|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
Mediese Etiek
GEHOORSAAMHEIDUIT EIE HART?
- DR MC DURAND -
Dikwels hoor ons dat die gelowige enigiets kan doen, solank hy dit tot eer van God doen.
Soms word die gedagte effens afgerond deur te meen dat die gelowige enigiets kan doen, solank dit tot eer van God is EN God dit nie uitdruklik verbied nie.
Solank jy sê dat jy ‘n spesifieke handeling tot die eer van God doen en die Skrif dit nie verbied nie, kan jy wel dit regkry om goeie dade te doen.
Meeste gelowiges sal weet dat gehoorsaamheid aan God beperk is tot daardie handelinge wat God in Sy Woord beveel, en die vermyding van daardie handelinge wat God in Sy Woord verbied.
Die vraag is egter of ‘n goeie handeling iets anders as gehoorsaamheid kan wees. Met ander woorde kan ‘n handeling wat tot God gerig is (naamlik gesê word dat dit tot Sy eer is) sonder dat God dit ons leer en God ons dit nie verbied nie, ‘n goeie handeling wees? Die implikasie hiervan is dat die gelowige sekere handelinge gaan doen uit gehoorsaamheid, maar ander handelinge gaan doen omdat dit goed is. In die kerk sou ons die voorbeeld kon hê van die liedere - die gelowige sing die Psalms omdat dit gehoorsaam is aan die Woord van God, maar hy sing ook die Gesange omdat dit goed is (want hy sing tot God en dit is nie verbied in die Woord van God nie).
Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde in die geneeskunde: Naamlik dinge wat iemand kan dink hy doen dit tot die eer van God, selfs bid daarvoor en wat die Skrif nie verbied nie.
Die Skrif verbied nie uitdruklik kunsmatige bevrugtings nie. Die Skrif verbied nie letterlik dat ‘n ongetroude vrou bevrug mag word sonder liggaamlike gemeenskap nie. Net so verbied die Skrif byvoorbeeld ook nie surrogaat swangerskappe nie. En ook nie die gebruik van kloning vir gelowige ouers wat onvrugbaar is nie.
Beteken dit dan dat ‘n gelowige vrou of egpaar wat alles reeds probeer het, lank gebid het, wel die middele van die wetenskap mag gebruik - veral indien sy of hulle God dank en loof vir die wonderlike middele wat Hy immers in die skepping geplaas het?
Beteken dit dat só ‘n gelowige ongetroude vrou of egpaar nie juis God kan eer en hulde bring deur kunsmatige bevrugting, surrogaat swangerskap, of kloning nie?
Die brandende vraag is egter: Kan die gelowige uit sy eie hart tot die eer van God iets doen?
Dit wil sê: Kan die gelowige uit sy eie hart die goeie uitwerk? Kan die gelowige met geloof en sekerheid genoegsaam reinheid en wysheid in sy eie hart vind om ‘n weldaad uit te werk wat hy tot God kan rig, sonder dat hy aan die Skrif gehoorsaam hoef te wees? Het ons enige voorbeeld in die geskiedenis van die wêreld en in die Skrif waar ons gelowiges kan vind wat uit hulle eie hart en eie wysheid tot die eer van God goeie dade kon verrig het? Nêrens!
Die Skrif vermaan dat ons nie op ons eie wysheid en insigte moet vertrou nie. Spr 3:5: Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ps 81:12: Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel.
Die Skrif vermaan ons om nie op ons eie hart te vertrou nie. Spr 28:26: Wie op sy eie hart vertrou, hy is ‘n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.
Die Skrif leer ons die sonde van die versinsels vanuit die eie hart (vergelyk 1 Kon 12:33: En hy het geklim op die altaar wat hy in Betel gemaak het, op die vyftiende dag in die agtste maand, in die maand wat hy uit sy eie hart versin het, en vir die kinders van Israel ‘n fees ingestel en op die altaar geklim om offerrook te laat opgaan; asook Eseg 13:2: Mensekind, profeteer teen die profete van Israel wat profeteer, en sê aan die wat profete uit hulle eie hart is: Hoor die woord van die HERE!
Die Skrif leer ons nie dat ons eie verstand - ons eie hart (ook nie die hart van die gelowige) in staat is om die sekerheid te bied om te weet wat goed is op jou eie of saam met ander medegelowiges nie. Die mens het nie die vermoë om self uit te werk wat ‘n goeie daad is en wat ‘n slegte daad is nie. Die goeie werke wat die gelowige hoop om te doen spruit nie uit sy hart nie, maar spruit uit die Woord van God - naamlik die Woord van God wat die gelowige onderrig wat goed is en wat kwaad is - naamlik die Woord van God wat die gelowige nodig het om van te lewe. Die Skrif leer ons eerder dat ons met ons hele hart en ons hele verstand God moet liefhê en op Hom moet vertrou en Hom moet dien.
God vra van sy kinders gehoorsaamheid en nie hul eie goeddunke nie. God vra van sy kinders om met hulle hele hart sy goeie wil te soek, en nie die goeie te skep uit hulle eie harte nie.
Die vraag by surrogaat swangerskap, kloning, en kunsmatige bevrugting is dus nie of God dit uitdruklik verbied nie. Die vraag by hierdie dinge is dus eerder of God ons dit leer. Leer God dat daar ander partye binne die huweliksgrense mag wees as die man en vrou? Leer God ons dat vrugbaarheid sonder die huwelik bestaan? Leer God ons dat ongehude ouerskappe volgens sy wil van welbehae is? Selfs die sondelose swangerskap van Maria was met die opdrag aan Josef om Maria as vrou te neem: (Matt 1:24: En toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem.)
Indien God ons dit nie leer nie, kan ons in ons harte nie seker wees nie, dan kan ons dit nie uit geloof doen nie, en kan ons God nie daarmee eer nie (Vergelyk Sondag 33 en 35 HK). Die gelowige kan nie gehoorsaam wees aan God UIT sy hart nie. Die gelowige moet slegs gehoorsaam aan God wees MET sy hele hart.