapitulasie en hy eis swart meerderheidsregering. Hy dreig nog altyd met geweld. As die mag nie oorhandig word nie, is geweld nie eens net om die draai nie, dit is sommer net daar! Hy en sy organisasie ontvang wapens van kommunistiese state. Hy sê dit in die Mandela-plan. Hy weier om die kommunisme af te sweer."
Luister na wat Mandela self geskryf het. Dit kan gelees word in een van die dokumente wat by sy verhoor ter sprake gekom het: "How to be a good communist", 'n pamflet van 62 bladsye wat hy in sy eie handskrif geskryf het:
"In ons eie land word die stryd van die verdruktes gelei deur die SAKP ... Die doel van die SAKP is die verslaan van die nasionale regering en om die mense van Suid-Afrika van die kwaad van rassediskriminasie en uitbuiting te bevry, om 'n klaslose en sosialistiese gemeenskap te bou waar die grond, myne, meule, ensovoorts, genasionaliseer is. ...
Die mense van Suid-Afrika, gelei deur die SAKP, sal die kapitalistiese gemeenskap vernietig en sosialisme instel. Die oorgang van kapitalisme na sosialisme en die bevryding van die werkersklas kan nie beïnvloed word deur stadige veranderings of hervorming nie (soos reaksionêre en liberale sê), maar deur revolusie. Mens moet dus 'n revolusionêr en nie 'n hervormer wees nie."
Ons vra weer wáárom dit gedoen is om Paul Kruger en Nelson Mandela as 'n tema in Kompas aan mekaar te verbind. Albei word positief beskryf as leiers van formaat. Geen antitese tussen die optrede en strewes van beide figure nie. Elkeen word bespreek volgens die bydrae wat hy gelewer het. "Mag die goeie voorbeelde wat Mandela gestel het, wel nagevolg word ..." skryf Willie Spies. "Ons, as Christene, weet natuurlik dat mnr Mandela 'n werktuig in die hand van ons God was wat dit so gelei het maar dit neem ons dankbaarheid nie weg nie", aldus A Roos in sy artikel.
Dit is nie onwaarkynlik nie dat die tematiese verbinding gedoen is met die oog op kondisionering aangaande die teenwoordige omstandighede. Die stryd van die verlede, Paul Kruger se ideaal van staatkundige vryheid vir sy volk, is verby en ons lewe nou in 'n ander tydperk. Dis nou die tyd om 'n nuwe nasie te bou en mense saam te snoer wat nie uit innerlike oortuiging nie, maar wat vanweë liberale en pragmatiese oorwegings bereid is om saam te werk en aan te pas, en om konflik te vermy.
Helaas is dit ook duidelik dat daar geen sprake van 'n antitese gestel is nie, geen prinsipiële teenoor mekaarstelling nie, in die wyse van bespreking van die Dopper-Gereformeerde Paul Kruger in één tema saam met Nelson Mandela wat nog steeds 'n yweraar vir die bevordering van die antichristelike ideologie van die kommunisme is.
Is hierdie uitgawe van Kompas 'n betroubare "rigting-wyser" vir die Gereformeerde Lewe? Waarheen is hy op pad? Geruisloos saam met die nuwe Suid-Afrika na die één-wêreldstaat en één-wêreldregering, die Nuwe Wêreldorde (New Age), wat deur Mandela en die ANC/SAKP aanvaar en bevorder word? 'n Rigtingwyser behoort tog allereers die betrokke omgewing te verken het, alvorens 'n rigting aan te wys?
Dit is ontstellend om só die pad te loop soos Kompas dit met die tema "Kruger en Mandela" doen. Dit bewys die miskenning van die Afrikaner-volkseie geloofs- en oorlewingstryd wat in Paul Kruger simboliseer.