Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die Gebed vir die owerheid (2)

AKTUEEL: 11 September 2001      

SKRIFOORDENKING:
Die Here se saak is nie hopeloos - Openbaring 13:1-10

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks Ps 92

Aanbidding in Gees en Waarheid

Skrifgeloof en Wetenskap

Verdraaiing van feite en halwe waarhede (Kritiek)

Die Kerkorde van De Mist

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nog 'n interpreterende Bybel

Dr Isak Burger (AGS): 'n "Nuwe seisoen vir die kerk"

Ng kerk en AGS lede van die SARK

The Passion of the Christ - "Moenie gaan kyk nie!"

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Ononderbroke aanslag op Christelik-nasionale onderwys

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die Afrikaner en die Kerk

Globalisering:

PERSRUBRIEK: Die Bybel slegs goed vir 'n verskraalde stel beginsels?

"Versoening" - Dr Beyers Naudé

SARK se betrekkinge met regering en politiek

Nederlandse kerklike verwikkelinge

GESPREK MET LESERS: 

KOMMENTAAR: 
Kompas: "Kruger en Mandela"

MEDIESE ETIEK: 
Gehoorsaamheid uit eie hart?

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 5 September 2004

SKRIFOORDENKING

DIE HERE SE SAAK IS NIE HOPELOOS NIE!

Openbaring 13 : 1 - 10

-  DS DANIE SNYMAN  -  PRETORIA-MAGALIESKRUIN  -

"Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?

(()penbaring 13:4b)

Een van die groot gevare van ons tyd is die oorgee-denke – dat mense dink dat jy jou tyd en kragte verspil as jy jou teen die skynbaar onkeerbare stroom van die meerderheid verset. Dis egter nie die manier waarop God se ware kinders dink nie. So wys die Heilige Gees ons in hierdie Skrifgedeelte.

Die antichris en sy ryk

In Openbaring 12 en 13 word die onheilige drietal, wat hulle teen die heilige, drieënige God verset, aan ons voorgestel. Dis die draak, die dier uit die aarde en die dier uit die see. Die draak is natuurlik die duiwel self, Satan, wat God die Vader se werk probeer vernietig. Die dier uit die see is die groot antichristelike wêreldmag en –leier, die teenstander van die Koning van alle konings, Jesus Christus. Die dier uit die aarde is die valse godsdiens en sy groot leier, die valse profeet – die een wat die werk van die Heilige Gees teenstaan.

Die dier wat uit die "see" opkom, is die groot onchristelike en antichristelike wêreldmag wat uiteindelik uit al die politieke en ekonomiese woelinge tussen volke en nasies gaan ontwikkel. Hierdie wêreldmag gaan op ‘n stadium beheer oor alles en almal kry, oor elke stam en taal en volk en nasie (vs 7). En hierdie wêreldmag (vgl. 2 Tes 2:3-4; 1 Joh 2:18) gaan deur ‘n enkele leier beheer word, wat ‘n mens die antichris kan noem: een wat gaan maak asof hy die groot antwoord vir die mensdom is en wat vir homself goddelike eer gaan opeis.

Hierdie wêreldmag en sy leier, die antichris, word hier vir ons geskets as wreed (vs 2), magtig (vs 2), ‘n ryk en ‘n leier by wie sigbaar bonatuurlike kragte (dié van die duiwel) gaan werk (vs 13-14), wat God blatant gaan laster (vs 5) en wat doelbewus daarop uit gaan wees om die ware kerk te vernietig – hy gaan oorlog maak teen die gelowiges (vs 7).

Natuurlik is die strominge, wat hierdie ryk moontlik gaan maak, lankal aan die gang in hierdie wêreld (2 Tes 2:7; 1 Joh 4:3). Die duiwel is lankal besig om die filosofie en die wetenskap en die politiek en die ekonomie en die godsdienste van die wêreld te bewerk vir die koms van hierdie dier uit die see.

Die verkeerde reaksie van mense

Omdat die wêreld saggemaak gaan wees vir die koms van die antichris, gaan mense hom aanvaar. Om die waarheid te sê, hulle gaan met verwondering agter hom aanloop (vs 3) en hom aanbid (vs 4). Én hulle gaan alle verset teen hom as tydmors beskou! (vs 4b) Hulle gaan redeneer: wie kan met hierdie dier vergelyk word en wie kan teen hom oorlog voer? Hy’s dan so briljant, so dinamies? Hy moet die antwoord vir die sukkelende mensdom wees!

