|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
PersrubriekDIE BYBEL SLEGS GOED VIR 'N VERSKRAALDE STEL RELIGIEUSE BEGINSELS?
KRITIEK VAN DR STEPHAN JOUBERT (NG GEMEENTE MORELETAPARK) IN: BEELD, 30 JULIE 2004
Te midde van die rimpelings wat die Nuwe Hervormers veroorsaak, word die godsdienstige alternatiewe wat hulle op die tafel plaas nie aldag goed onder oë geneem deur mense wat dié teologiese toutrekkery gadeslaan nie.
Eerstens is dit duidelik die Nuwe Hervormers wil steeds in die openbare godsdienstige arena funksioneer. Hulle wil kennelik nie as die een of ander filosofiese denkrigting bekendstaan nie. Dit blyk uit hul publikasies, asook met die pas gestigte Nuwe Hervormingnetwerk.
Tweedens word die Nuwe Hervormers se basiese vertrekpunte geskoei op hul erkenning van die goddelike as 'n misterie, asook op hul pogings om huidige wêreldbeeld(e) en kontekste ernstig te bejeën as die sleutels om die Bybel te verstaan.
Terloops, dit lyk nie asof hulle aldag met mekaar eens is oor hul eie godbeskouings nie.
Uit publikasies van die Nuwe Hervormers blyk dit dat "god" vir som-mige lank nie meer 'n bonatuurlike wese is wat apart van die werklikheid bestaan nie, maar eerder 'n komponent of eienskap daarvan.
Kortom is dit 'n vorm van panteïsme waarin "god" 'n soort nie-materiële dimensie van die werklikheid beslaan. Aan die ander kant aanvaar prof Spangenberg God kennelik steeds as 'n persoonlike wese.
Net 'n Joodse profeet?
Derdens bevraagteken die Nuwe Hervormers die historisiteit van bo-natuurlike gebeure waarna die Bybel verwys. Wonderwerke en bo-aardse Goddelike ingrype word wegverklaar as synde te behoort tot antieke wêreldbeelde wat uit pas is met moderne sienings van die werklikheid.
In 'n artikel oor die drie-eenheid en in onlangse stellings in Beeld (19 Julie) meen Spangenberg byvoorbeeld Jesus was net 'n Joodse profeet wat God se koninkryk verkondig het in die politieke arena van sy dag. Jesus se liggaamlike opstanding en hemelvaart is volgens hom nie historiese realiteite nie.
Vierdens word 'n nuwe betekenis aan die term "Christen" in die kader van die Nuwe Hervormers geheg. Volgens Spangenberg kwalifiseer diegene as Christene wat identifiseer met Jesus se etiese leringe as 'n Geesvervulde profeet in en deur wie die God van die liefde praat, al verwerp hulle alle historiese aansprake oor sy wonders, sy opstanding uit die dood en sy hemelvaart.
Die Nuwe Hervormers se ideaal om 'n geloofswêreld te skep wat van alle Goddelike ingrype in die geskiedenis gestroop is, maak dat die slagyster van die modernisme nogal sterk in hul rigting wink.
Dit bly 'n vraag of hulle regtig so oop vir die hedendaagse sogenaamde post-modernistiese wêreldbeelde is as wat hulle wil voorgee.
Maar 'n indringender vraag is watter godsdienstige nut dit sou hê om saam met hulle te glo in 'n vaag omlynde goddelike wese wat omtrent heeltemal van sy Godheid gestroop is. Laat hul eie invalshoek tot die Bybel hulle uiteindelik nie maar net opgeskeep sit met 'n uiters verskraalde stel religieuse beginsels nie?
Die Nuwe Hervormers se gebruik van die term "Christen" is daarom baie vreemd. Indien Jesus volgens hulle hoogstens net 'n profetiese figuur was deur wie God lank gelede gepraat het (soos 'n paar ander gods-dienste ook beweer), maak dit tog nie veel sin om Hom op 'n unieke wyse bo ander profete uit te sonder as die groot profetiese stem van God nie.
Het God, volgens hulle eie soort redenasies, dan nie op ewe gesaghebbende wyse deur ander profetiese figure vanuit die Bybelse en na-Bybelse tyd gespreek nie? Waarom wil hulle dan die term Christen as 'n identiteitsmerker vir hulself gebruik?
n Duur prys
'n Pluspunt van die openbare godsdienstige debat oor die Nuwe Hervormers is dat dit kerkmense opnuut dwing om te besin oor hoekom hulle nog deel van die kerk wil wees.
Immers bestaan die kerk, soos dit oor eeue heen in verskillende kontekste en kulture gestalte gekry het, uit diegene wat die basiese geloofsbelydenis met hul woorde en dade onderskryf dat Jesus die unieke bekendmaker van God is wat dit deur sy fisieke dood én opstanding bevestig het.
Die kerk moet uiteraard bereid wees om saam te leef met die wete dat dié boodskap van die kruis 'n aanstoot vir sommiges is, soos die apostel Paulus al in die jaar 54 ná Christus in 1 Korintiërs 1 skryf.
Dié vreemde boodskap is nie nou skielik vir die eerste keer 'n struikelblok nie. Al van die vroegste tye af moes Christene duur betaal vir hul geloof in dié God wat deur die skandalon - oftewel die aanstoot van die kruis van Christus - met die wêreld praat.
Miskien het te veel kerklikes oor die eeue heen dié skerp kante van die kruisboodskap stomp gevyl. Miskien wys baie vingers oor die onbetaalde rekenings van die kerk terug na ons as dubbelslagtige Christene .