|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 9 No 4 Julie 2005
Hoofartikel
DIE EWIGE BEGINSELS VAN GOD SE WOORD
Die bostaande begrip is in die Afrikaner se lewe woordeliks ingedra deur Staatspresident SJP Kruger, in die beantwoording van versoeke om hom weer verkiesbaar te stel as Staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek, Januarie 1898. Meer as 10 000 naamtekeninge het op die lys van dié versoeke verskyn. "Zooals ik u vroeger heb gezegd, belyd ik ook op staatkundig terrein de eeuwige beginselen van Gods Woord, hetwelk ons leert de leuze 'recht en gerechtigheid voor allen' te doen strekken tot grondslag van het Staatsgebou. De behartiging der lessen van dat Woord doet ons onder alle moeilikheden zeker gaan." Om Kruger innig te verstaan, is dit nodig om hom te beskou teen die agtergrond van sy tyd. Hy het feitlik nooit vermeld waar en hoe hy aan die een of ander sienswyse kom nie, behalwe wanneer hy dit regstreeks uit die Bybel gekry het. Sy onherroeplike verbintenis aan die Bybel word gevind in die weergawes van sy talryke toesprake en in die notule van die twee Volksrade en die Uitvoerende Raad van die Zuid-Afrikaansche Republiek. "Gods Woord is dan ook die rigsnoer in alles. Om dit te kan volg moet die volk met die Bybel vertroud wees", aldus Paul Kruger in die Eerste Volksraad 1889, art 153. In hierdie artikel rig ons die aandag op die begrip van die ewige beginsels in die konteks van die hedendaagse bestaan.
Soos wat Paul Kruger die begrip "ewige beginsels van God se Woord" hanteer het, is dit gedoen in die besef van afhanklikheid van sy Skepper-God wat homself geopenbaar het in die Bybel. Hy het homself aan dié God veantwoordelik gehou vir die bestuur van die land sowel as vir die bewaring van die regte en vryhede van die volk en die land se onafhanklikheid . Dit verklaar dan ook waarom hy hom telkens op die hulp van God beroep en hom daaraan toevertrou het, en dat hy in sy toeprake asook in persoonlike omgang, aanhoudend aangemoedig, ja byna gesmeek het om God en sy gebod voor oë te hou en ywerig na te leef. Die vraag is egter hoe kom hy daartoe om dit so te stel: die ewige beginsels van God se Woord? Was dit oorspronklik uit sy mond of was dit 'n aksioma, 'n onbetwisbare grondstelling, wat op die terreine van die staatslewe en politiek in sy tyd gangbaar was, wat "Oom Paul" gemotiveer en aanvaar het vir die vertolking van sy denke?
Ons vind dié bewoording geskiedkundig die eerste keer gepubliseer in 'n staatkundige geskrif van dr Abraham Kuyper in Nederland, Ons Program. Dit het in Januarie 1878 in sy blad, De Standaard, verskyn en is 1879, met talle herdrukke, in boekvorm beskikbaar gestel. Daarin het Kuyper hom aanverwant aan Groen van Prinster bewys. Laasgenoemde het as geskiedskrywer, kabinetsekretaris en, later, argivaris van die Huis-Argief van Oranje in hoë betrekkings gedien. Hy het die gees van die Franse Rewolusie (wat in 1848 oor Frankryk en Europa losgebreek het) onderken en aan die hand van die Bybel ontleed en bestry. Bekend is sy leuse "Die Evangelie teenoor die Rewolusie". Sy alom bekende werk Ongeloof en Revolutie het vir die eerste keer verskyn in Augustus 1847. Groen en Kuyper ná hom, het albei die sataniese strewe in die rewolusie raakgesien en die uiteenlopende grondbeginsels
van die Christelike geloof en dié van die Rewolusie as die antitese, as teenoor mekaar staande prinsipiële oortuigings, getipeer en beskryf."Met Rewolusie bedoel ek nie een van die talryke gebeurtenisse, waardeur die vervanging van die openbare gesag te weeg gebring word nie; nie net die rewolusiestorm wat in Frankryk gewoed het nie; maar die omkering van denkwyse en gesindheid, wat in die totaal van die Christenheid sigbaar raak.
