|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
"VERSOENING"
Die aanpassings aan verandering van omstandighede gaan gepaard met herroeping van besluite wat in die verlede op verantwoordelike wyse, vanweë dwingende noodsaak geneem is. Dit betref ook die gewraakte "versoening" rakende dr Beyers Naudé, wat in 'n redaksionele artikel in BEELD, Dinsdag 20 Junie 2004, soos volg beskryf word:
"Nog 'n bousteen in die Suid-Afrikaanse versoeningsproses is gelê toe die ATKV die naweek dr Beyers Naudé vereer het vir sy lewenslange bydrae tot die totstandkoming van 'n demokrasie in Suid-Afrika.
"Daar was 'n tyd toe Naudé weens sy aktiewe teenkanting teen die destydse apartheidsregering in huisarres geplaas is. Hy is toe in Afrikaanse kringe as 'verloopte vyand van die volk' beskou, teenoor kultuurorganisasies soos die ATKV, wat die 'belange van die volk' bevorder het. Soveel het sedertdien verander dat Naudé reeds terugontvang is deur die NG Kerk, waarvan hy baie jare gelede, vóór sy 'breuk', moderator was.
"Dit is nou opgevolg deur wat beskou kan word as 'n kulturele versoenings-gebaar. Hy is by implikasie erken as 'n waardevolle lid van die Afrikaanse gemeenskap, deur 'n organisasie wat self besonder goed by die veranderingsproses aangepas en 'n waardevolle kulturele rol bly speel het.
"Naudé se uitgesproke vertroue in 'n Afrikaanse toekoms is 'n riem onder die hart", aldus die opinie in Beeld.