|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
OPVOEDING EN ONDERWYSONONDERBROKE AANSLAG OP
CHRISTELIK-NASIONALE ONDERWYS
- DR PE VAN DER DUSSEN - BESTURENDE DIREKTEUR PRETORIA SE AKADEMIE VIR CVHO -
Mislukking van Asmal-bewind oor onderwys
President Mbeki het in April 2004 mev Naledi Pandor as minister van onderwys in die plek van prof Kader Asmal aangestel. Op 27 April skryf prof Jonatan Jansen van die Universiteit van Pretoria in Beeld ‘n artikel "Los al die beleide, beplan onderwys" waarin hy voorstel dat sy die sinnelose uitvaardiging van nuwe beleide moet staak en moet toesien dat dit wat reeds daar is, slaag. Jansen - ‘n ANC-ondersteuner (?) - erken daarmee dat die SAKP-ANC-beleid onder Asmal misluk het - as met beleid die diepte van onderwys en die gehalte van opleiding bedoel word.
Die mislukking moet aan die oorheersing van ideologisering oor opvoeding en onderwys toegeskryf word. Outcomes-based education (OBE) is ingevoer sonder om die onderwyskorps voldoende toe te rus. Onderwysers se werklas is sterk beswaar en vir behoorlike opvoeding was daar nie meer plek of tyd nie. Die gevolg was grootskaalse verwarring tussen die vereistes van opvoedende onderrig en die onomskrewenheid van OBE. Laasgenoemde het in die SAKP-ANC-raamwerk geen opvoedkundige doel nie, maar is op die vernietiging van die kind se innerlike, sy opvoeding tuis, en sy geloof en volksbewussyn gerig.
Verwerplikheid van Outcomes-based Education (OBE)
In sy wesensgrond is OBE vir ‘n gelowige ‘n gruwel en onvoorwaardelik verwerplik. Om gelowig te wees beteken om te weet waar jy vandaan kom en waarheen jy op weg is. Hierteenoor is die wesensbeginsel van OBE dat leerkrag en leerder hulle van gevestigde gedagtes moet losmaak en saam op ‘n ontdekkingstog vertrek sonder om te dink waar hulle vandaan kom en sonder om te dink waar hulle gaan eindig - ‘n reis van nêrens na nêrens. Hulle stap saam ‘n pad en neem waar en as hulle by ‘n wegdraaipad kom, besluit hulle of hulle moet voortgaan of moet wegdraai. So word die leerproses een onsekere besluitnemingsprong na die ander wat so gesê die leerkrag en die leerder tot nuwe ontdekkings aanvuur en daaruit tot nuwe denke. Van opvoeding en opleiding vanuit gevestigde en erkende norme, kennis, kundigheid en vaardigheid is daar geen sprake nie - dit is vir aanhangers van OBE uit die bose. En of die praktiese uitvoering van die wesensbeginsel aangepas word, verander niks daaraan dat dit nooit van die fondament losgemaak kan word nie. Hedendaagse sosialisme verskil immers hemelsbreed van die bolsjevisme van 1917, maar albei is stewig in die Marxistiese grondslae gewortel.
Kort voor sy verdwyning van die beleidmakende toneel het Asmal verklaar dat Suid-Afrika oor ‘n onderwysstelsel beskik wat nêrens elders voorkom nie. Daarin kan hy geredelik gelyk gegee word. Sover bekend is OBE in alle lande waar dit oorweeg is, baie vinnig van die tafel gevee of tot die wesenlike herstel van ortodokse onderwys afgewater. Dit geld ook vir Kanada wat in die jare-negentig as hoofraadgewer oor OBE van die SAKP-ANC-regime opgetree het. Geen ontwikkelde land het dit behou nie. Asmal het dus gelyk: Suid-Afrika se onderwysstelsel is uniek, maar ongelukkig nie ten goede nie.