"Met rewolutie-begrippe het ek die oog op de grondstellings van vryheid, gelykheid, volksoewereiniteit, maatskaplike verdrag en morele vernuwing, wat as die hoekstene van staatsreg en staatsgebou vereer word. ... Die Rewolusie het begin met die verklaring van die regte van die mens (menseregte!), maar sal eers 'n einde kry as die regte van God verklaar word". Dit is die woorde waarmee Groen van Prinsterer die Rewolusie tipeer. In 'n ander van sy geskrifte skryf hy: "Men spreekt vaak van de punten van overeenkomst tussen die Revolutie en de Reformatie. ... De revolutie gaat uit van de soewereiniteit van den mens, de Reformatie van de souvereiniteit van God. De een laat de rede oordelen over de openbaring, de ander onderwerpt de rede aan die geopenbaarde waarheden. ... De een maakt de maatschappelijke verbanden en zelfs de familieverbanden los, de ander maakt ze hechter en heiligt ze ...".Dr Abraham Kuyper is op dié selfde golflengte as hy stel: "Van jou beginsels kan jy dan slegs 'n program gee, as die beginsels van ander teenoor joune gestel word. ... Vir 'n program van beginsels moet vereers 'n moedergedagte, 'n grondbegrip, 'n worteldenkbeeld wees wat ooglopend verskil van die worteldenkbeeld waaruit die ander lewe. ... òf in die mens òf in God moet die uitgangspunt lê, 'n derde moontlikheid is nie denkbaar nie. ... deur die besondere, bonatuurlike openbaring van God se Woord is op belangrike wyse, óók wat die burgerlike lewe betref, lig oor die beginsels versprei; en daarom is dit ons roeping om ook op staatkundige terrein die ewige beginsels van dié Godswoord te bely".
In een van sy toesprake verwys Kuyper na Groen as hy sê: "Die rewolusie te Parys het metterdaad geblyk dat dit nie maar 'n wisseling van regeringsvorm was nie, maar 'n wisseling van stelsel, van politiek sisteem, van algemene menslike teorie. Op die plek van die erediens van die hoë God, het met die Humanisme die erediens van die mens ingetree. Die bestemming van die mens is van die hemel na die aarde verlê. Om die majesteit van die Rede te huldig is die Skrif uiteengerafel en God se Woord smadelik verwerp. Die Kerklike instituut is misbruik as instrument om die geloof te ondermyn; om dit daarna te verwoes. Die volkskool is ingespan om die opgroeiende geslag te vervreem van die vroomheid van die voorgeslag. Die hoërskole is herskep in instellings waar, deur middel van die Darwinisme (evolusieleer), die geestelike adel van die mense aangerand word met die verloëning van die skepping na Gods beeld. ... Slegs één ding staan onherroeplik by u vas: Ge moogt niet met hen loopen, noch met hen samenspannen. En ge moogt ook het vaderland niet aan hen overlaten. Veeleer moet al wie Christus liefheeft en den Christus uit de hemelen verwacht, zich met alle oprechte belijders in den lande hartelijk vereenigen om hun raad te wederstaan en het vaderland aan hun verderfelijken invloed te onttrekken. En zulks, - dit belijdt ge immers met mij? - nooit door kracht noch door geweld, maar altoos in den wettige weg, alleen gedreven door den Geest des Heeren".
