Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
NOG TALLE BESWARE VAN KERKRADE IN DIE NG KERK In die vorige twee uitgawes van ons blad, September en November 2000, is besware van die kerkrade van die NG Kerk te Brakpan-Suid, Memel en Eendekuil, soos dit in uitgawes van DIE (NGK) KERKBODE gepubliseer is, vermeld. Sedertdien is daar nog talle besware wat in DIE KERKBODE van 17 November 2000 gelees kan word. Ons wys graag op die volgende en vra: Hoelank sal die NG Kerk op dié wyse nog voortgaan om sy lidmate te verwar en te mislei deur openlike dwalings in sy amptelike besluite te handhaaf en ondermyning van die Skrifgesag deur van sy prominente professore en leidinggewende figure te tolereer en nie die kerklike tug te hanteer om dié leerstellige en praktiese afwykings te bestraf en in die geval van onbekeerlikheid uit die kerklike samelewing te verban nie?BESLUIT: RING VAN ZEERUST
Die Ring van Zeerust het op sy vergadering van 6 September 2000 met groot kommer van die volgende gebeure binne die NG Kerk kennis geneem en besluit:
1. Die uitspraak van prof Sakkie Spangenberg (Die Kerk-bode. Deel 165 No 3) dat Jesus Christus nie die enigste weg na God is nie, is onskriftuurlik en lasterlik. Daarom verwerp die Ring hierdie standpunt en bevestig hy dat hy die gesag van die Heilige Skrif erken as die onfeilbare Woord van God en dat Jesus Christus alleen die Weg en die Waarheid en die Lewe is en dat niemand na die Vader toe kom behalwe deur Hom nie (Joh 14:6).
2. Om hierdie Skrifgesagredes kan ons ook nie die uitspraak van prof Christina Landman aangaande voorhuwelikse seks as verpligtend aanvaar nie en roep ons alle jongmense en egpare op om die heiligheid van die deur God ingestelde huwelik te eerbiedig.
3. Die Ring betreur dit verder dat 'n berig soos 'Kommunikasie kan die plaasmoorde keer' (prof E de Villiers) op die voorblad van Die Kerkbode verskyn het. Die berig wek die indruk dat daar nie kommunikasie tussen boere en hulle arbeiders bestaan nie. Dit is 'n oorvereenvoudiging van die probleem. Verreweg die meerderheid van plaasmoorde word deur misdadigers van elders gepleeg - in baie gevalle nadat die plaasarbeiders geïntimideer en geviktimiseer is. Die Kerbode moet liewers die regering van die dag versoek om strenger strawwe toe te pas en wet en orde te handhaaf. (J van As, RS, 03.11.2000.)
BESLUIT: NG KERKRAAD HENTIESBAAI
Die kerkraad en die gemeente van Hentiesbaai, Namibië, wil graag onder die besef van wat ons Gereformeerde erfenis en belydenis beteken, die volgende besluit bekend maak.
INSTELLING VAN DIE BEDIENING VAN DIE HEILIGE NAGMAAL AAN DOOPLIDMATE
Die kerkraad van die gemeente Hentiesbaai het na deeglike ondersoek van die Skrif en 'n in diepte-bespreking van die bepaalde Skrifgedeeltes en die verslag van die Algemene Sinode in hierdie verband, tot die volgende besluit gekom: dat - 'Kinders nie tot die Heilige Nagmaal toegelaat sal word nie alvorens hulle nie die pad van kategese en geloofsbelydenis geloop het nie.'
Motivering:
1. Dat die skriftuurlike vereistes vir die nagmaalganger soos in 1 Kor 11: 27-32 aangedui, die toegang tot die Heilige Nagmaal vir persone wat nie deeglik voorberei en openbare belydenis afgelê het nie, onmoontlik maak.
2. Dat die belydenisskrifte (Heidelbergse Kategismus en Nederlandse Geloofsbelydenis) juis ook die belangrikheid van die 'regte' gebruik van die Heilige Nagmaal beklemtoon.
3. Dat die besluit van die Algemene Sinode 'n drastiese onderskeiding (diskriminasie) tussen die sakrament meebring, naamlik dat die Heilige Nagmaal aan dooplidmate (van ouderdom, dit wil sê van suigeling tot jongeling) bedien mag word, terwyl die sakramente van die Heilige Doop net aan ouers wat belydende lidmate van die kerk is, se kinders bedien mag word.
