Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
'N SKERP SKRIFKRITIESE HANTERING VAN 1 THESSALONISENSE VANUIT POTCHEFSTROOM - DS SAREL CILLIERS - WATERBERG - In n Engelse artikel van Elma Cornelius wat verskyn het "In die Skriflig" (Jg. 34, nr 3, Sept. 2000) toon sy tereg aan dat vrouens nie direk in hierdie brief aangespreek word nie. Met hierdie waarneming gaan sy voort om aan te toon dat Paulus hiermee geslagtelik-eksklusiewe taal gebruik wat wetenskaplik bekend staan as androsentriese taal.Die gebruik van androsentriese taal in 1 Thessalonisense word dan verder ontleed om vas te stel of die gebruik spesifiek manlik of vroulik aandui en of dit beide geslagte insluit. Daar word dan tereg daarop gewys dat Paulus hoewel hy slegs die manlike vorm gebruik die vrouelike geslag nie uitsluit nie. Trouens die heerlike troos van die hoop op die wederkoms van onse Here as tema van hierdie brief is immers vir gelowige mans en gelowige vrouens. Hoewel Cornelius dit nie aantoon nie, kan dit vanuit die res van die Skrif baie duidelik bevestig word.
Cornelius gaan egter verder deur Paulus as Bybelskrywer vanuit n bepaalde kultuurhistoriese agtergrond vanweë sy gebruik van androsentriese taal, skerp aan te val, deur die volgende uitsprake:
"The author of 1 Thessalonians (thus) remains within the patriarchal culture and affirms the opinion that the roles to be played in the early Christian church were restricted by gender."
"I am of the opinion that the androcentric language used in 1 Thessalonians could have had a potential to create questions in ancient womens (and men) minds about justice, Gods love, and womens future in Gods Kingdom. This letter might have been to the service of sexism."
"By not refering to women in this letter, the author of 1 Thessalonians very clearly relegates women to powerless fringe groups."
Met die laasgenoemde stelling word n vooraf vraag van Cornelius ook positief beantwoord naamlik: "The question to be answered in this article is wether the androcentric language could promote social values such as the repression of women in ancient times. If so, the use of androsentric language can definitely be regarded as unethical." Hoewel sy erken dat 1 Thessalonisense nie beskou kan word as voorskriftelik ten opsigte van die rol van vrouens nie, stel sy dat dit nogtans beskrywend is. Sy stel nogtans dat die kerk egter verplig is om haar voorskrifte ten opsigte van die rol van die vrou in die kerk hiervolgens in hersiening te neem. Indien die kerk dit nie sou doen nie sou dit volgens haar beteken dat vrouens van-dag beperk word deur n patriargale kultuur binne n ou-tydse samelewing. Dit sou volgens haar onverskoonbaar wees.
Vanuit ons Gereformeerde belydenis en Skrifbeskouing het mens inderdaad enkele opmerkings te maak: Cornelius bly totaal in gebreke om n belangrike saak soos die rol van die vrou in die kerk te hanteer met suiwer eksegese deur middel van Skrif met Skrif vergelyking. Die bepaalde taalgebruik in 1 Thessalonisense word buite sy eie verband gekoppel aan n saak wat nie eens deur hierdie brief behandel word nie. Hierteenoor gebruik sy as vertrekpunt buitebybelse gegewens, in dié geval n bepaalde kultuurhistoriese agtergrond (patriargale beskouing) wat sonder Skriftoetsing teenoor die huidige kultuuropset (emansipasie van die vrou) as gesaghebbend gestel word. Hiermee plaas sy haar ongetwyfeld in die kader van die Skrifkritici. Ek verwys hier graag na vorige uitgawes van Die Kerkpad (Jg. 3, nr. 3 en verder) waarin ds BC Smit die onderwerp van die plek van die vrou in die kerk eksegeties behandel het. Daarby is daar ook deeglike eksegetiese studie gedoen deur deputate van die afgelope Nasionale Sinodes oor die "Die vrou in die amp".
Dat Cornelius Skrifuitsprake as oneties bestempel, plaas sy dadelik n vraagteken oor die gesag van die Heilige Skrif. (vgl. 2 Timotheüs 3: 16-17 "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus." Art 5 NGB:"Ons aanvaar al hierdie boeke en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind"). Ons moet eerder versigtig wees om die Skrif nie oneties te hanteer nie. Daarby moet inderdaad ook gewaak word om met verkeerde Skrifgebruik onetiese uitsprake te wil maak.
Aangesien Elma Cornelius verbonde is aan die PU vir CHO is die volgende vrae ter sake:
1. Het die Christelike karakter van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys nou plek gemaak vir n Skrifkritiese beskouing van die Heilige Skrif?
2. Is Cornelius deel van die doserende personeel wat moontlik Grieks aan propedeutiese studente aanbied? Indien wel dan behoort die Kuratorium van die Teologiese Skool verder aan die saak aandag te gee.