Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
AKTUEEL
'N LEEF- EN DENKWęRELD WAT AL MEER MATERIALISTIES WORD
- NUUSKOMMENTAAR RADIO PRETORIA, VRYDAG 18 NOVEMBER 2000 -
Dit was in November 1873 dat Pres Thomas Burgers 'n proklamasie "met advies en konsent" van die Uitvoerende Raad van die ou ZAR, uitgevaardig het. Daarin het hy alle dobbelary in die land, veral in die Oos-Transvaalse goud-velde, verbied. Daardie proklamasie het 'n bepaalde tradisie van die Boerevolk verwoord en bevestig. Die weersin teen dobbelary, kansspele, loterye en dergelike het voortgekom uit die Afrikaner se Christelik-nasionale lewens- en węreldbeskouing, omdat die volk 'n hoër waarde geheg het aan gehoorsaamheid aan die Woord van God as aan die begeertes van die mens. En omdat die Woord dobbelary afwys, was so 'n verbod op dobbelary en ander kansspele normaal en vir almal aanvaarbaar.Baie het van daardie dae af verander. Wat egter nie verander het nie, is die mens se ingebore nuk om liewer sy eie kop te volg as om God se gebod te gehoorsaam. Miskien hang dit ook saam met die feit dat die geleerde Afrikaanse Bybelwetenskaplikes deesdae die werklikheid verwerp dat die Bybel die Woord van God is. Volgens hulle is die Bybel glo maar 'n boek wat verskillende mense se opvattings oor God beskrywe. Daarom kan niks in die Bybel meer gesaghebbend of bindend vir die mens wees nie. Elkeen moet glo maar self sy eie heil uitwerk.
Miskien daarom staan daar elke Saterdag lang toue mense wat kaartjies wil koop vir die lotery. En hoe groter die loteryprys hoe langer die ry mense. Die kans om sommer eensklaps 'n miljoenęr te word, is skynbaar vir die meeste mense onweerstaanbaar.
Dit is tekenend van 'n leef- en dinkwęreld wat al meer materialisties word. Dit is 'n węreld waar almal spook en spartel om maar net méér te besit, méér te verdien, méér te kan uitgee as die medemens. Werk is daar om geld te verdien om aan die eie-ek se begeertes te voldoen. In daardie gejaag na geld en goed, raak God en naaste vergete. So gesien is die lang toue loterykaartjiekopers op 'n Saterdagmôre 'n simptoom van 'n gemeenskap wat nie die geloof en die vertroue het om te bid : "Gee ons vandag ons daaglikse brood" nie. En as die Bybelwetenskaplikes probeer om die mense wys te maak dat daar nie so iets soos 'n God of 'n hemel is nie, dan word die lotery skynbaar die enigste toevlugsoord. Die hoop op sukses in die kansspel, kom in die plek van die geloof in God se Vadersorg.
Dit is ook 'n simptoom van wat die Afrikaner in 1994 agteloos prysgegee het. Die eie, Afrikaner-leefwęreld waar die Boere-Afrikaner volgens sy eie Christelik-nasionale opvattings en uitgangspunte kon leef en bestaan, is prysgegee. Nou-se-dae moet hy aanpas by 'n multi-kulturele, Engelspratende leefwęreld. Nou is die volksvreemde die bepalende.
In dié Afrikaner-vyandige leefwęreld kom die vraag baie sterk na vore of die Afrikaner nog homself wil wees en bly. Soms lyk dit of die meerderheid van die Afrikaners die pad van die minste weerstand loop en aanhou aanpas en weggee totdat, uiteindelik, van die Boere-Afrikaner se eiesoortigheid en andersheid niks oor is nie. Die vraag in ons dae is: het ons volk 'n roeping, 'n taak, 'n opdrag in Afrika? Die vrae word op die spits gedryf deur 'n saak soos dobbelary of 'n lotery wat indruis teen die aanvaarde volkswaardes.
In die vorige eeu het die vaders-van-die-volk in die Volksraad vanuit die algemeen-aanvaarde Christelik-nasionale lewens- en węreldbeskouing dobbelary, kansspele en lotery verbied. Die Volksraad wou die kwaad beteuel en die volk in die pad van gehoorsaamheid aan God voorgaan.
In ons dae is dit die volksvreemde owerhede wat lotery, dobbelary en kansspele instel en propageer. Dit beteken dat die besluite op elke mens self afkom, want die meeste kerklike ampsdraers en vergaderings is so bang dat hulle dalk 'n multi-kulturele aanstoot sal wees dat hulle maar liewer oor die saak swyg......
Die reggeaarde Boere-Afrikaner moet oor al hierdie dinge sorgvuldig nadink en besef dat in hierdie dae ons standpunte, woorde en optredes meer gewig dra as vroeër, want óns is nou die voorbeeld en die voorgangers van die opkomende geslagte. Die Boerevolk se verlede, sy tradisie en geskiedenis eis dat ons in die hede verantwoordelik sal optree ter wille van die toekoms van ons volk.