Kort na mev Pandor se aanstelling het ‘n verslag verskyn waarvolgens talle kinders in die Wes-Kaap na vyf jaar skool nie kon lees, skryf of reken nie. In 2003 is skokkende druipsyfers vir graad 9-leerlinge bekendgemaak en is die onderrigmetodiek vir graad 10 tot 12 skielik na die ortodokse benadering teruggeswaai. Dit is maar twee gebeurtenisse wat die mislukking van die SAKP-ANC se onderwysbeleid tipeer wat onderrig en opvoeding ondergeskik aan ideologie stel. Dit is ‘n volslae mistasting. Onderwys in Rusland en Oos-Duitsland was sonder twyfel op die kommunistiese lewens- en wêreldbeskouing geskoei. Die prestasies van daardie lande toon nogtans dat opvoedings- en opleidingsvereistes voorop gestel en hoëvlakopleiding verskaf is. So is oortuigde maar terselfdertyd goed opgeleide kommuniste gekweek. Dit verskil hemelsbreed van die plaaslike benadering wat die ideologiese bo die opvoedings- en onderwysdoelwitte stel.
Pandor onderskryf SAKP-ANC se vyandskap teen Christendom en Afrikaner
Laat daar geen misverstand bestaan nie: Die SAKP-ANC se uitgangspunte en beleid bly onveranderd vyandig teenoor die Christendom en teenoor die Afrikaner. Minister Pandor is volgens berigte ‘n praktiserende Moslem en sou nie minister geword het as sy nie die kommunisties-geïnspireerde handves van die ANC onvoorwaardelik onderskryf nie. Die SAKP-ANC sien Afrikaans en Christelik-nasionaal as een en dieselfde saak wat uitgeroei moet word. Minister Pandor se begrotingsrede op 18 Junie 2004 - haar eerste samehangende en omvattende beleidsverklaring - bevestig dat sy oor Christelikheid en Afrikaans in die onderwys haar ten volle met die standpunt van die SAKP-ANC vereenselwig. (Die minister se uitsprake word hieronder skuins gedruk, kommentaar in gewone druk.
"Ons skenk ook aandag aan die onderrig van inheemse tale as vak in ons skole." Let op dat dit nie om onderrigtaal gaan nie, maar om taal as vak. Afrikaans word as inheemse taal op dieselfde vlak as Swart tale gereken. Dit is ‘n vyandige wanvoorstelling, aangesien Afrikaans anders as Swart tale ‘n wetenskaplike en letterkundige taal is op dieselfde vlak as die Europese tale is.
"Een van die doelwitte van ons taalbeleid is om die gebruik van huistaal as onderwysmedium in die eerste drie jaar van onderrig te verseker." ‘n Kind sal dus hoogstens tot sy agste of negende jaar in sy huistaal onderrig word. Let daarop dat die minister nie van moedertaal nie maar van huistaal praat.
"Hierdie doelwit is gegrond op die algemeen aanvaarde beginsel dat indien ‘n mens ‘n leerling se huistaal korrek aanwend, dit ‘n kragtige middel vir die ontwikkeling van grondslagkonsepte vir toekomstige onderrig kan wees." In hierdie sin is die angel van die SAKP-ANC se beleid opgesluit, naamlik die ideologiese indoktrinering van die jeug. Dit gaan vir minister Pandor dus nie om moedertaalonderrig om die kind se tuisopvoeding in vir hom bekende betekenisse voort te sit wat hy "aan moeder se knie" van kleins af geleer word nie. Sy wil net die bekende klanke van ‘n huistaal aanwend - misbruik - vir die ontwikkeling van "grondslagkonsepte", dit wil sê ‘n lewens- en wêreldbeskoulike raamwerk, waarop verdere onderrig gebou kan word. Hierdie raamwerk sal beslis nie Christelik en Christelik-nasionaal wees nie. Dink aan die uitspraak van die Kommunistiese leiers in Rusland in 1917: Gee ons een geslag kinders en ons vernietig die kerk!