Staatspresident Kruger het duidelik geestelike verwantskap met die oortuigings van Groen en Kuyper openbaar. In die Inleiding van: President Kruger aan die Woord (Outeur JS du Plessis - 1952. Bloemfontein: Sacum) beskryf prof dr DW Kruger dit soos volg: "In alles is dit duidelik dat mens hier met 'n merkwaardige verskynsel in ons staatslewe te doen het: 'n leier wat in al sy doen en late openlik en altyd die soewereine leiding van God almagtig erken, steeds Sy raad en hulp soek, en by die oplossing van praktiese probleme in die eerste plek die Skrif raadpleeg. Paul Kruger word dan ook tereg beskou as die gelowige staatsman en by uitstek die draer van definitiewe fundamentele Calvinistiese staatsopvattinge wat deur lange geslagte aan die Boerevolk van Suid-Afrika oorhandig is, nie soseer by wyse van die geskrewe woord nie as deur mondelinge tradisie en huislike opvoeding. By hom is dit nie die resultaat van spekulatiewe denke en emosionele opwelling nie,
maar werklikhede van die lewe wat hy sonder meer as 't ware instinktief aanvaar. Daardeur is sy Calvinisme miskien dieper gewortel as dikwels met ander die geval is. Dit was die krag wat hom dwarsdeur sy lewe gedra het in die stryd teen alle magte wat die bestaan van sy volk bedreig het. Dit is dieselfde geloofsvertroue wat hom in die donkerste nag van 1901 nog hoopvol laat uitsien het na die sekere toekoms van die Afrikanernasie wat deur God daargestel is ..., dieselfde geloof wat hom met sterwensoog laat profeteer het van die heropbou van die nasie uit ondergang en vernedering.""Hoe president Kruger in alle opsigte gesteun het op wat sy Bybel - die Statebybel - hom geleer het, blyk duidelik uit al sy geskrifte en toesprake. Feitlik vir elke saak waarmee hy te doen gehad het, het hy tekste uit die Bybel aangehaal, die op die bestaande tye toegepas, en daarvolgens die beleid vir die toekoms vasgestel. ...", aldus JS du Plessis in bogenoemde werk.
"De godsdienst, het fondament van den Staat" is 'n grondstelling by Kruger. "Gy maakt gewag van mijn gezonde Christelijke beginselen; het verblydt mij dat uit het volk zelf zulk een stem komt", antwoord hy in 1882 op rekwisisies om hom verkiesbaar te stel as president, en verder: "Onze Republiek is geboren en herboren, en onder alle bezwaren en moeilijkhede staande gehouden, ja ons volk
is wat het is, onder zichtbare leiding van een Hooger Hand, gelijk op het merkbaarst gebleken is in onzen jongsten worstelstryd voor recht en vrijheid. Daarom is het de heilige plicht van de bevolking des lands, Godes Naam te blijven eeren, door zich naar Zijn Woord te gedragen", FP Smit, in: Die Staatsopvattinge van Paul Kruger. 1951. Pretoria: Van Schaik.Vandag se omstandighede verwys ondubbelsinnig na dié van die Franse Rewolusie in die omverwerping van die historiese staatsvorme wat ons gehad het. Dit is 'n totaal ander gees wat hierin werksaam is. Dis die gees van die antichris wat alles opeis vir die hoogheilige staat, en waarin geen erkenning aan die hoogheilige Skepper van hemel en aarde verleen word nie. Weer staan ons voor teenoor mekaar gestelde lewensoortuigings en politieke strewes. Dit is die grondbegrippe, die ewige beginsels van God se Woord teenoor die mensgerigte, filosofiese ideale en doelstellings van die liberalisme en kommunisme en hulle oorheersing op die terreine van die staat en samelewing.
Laat ons, in lewensoortuiging ooreenstemmend met Groen, Kuyper en Paul Kruger die banier oprig en hand-haaf, dat ons óók vir die staatkundige, die sosiaal maatskaplike bestaan, die ewige beginsels van God se Woord bely; ja, meer nog, nie net bely nie, maar dit wil uitleef in die krag en met die bystand van die Here.