En daarom gaan hulle van hom sê wat eintlik net van God kan en mag gesê word: "Wie is aan hom gelyk?" Hierdie woorde is die woorde wat die Here se volk vir Hom gesing het toe Hy hulle deur die Rooisee gelei het en die Egip-tenare daarin verdrink het: "o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U…? (Ex 15:11) En dis woorde wat die Here se kerk vir Hom sing, bv. in Ps 113:5: "Wie is soos die HERE onse God…?" En dis woorde wat die Here van homself sê: "By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees?" (Jes 40:25) Maar mense gaan dit van die antichris sê.

Én hulle gaan ook sê: "Wie kan teen hom oorlog voer?" Met ander woorde, wie gaan iets teen hom regkry? Dit gaan jou niks help om jou teen hom te verset nie, hy’s te sterk; hy’s onoorwinlik; ons gaan hom nie keer nie!

En met hierdie houding en met hierdie argumente – met hierdie oorgee-mentaliteit, want dis wat dit is – gaan die meeste mense hulle aan die antichris onderwerp, gaan selfs baie van die wat ons as kerke en as Christene aansien, ophou om van Jesus Christus te getuig, ophou stry vir die koningskap van God, ophou probeer om die Here se opdragte oral in die lewe te gehoorsaam. Met hierdie oorgee-mentaliteit gaan al hoe meer mense die moeilike pad (om deel van ‘n minderheid te wees) los en die maklike pad (om deel van die groot meerderheid in die wêreld te wees) kies. Hulle gaan maar in die stroom saamdryf en dink en maak soos almal dink en maak – soos wat die antichris sê almal moet dink en maak! Met hierdie oorgee-mentaliteit gaan mense hulle Bybelse beginsels prysgee ter wille van die voordele van hierdie tydelik-suksesvolle ryk en hulle rug op die Here en op Sy Woord en op Sy kerk draai, wat in elk geval deur die propagandaveldtogte van die antichris en sy ryk as uitgedien en outyds en kragteloos en pateties voorgestel sal word – as ‘n misdaad teen die mensdom!

En almal gaan dit doen, behalwe die ware kinders van die Here. "En al die bewoners van die aarde sal hom aan-bid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie." (vs 8) Die mense wie se name in die boek van die Lam staan, is die mense wat deur die Heilige Gees tot die geloof gebring is dat die Lam, Jesus Christus, vir hul sondes geoffer is aan die kruis, en vir wie dit belangrik geword het om te leef soos wat hulle Koning, Jesus Christus, wil hê en om daarvoor te werk dat sy koningskap oral in die wêreld en in alle fasette van die menslike bestaan, erken en gehoorsaam sal word. Híérdie mense het nie hierdie oorgee-houding nie maar bly aan Jesus getrou.

En vandag?

Die antichris is nog nie hier nie, maar die gees (= die manier van dink) van die antichris kry ons op allerhande maniere in die wêreld. Ons kry dit byvoorbeeld as ‘n gees wat die ware godsdiens afkraak, wat Bybelse waarhede verdag maak, wat met die Christelike lewenswyse spot en wat dinge wat verkeerd is, goedpraat en laat floreer in die samelewing.

En nou kry ons ook al by baie mense in ons tyd iets van dit wat in die tyd van die antichris op groot skaal gaan gebeur: dat mense voel dat dit nie meer gaan help om hierdie dinge te probeer keer nie – jy gaan tog nie teen hierdie groot stroom kan wen nie! En daarom is daar selfs verbondsmense, wat al hoe meer begin saamsing in die koor van kritiek teen die Bybel en teen Bybelgetroue kerke. En dit gebeur al hoe meer dat die propageerders van hierdie onbybelse dinge bewonder en vereer word as die voorste denkers van ons tyd!

Maar ons mag nooit oorgee, ook nie in ons tyd nie. Ons moet getrou die Here se pad bly loop, al sou ons net ‘n handjievol wees en deel van ‘n klein kerkgemeenskappie. Want – onthou dit – die Here se saak is nie hopeloos nie!

Die antichris is nie die onvergelyklike nie. Voor die Here Jesus se mag en heerlikheid sal sy skynbare mag en briljantheid verdwyn net soos wat ‘n kersie se lig verdwyn as die son opkom!

Die antichris is nie onoorwinlik nie. Wanneer die Here Jesus weer kom met mag en majesteit, sal Hy die antichris met die asem van sy mond  -  met die kleinste bietjie van sy krag  -  vernietig (2 Tess 2 : 8).

Ons Koning is op die troon! Hy's die finale Oorwinnaar! Hy's die Een met wie niemand vergelyk kan word nie! Hy's die Een teen Wie niemand die oorlog kan wen nie! Ons moenie eers aan oorgee dink nie!