|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
Redaksioneel
Dis 'n stap vorentoe wat geneem is om ons blad 'n beter verskyningsvorm te verskaf. As u hierdie uitgawe ter hand neem om te lees, sal u opmerk dat die kwaliteit drukwerk verbeter het. Toe ons Die Kerkpad aanvanklik vanaf die grond, met niks meer as persoonlike insette, sowel materieel as finansieel, in Maart 1997 begin het, was die goedkoopste proses in 'n klein oplaag om dit te laat kopieerdruk, soos wat dit die afgelope jare deur Jotha Drukkers, Johannes van Dyk, na die beste van sy vermoë en getroue dienslewering behartig is. 'n Woord van hartlike bedanking vir die aangename en altyd beskikbare samewerking en waar nodig tegniese advisering, is hier op sy plek. Baie dankie Johannes!
Helaas was die kwaliteit drukwerk uiteraard as gevolg van ontoereikende moontlikhede van 'n hoë spoed kopieerder nie altyd na wense nie. Baie dankie vir die lesers van ons blad wat hulle nie daaraan gesteur het nie en die inhoud belangriker geag het as die drukwerk se gebreke wat partykeer irriterend was.
Van nou-af gaan ons gebruik maak van digitale drukwerk wat meer gelykmatig is omdat die setting elektronies van die rekenaar na die drukpers oorgedra word. Dit word hanteer deur Printburo met as besturende direkteur Sippe Drijfhout. Die posadres en telefoonnommer is onderaan (links) op bladsy 2 vermeld. Ons sien uit na die kwaliteits- en bykomende moontlikhede vir verbetering van ons blad, wat dit ten goede sal kom. Ons gaan egter voort om self die kopie en uitleg daarvan te versorg en te hanteer.
Vir hierdie en die volgende (November) uitgawe van hierdie jaar sal dit geen bykomende finansiële laste verg nie, maar ons sal waarskynlik vir die volgende jaargang(e) wel 'n verhoging van koste moet realiseer. Nie alleen as gevolg van hierdie aanpassing nie, maar ook weens onvermydelike algemene kosteverhogings.