Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
LEERSTELLIG SUIWERE LIEDERE VIR DIE EREDIENS? - DS JP COETZEE - EM PRETORIA-MEINTJESKOP - BESPREKING VAN DR SCHUTTE VENTER SE BERYMINGS Reeds eerder is in hierdie blad vermeld dat op die onlangse Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke die behoefte aan Skrifgetroue liedere vir gebruik in die erediens, genoem is. Daar word beweer dat die Gereformeerde belydeniswaarheid uit die kerke uit gesing word. As die kerke hulle egter by die beginsel van die sing van Psalms hou, bestaan dié gevaar nie. Dit wil egter voorkom asof dit eintlik die wysies van liedere in sekere sangbundels is wat hulle so aantreklik maak en nie soseer die woorde nie. Daarom is dit opmerklik dat die voorgestelde wysies van dr Schutte Venter se beryming van dele uit die Heidelbergse Kategismus juis uit die nuutste Gesangebundel of uit die Jeugsangbundel geneem is. Mens kry die indruk dat hier 'n poging aangewend word om die ''lekker'' wysies in die kerke te laat sing sonder dat die lidmate moontlike dwaalleer inkry.Oor liturgiese sang het reeds 'n bydrae in Die Kerkpad verskyn. In hierdie artikel word 'n paar van die Schutte-berymings van die Kategismus bespreek om die leerstellige inhoud daarvan te weeg. Dit handel nie oor die letterkundige meriete van dié berymings nie omdat dit buite die beoogde behandeling val.
Oor die struktuur en aanpak van dié berymings moet wel iets gesê word. Hulle is meestal in die vorm van gebede waarin Christus aangeroep word. Ons verwys na enkele voorbeelde:
JESUS ONS VERLOSSER - HK Sondag 11
Jesus, Verlosser, Seun van ons Vader,
U maak van al my sondes vry ...
CHRISTUS EN CHRISTEN - HK Sondag 12 (v/a 31, 32)
Christus, U is Gesalfde ...
GEWAS DEUR DIE BLOED - HK Sondag 26
Hoe leer U, Christus, in die doop u dood? ...
Die Gereformeerde kerke handhaaf nog altyd die beginsel dat ons tot die Vader, in die Naam van die Seun en deur die krag van die Heilige Gees bid. Hierdie soort van berymings voldoen nie aan dié norm nie.
Voorts is dit 'n vraag of die Heidelbergse Kategismus met sy didaktiese aard in gebede verander kan word sonder om sy karakter van te onderrig te verloor. Temeer so wanneer in gedagte gehou word dat 'n belydenisskrif nie 'n gebed tot die Seun van God is nie. Vrae en antwoorde 117 en 118 van die Kategismus leer duidelik wat al dan nie by die gebed hoort.
Dit blyk ook uit die bewoording dat dogma nie sommerso in gebedsvorm gegiet kan word nie. Ons verwys weer na beryming 5: 1 -
''Christus, U is Gesalfde,
U is Gestuurde, U kom van die Vader,
U is ons Heer - U's uit die hemel,
Geestelik versterkte, - U kom vir ons.''
Dit was seker nie die bedoeling van die berymer nie, maar komende uit 'n leerboek waarin die gelowige leerling onderrig word, lyk dit of Christus onderrig word.
Ons benadruk nog eens die argument dat dogma nie sommerso in gebedsvorm oorgesit kan word nie. Dit kom voor asof die poging om die Kategismus te berym, juis op hierdie punt struikel en faal. Dan word dit 'n vraag of met sulke berymings nie dalk 'n verkeerde leer oor die gebed of benadering daarvan die kerke kan ingesing word nie.
Die saak van beryming van die konfessie bring nog 'n leerstellige vraag na vore. Ons verwys daarvoor na beryming 13. Dit dra die opskrif: DIE HERE LEI MY TOT BEKERING en maak daarop aanspraak dat dit 'n beryming van HK, Sondag 33, is. Vers 1 daarvan lui:
''Heer, Ek wil my hart bekeer,
U moet my u weë leer.
Lei my op die ware weg
telkens na wat is reg.''
Die Heilige Skrif leer nie dat die bekering by my wil begin en dat die Here my dan op die ware weg moet lei nie. Hierdie strofe bevat egter dié Metodistiese dwaling. Die bykomende feit dat in die laaste reël van dié strofe die woord ''telkens'' ingevoeg is, stel dit in die geheel van die beryming nie konfessioneel reg nie.
In strofe 4 gaan dit aanvanklik oënskynlik beter:
''Net deur Christus red God my,
Hy bekeer my, ek word vry.''
Maar die laaste twee reëls van dieselfde vers sê:
''In my leef die nuwe mens,
so gee Hy my wat ek wens.''
Hierdie beryming leer sodoende nie die daaglikse bekering reg nie. Let op strofe 6:
''In geloof leef ek nou voort,
volg ek daagliks God se Woord.
Heerlik leef ek tot sy eer,
net deur God die weg geleer.''
Die geestelike stryd om selfverloëning is ''uitgerym''. Dit adem nie die gees van die belydenisse van die Gereformeerde geloofsbeskouing teenoor die Remonstratisme nie. Beryming 13 sal mense laat sing van 'n (metodistiese) eenmalige bekering.
Dit is beslis nie die bedoeling om al die Kategismus-berymings van dr Schutte Venter hier te bespreek nie. Bostaande bespreking is derhalwe nie volledig nie, maar is gebasseer op 13 gepubliseerde berymings. As daar meer berymings alreeds bestaan, kan slegs die hoop uitgespreek word dat die besware wat in hierdie kritiek genoem is, in die ander tegemoet gekom sal word.
In die algemeen kan opgemerk word dat leerstellig suiwere liedere vir kerklike gebruik, anders as die berymde Psalmbundel, nog nie verskyn het nie.