Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
DIE HARRY POTTER-REEKS KINDERBOEKE
- KERKLIKE BERIGTE OP RADIO PRETORIA: UITGESAAI OP SONDAG 19 NOVEMBER 2000, GEREDIGEER DEUR ELSABé LATEGAN ONDER REDAKSIE VAN ANNEMARIE JOUBERT -
'n Polemiek het in Afrikaanse dagblaaie en selfs in 'n kerklike tydskrif ontstaan na die verskyning van die vertaalde Harry Potter-reeks kinderboeke. Na die onsmaaklike persoonlike aanvalle in BEELD en DIE VOLKSBLAD op mev Maretha Maartens na aanleiding van haar bespreking van die reeks, het sy die stilte verbreek en op mnr Kerneels Breytenbach se aanklagte geantwoord.Die heftige debat in die Afrikaanse koerante, op die internet en veral onder gelowiges in die land, is hoegenaamd nie tot Suid-Afrika alleen beperk nie.
Volgens mev Maartens is daar 48 state waar besorgde ouers en ouerkomitees Harry Potter in skoolbiblioteke verbied het.
Sy beantwoord in haar brief die primêre vraag of Harry Potter heilsame leesstof vir kinders is en kom dan tot die gevolgtrekking onder meer dat:
heksery en towery, skole vir heksery en towery, 'n Skrifvreemde milieu is en beslis nie dié waarin gelowiges hulle 6- tot 12-jarige kinders in die werklike lewe wil sien rondspeel of studeer nie. Na haar mening is dié milieu ongesond en verwarrend.
Die Harry Potter-reeks verskil van die meeste ander sprokies daarin dat die hoofkarakters self opleiding in towery en heksery ondergaan. Dié tegnieke word hulle bewapening. Op pad huistoe, op die Howarts Express, oefen die leerlinge van die skool vir heksery en towerkuns in Harry Potter en die Kamer van Geheimenisse om mekaar deur toordery te ontwapen.
Mev Maartens sê dat sy as volwasse leser 'n progressie of regressie na die onheilsame, wat talle gelowiges semi- of ware okkulte noem, van boek een, deur twee en drie na boek vier, wat aanstaande jaar in Afrikaans verskyn, bemerk het.