Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
"OVER RELIGIE - AAN DIE LIEFHEBBERS ONDER HAAR BEOEFENAARS" Dr HM Kuitert se definitiewe afskeid van God as 'n persoonlike wese Dr HM Kuitert het weer 'n nuwe boek op die mark geplaas getitel: "Over religie - Aan die liefhebbers onder haar beoefenaars". Dit is 'n wye titel wat meteen die vraag wek of die ander boeke wat hy reeds gepubliseer het daar ook al nie oor gehandel het nie.In hierdie boek probeer hy die breë geheel van religies, waartoe volgens hom ook die Christendom behoort, te betrek. In hierdie opset is die protestants-christelike godsdiens en alles wat in sy oë daaraan makeer, die hoofmoot. Soos hy dit self tipeer is dit nie 'n teologiese boek nie. Hy benader die geloof nie vanuit die leer of dogma nie, maar via die ompad van die betekenis wat die geloof vir die gelowige het. Dit is gerig op die liefhebbers ofwel amateurs. "Ik heb dit boek, net als mijn vorige voor amateurs geschreven. Niet voor de professionals, de theologen, want die weten het allemaal wel. Dat hoop ik althans.''
Hierdie boek kan in die reeks van sy publikasies wat reeds verskyn het, getipeer word as van kwaad tot kwater. "Er is hier sprake van een breuk", sê hy, maar ook van kontinuïteit. Dis 'n breuk ten opsigte van my vorige boeke. Daarin het ek nog sterk probeer om die persoonlike God, dalk teen beter wete, te handhaaf omdat ek soos 'n mens gewoonlik van allerlei algemeen aanvaarde voorstellings dink, dat dit so hoort en dat jy dit nie mag los nie. Maar dit behels geen breuk met wat ek in my dissertasie beweer het nie. Daarin het ek uiteengesit dat God nie antropomorf (mensvormig) is nie, maar ''hebreomorf''. Die God van die Christelike geloof is ''gemodelleer'' volgens die patroon van die Israelitiese mens. "Dat heb ik nu met verbazing, destijds goed gezien. Maar ik trek er vandaag ander conclusies uit. Nu zeg ik: zie je wel, die God is een volksgod, een god die zijn eigen volk bevoordeelt''.
Volgens Kuitert het die Christelike kerk dié God al te maklik vir homself toegeëien en die gelowiges getipeer as God's volk. Die gevolg daarvan is dat God in die kerk so vanselfsprekend aangeroep word om aan gelowiges sy bystand te verleen. ''Maar Hij doet het niet! Het leven blijft even ongewis als tevoren. Dat dit godsbeeld niet klopt kun je concluderen uit de steeds opnieuw gehoorde vraag: 'Waar was God toen dit of dat gebeurde?' Het antwoord is simpel: Hij was er niet".
Die rede dat die mens ondanks dit alles tog religieus bly, is vir hom 'n "oerervaring'' wat elke mens in sy bestaan partykeer belewe. Dit is 'n ervaring soos van iets wat bo jouself uitgaan en dat jy tot die besef kom dat jy afhanklik is van 'n hoër mag. Volgens Kuitert is dit hierdie oerervaring waaraan alle religie ontspruit. Deur middel hiervan trag mense dié mag te manipuleer deur 'n naam daaraan te verbind en 'n begrip daarvan te aanvaar - ''een Schepper, een Onderhouder van de wereld'' - met die bedoeling om dié mag in bedwang te hou. Of om onsself desnoods blind daaraan oor te gee, wat 'n tweede mistieke moontlikheid is om met dié mag saam te lewe.
Hierdie opvatting geld vir die Christendom sowel as vir alle ander religies. Maar die besondere van die Christendom is, volgens Kuitert, dat hulle langs die swyende mag, die swyende oergrond van ons bestaan iets ontvang het - so së hulle - van 'n sprekende God.
