|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
KERKLIKE JOERNAALSUID-AFRIKAANSE RAAD VAN KERKE (SARK)
SE BETREKKINGE MET REGERING EN POLITIEK
Die Kerkpad staan vas by die beginsel dat die kerk hom nie amptelik deur middel van sy vergaderings moet betrek by sake wat nie tot sy bevoegdheid behoort nie. Die (Dordtse) Kerkorde bepaal in artikel 30: "Kerklike vergaderings moet alleen kerklike sake en dit op kerklike wyse behandel."
Die NG en NH Kerke is sedert die veranderinge wat adv JA de Mist, onder die gesag van die Bataafse Republiek, met die liberale kerkorde in Julie 1804 ingevoer het nie meer aan hierdie beginsel gebind nie, terwyl die Gereformeerde Kerke, met hul afskeidings van die NH Kerk in Transvaal en die NG Kerk in die Vrystaat, weer na die die Dordtse reëls van kerkregering teruggekeer het.
Gevolglik lees ons nou van die hand van Ben du Toit (Parlementêre afdeling NG Kerk), in BEELD, 26 Julie 2004, dat "die Kerk 'n groot taak het omdat SA nie sterk opposisie het nie". Hy skryf verder:
"Dit behoort in alle opsigte verwelkom te word dat die NG Kerk weer volle lidmaatskap van die SARK het. Kerke kan mekaar op belangrike maniere reghelp. Die integriteit van die Evangelie is op die spel.
Die SARK het in die verlede 'n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van Suid-Afrika tot 'n demokrasie. Die standpunte en uitsprake van die SARK die afgelope paar jaar toon dat dié organisasie alles behalwe 'n naprater van die regering is. Hy het al dikwels openlik en duidelik kritiese standpunte teenoor die owerheid ingeneem.
Terwyl die afstand (en onderskeid) tussen kerk en staat gehandhaaf behoort te word, mag dit nie lei tot isolasie en stilte aan die kant van die kerk nie.
Die kerk behoort sy verantwoordelikheid as 'n kritiese, maar konstruktiewe vennoot in die skepping van 'n regverdige gemeenskap ernstig op te neem.
Die manier waarop die demokrasie die afgelope tien jaar in ons land ontwikkel het (daar het nie werklik 'n sterk opposisie na vore gekom nie) beteken dat 'n al hoe groter verantwoordelikheid in dié verband op die nie-politieke sektore soos arbeid, sake en godsdiens rus om 'n krities konstruktiewe rol te speel.
Die parlementêre afdeling van die NG Kerk werk reeds die afgelope drie jaar met die afdelings van die SARK en die Katolieke Biskopperaad saam in die wetskrywende proses van die nasionale parlement. Voorleggings oor 'n breë spektrum van wette wat op die kerk betrekking het, is reeds gedoen. Die erns waarmee die kerk se insette ontvang word, is altyd opmerklik.
Lidmaatskap van die SARK sal nie tot gevolg hê dat daar vanuit daardie geledere groter druk op die herenigingsproses van die NG Kerk-familie geplaas word nie - bloot omdat hierdie kerkfamilie self die noodsaaklikheid daarvan as hoogste prioriteit voor oë het. Die SARK respekteer dit."