"Ons moet egter ‘n balans handhaaf tussen die voordele wat die gebruik van inheemse tale as onderwysmedium in die grondslagfase vir onderwys inhou en die voordele wat vaardigheid in Engels vir die politiek en ekonomie inhou. Daarom het ons besluit om groter klem te lê op Engels as tweedetaalvak op alle vlakke van onderrig. Die doel wat ons hiermee wil bereik, is om te verseker dat leerlinge Engels as onderrigtaal kan gebruik in die jare na die eerste drie jaar van skoolgaan." Hier word verder van moedertaal wegbeweeg en word as doelwit gestel om kinders van hulle negende of tiende jaar af ten volle in Engels te laat onderrig. Met ander woorde, nadat die grondslagkonsepte in die eerste drie jaar deur middel van huistaal (nie moedertaal nie!) gelê is, word die kind vanaf sy vierde skooljaar volledig van sy taal en dus sy wese afgesny. Taal is baie meer as ‘n versameling klanke wat so georden word dat begrippe en gedagtes op verstaanbare wyse van mens tot mens oorgedra kan word. Taal is baie meer as ‘n kommunikasiemedium: Dit druk die wese van ‘n mens en van ‘n groep mense, van ‘n volk uit. So het Afrikaans uit Nederlands, Duits, Frans en ander Europese tale ontwikkel en druk dit die wese van Afrikaner-volkskap as kultuur-histories-Godsdienstige entiteit uit. Engels kom uit ‘n geheel ander kultuur-histories-Godsdienstige tradisie sodat verengelsing vir die Afrikaner ‘n verloëning van sy wese en lewe is. Dit is daarom begryplik dat hierdie uitlating van Pandor selfs in linkse "Afrikaanse" geledere ‘n fel debat ontketen het.
Die stelling dat "die voordele wat vaardigheid in Engels vir die politiek en ekonomie inhou" bring die weerstandsvraag na vore of alles dan aan Mammon se voete gelê moet word.
Huidige knelpunte
Terwyl hierdie beleidsuitsprake van groot belang is, moet daar ook aan die praktyk aandag gegee word. Die afgelope weke was daar minstens vyf belangrike berigte:
Die getal staatsbetaalde onderwywers gaan vanaf Januarie 2005 drasties verminder word aan sogenaamde Model C-skole wat intussen in semi-privaatskole oorgegaan het.
Kinders mag nou reeds op sesjarige ouderdom skool toe gaan.
Die sogenaamde Model C-skole het vanjaar nog maar net ‘n deel van die toegesegde subsidie ontvang en verkeer reeds in nood terwyl hulle vir meer beheerraadposte in 2005 voorsiening moet maak.
Skole sal verplig wees om sekere kinders van buite hulle gewone voedingsgebied op te neem.
Skoolbeheerliggame se bevoegdheid om taalbeleid te bepaal word wesenlik opgehef.
Daar moet op gelet word dat hierdie maatreëls veral Afrikaanse skole nadelig tref. Daar is nog heelwat Afrikaanse staatskole wat binne beperkinge ‘n Christelike karakter probeer behou. ‘n Aanslag op sulke skole moet dus noodwendig as ‘n aanslag op Christelikheid beskou word.
Word strydvaardig!
Uit al die voorgaande is dit duidelik dat gelowige ouers nie net niks van die SAKP-ANC-regime moet verwag nie, hulle moet selfs vir ‘n skerper aanslag in teorie en praktyk gereed maak. Die vraag is hoe weerbaar is ons, hoe strydlustig, en veral hoe strydvaardig om stryd te voer? Die toestand is wesenlik, dringend, ja selfs dodelik dringend, nie net vir nou nie, maar veral as daar ‘n opkomende geslag moet wees. Elke kerkraad, elke vereniging, elke organisasie wat enigsins betrokke is se aandag word vereis. Dit is laat in die nag, maar ons weet ook dat God in sy voorsienigheid die opkoms van die son elke dag op sy tyd bepaal. Daarom hoef ons nie te wankel nie, mits ons ons geloof in daadkrag omsit. Die tyd van weerstand het onherroeplik aangebreek - terwille van ons geloof, terwille van ons volk as geroepe draer van daardie geloof.