Vir Kuitert bly ten slotte niks anders oor as 'n godsdiens wat horisontaal op die naaste gerig is nie. Die van oorsprong vertikaal georiënteerde geloof, gebaseer op 'n persoonlike relasie met 'n persoonlike God daarbo, verander tot ''een horizontaal verhaal waarin engagement en identificatie met de behoeftige naaste de boventoon voeren''. Dit beteken egter nie dat hy uitsluitend die arme of nooddruftige bedoel nie. Dit is 'n afgesaagde onderwerp. ''Er zijn veel meer soorten behoeften die mensen aan elkaar kunnen hebben. Dat dit wonder zich in de geschiedenis van de mensheid voltrekt, is volgens mij wat men met het woordje God zou moeten bedoelen: de transcendentie (bosinlikheid) die ons op die manier pakt!''
In 1977 het Kuitert 'n boek gepubliseer met die titel ''Wat heet geloven?'' Daarin het hy reeds die term oergeloof verkaar as 'n ''zekerheid-gevend-geloof'' ... ''Oergeloof ligt ingevouwen in het menselijk cultuurhandelen. Zulk oergeloof heeft niets christelijks aan zich, het word integendeel door alle mensen gedeeld''.
Hierdie boek bou voort op die standpunt wat hy in 1974 beskryf het in sy ''Zonder geloof vaart niemand wel''. Daarin is die onderskeid tussen godsdienste gerelativeer. Die Christendom is ingelyf in die groot geheel van godsdiens en religies. Dit was 'n jaar ná 'n konferensie te Bangkok waar duidelik na vore gekom het dat die kerk nie meer sending moet dryf nie. Dit is beskou as 'n houding van hoogmoed, asof die Christelike kerk alleen oor waarheid beskik. Heidene is nie heidene nie, maar mense met 'n ander godsdiens. Hierdie gedagte deurtrek dié boek. Alle godsdienste is dan as 't ware gelykberegtig.
In beskeidenheid moet eers na die ''waarheid'' van die ander godsdienste geluister word alvorens versigtig ook iets oor die waarheid van die Bybel te profeteer.
Geen wonder dat die onderskeid tussen God en sy diens en dié van die afgode uitgewis word nie. Die onderskeie godsdienste is vir Kuitert daarin verskillend dat spesifieke name aan die hoër mag of werklikheid gegee word wat vir die mens dit moontlik maak sekere stappe te doen om godsdiens te ervaar. Verskeidenheid in name beteken verskeidenheid in godsdienstige oriëntasie. 'n Boeddhis is geen Christen, en 'n Christen geen Islamiet, net so min as 'n Boeddhis dit is nie. maar mens kan nie sê dat daar 'n verskeidenheid van gode is, byvoorbeeld 'n Christelike God en 'n Boeddhistiese God en 'n Islamitiese nie. Die onderskeie benamings het een referensiepunt: God. Daar is ten slotte maar één laaste verklaring vir godsdiens: ''God'', aldus Kuitert.
Met die boek wat hy nou op die mark geplaas het, neem Kuitert finaal afskeid van God as 'n lewende en persoonlike God wat Homself as die enigste waarheid en weg tot saligheid geopenbaar het. Die betwyfeling van die bybelse openbaring en van die algemene Christelike geloof as fondament van die waarheid lei ten slotte tot volslae ongeloof. En nog wel van 'n teoloog wat as 'n Gereformeerde sy loopbaan begin het.
Laat ons hierdeur gewaarsku word dat hierdie stelselmatige verval van kwaad tot kwater nie ook onder ons gaan posvat nie. Laat ons dié kwaad in die kiem smoor deur dit op die kerklike wyse met die middel van weerlegging, vermaning en ten slotte deur die bediening van die kerklike leer- en lewenstug uit ons midde te weer. Dit is die enigste metode om dié gees van ongeloof te keer. Die Here eis dit van sy Kerk om sy Woord ongeskonde te bewaar. ®