|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
Nederlandse kerklike verwikkelinge insake die vrou in die kerklike ampsbediening
Nandor Sarkady, ouderling van die gemeente (GKSA) Innesdal, skryf hieroor soos volg:
Die uitgawe van "De Wekker", orgaan van De Christelijke Gereformeerde Kerken in Nederland (CGK) van 9 Julie 2004, het iets nuuswaardig onder my aandag gebring. Prof JW Maris (in die GKSA welbekend) spreek as voorsitter deputate "Eenheid van de Gereformeerde Belijders" sy bedenkinge uit oor 'n besluit van die Nederlands Gereformeerde Kerk (NGK).
Die Landelike Vergadering (sinode) van hierdie kerke het op 25 Junie besluit om vrouens tot die amp van ouderling toe te laat, maar nie tot die amp van predikant nie. Die diakenamp in die NGK is in 1995 oopgestel vir vroue. Die studierapport Vrouwelijke Ouderlingen en Predikanten se naam verwys reeds na hulle advies. Dit is egter net halfpad aanvaar, slegs vir ouderlinge.
Prof Maris vra tereg of die besluit wat so van halte na halte geneem word 'n praktiese of beginsel besluit is. Hierop kry hy ook geen duidelike helderheid nie. Dit lyk egter meer praktyk gerig as beginselgedrewe.
Die Landelike Vergadering oordeel op Bybelse gronde dat die oopstelling van die ampte mag maar nie moet nie. Daarom mag dit maar. Dan is dit tog vreemd dat die kansels steeds geslote bly, of nie? Die NGK werk ook met 'n ratifikasiesisteem, wat vreemd is aan die kerkreg van die Christelijke Gereformeerde Kerk.
Die CGK het groot moeite met hierdie besluit, juis omdat 'n omvattende rapport "Vrouw en ambt", 1998, in die CGK uitgespreek het dat alle ampte vir die susters van die gemeentes gesluit bly. Daarmee saam is ook verwys na die onderskeid tussen oopstelling van sommige ampte, soos nou in die NGK en die GKSA, dat dit nie verantwoordbaar is nie.
Prof Maris skryf dat die besluit van die NGK gegrond is in hul hermeneutiese verstaan van die betrokke Skrifgedeeltes. Hy vra dan ook of die teksgedeeltes werklik in hulle bedoeling oopgaan, of word dit eintlik ter syde gestel asof dit nie betrekking het nie. Hy vrees dat die maatskaplike druk insake dié besluit 'n rol gespeel het.
Op sommige plekke in Nederland is daar baie nou samewerkingsverbande tussen enkele NGK en CGK gemeentes. Hierdie band kom nou onder geweldige spanning want elke kerkverband verwag dat aan sy besluite uitvoering gegee sal word.
En hoe raak hierdie saak die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika? Deeglik, want ons het met albei hierdie kerkverbande engere korrespondensie. Dit beteken, onder andere, onderlinge uitruiling en aanvaarding van attestasies. Wat gaan die Deputate Ekumenisiteit: (buiteland) hiermee maak?
Ek hoop van harte dat die deputate en kerkverband erns met die saak sal maak. Neem ons wel genoeg kennis van die gebeure met diegene met wie ons korrespondeer? Gesien die verdeeldheid ten aansien van die saak in die GKSA self, word dit soveel te meer dringend. Het dit nie hoog tyd geword dat die verantwoordelikheid van die engere korrespondensie ook behels om 'n waarskuwende stem te laat hoor, dat dit nou tot sy reg moet kom nie? Of het die besluit van die GKSA in die jare tagtig om korrespondensie met die Nederlandse Gereformeerde Kerke aan te gaan, ondanks aangevoerde bedenkinge van sekere predikante, nou die vrugte afgewerp wat hulle gevrees en waarvoor hulle gewaarsku het?