4. Dat, as ons beweer dat ons 'n 'gereformeerde' Kerk is, dan moet ons ook hou by dit wat ons as gereformeerdes 'anders' gemaak het as die Rooms-Katolieke kerk. Die gereformeerde vaders, waaronder Calvyn, het duidelik weggebreek van die Roomse gebruik in die bediening van die Heilige Nagmaal aan kinders vanaf hulle sewende jaar.
Samevatting:
Dus volgens die Skrif, belydenisskrifte en die historiese gebeure/feite, vind die kerkraad en gemeente van Henties-baai dit onmoontlik om aan die besluit van die Algemene Sinode uitvoering te gee. (Kerkraad/gemeente Hentiesbaai, 02.11.2000.)
NG KERKRAAD PETRUSVILLE - VAN DER KLOOF
INSAKE DEELNAME AAN LOTERY
Die kerkraad neem met teleurstelling kennis van die be-sluit van die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) insake lotery en distansieer hom daarvan op die volgende gronde:
1 Die ASK voer geen Skrifgronde vir sy standpunt aan nie.
2. Die poging om nie al te voorskriftelik te wees nie, is te waardeer, maar die ASK se gebrek aan 'n duidelike standpunt speel in die hande van die tydsgees van individuele vryheid, waar elkeen maar kan doen wat reg is in sy eie oë.
3. Die ASK se besluit is strydig met sy eie waarskuwing teen lotery - en dit in 'n tydsgees waarvan die ASK sê dat dit waarskynlik meer materialisties (is) as ooit tevore.
4. Die toegewing dat deelname aan lotery aanvaarbaar is as dit gaan om 'n klein bedraggie, 'n bietjie pret en meedoen aan die opwinding van die nasie, is te naïef om ernstig opgeneem te word.
5. Die kerkraad oordeel dat die hele motivering en besluit van die ASK nie pas by 'n verantwoordelike kerkkommissie wat gevra word om 'selfs met groter erns (te) gaan kyk na wat die Bybel werklik vir ons hieroor wil sê' nie (prof Pieter Potgieter in Die Kerkbode van 16 Junie).
Het die Kommissie gaan kyk na Skrifgedeeltes soos Gen 3:19; 1 Kron 29:12-16; Jes 6:5-11; Matt 6:21, 24, 33; 2 Kor 9 :8-11; 2 Tess 3:6-12; 1 Tim 6:6-10 en 1 Joh 2:15-17?
(PJJ vd Merwe, Skr. 05.10.2000.)
NG KERKRAAD UNIONDALE
Op 'n kerkraadsvergadering van die NG Gemeente Uniondale gehou op 3 September 2000 is besluit om die volgende skrywe aan Die Kerkbode te rig:
Volgens Die Kerkbode van 18 Augustus 2000 het prof Etienne de Villiers, etikus aan die Universiteit van Pretoria, die volgende uitlating gemaak na aanleiding van die skrikwekkende hoë moordsyfer op boere. 'Prof de Villiers meen betere kommunikasie tussen boere en hulle werkers, die uitklarings van verhoudings en die regverdige behandeling van werkers, kan daartoe bydra dat minder boere aangerand en vermoor word.'
Deur hierdie ongekwalifiseerde standpunt impliseer prof De Villiers dat dit die boere se eie skuld is dat hulle aangeval en vermoor word.
Die kerkraad van die NG Gemeente Uniondale, distansieer hom nie net van prof De Villiers se standpunt nie, maar wil ook 'n beroep op die professor doen om hom liewer te vergewis van die ware feite rondom plaasaanvalle voordat hy sulke onverantwoordelike uitlatings maak. Sy uitlatings kan juis daartoe bydra dat nog meer plaasaanvalle plaasvind.
Ons kerkraad neem ook met ontsteltenis kennis van uitsprake deur prof Izak Spangenberg van UNISA dat Jesus Christus nie noodwendig die enigste weg tot saligheid is nie (Die Kerkbode, 18 Augustus 2000) asook prof Christina Landman, teoloog aan UNISA, se standpunt dat seks voor die huwelik verpligtend behoort te wees (Die Burger, 30 Augustus 2000). Sulke uitsprake deur teoloë dra by tot die verwarring van ons lidmate, veral ons jeug. Ons wil 'n beroep op die betrokke teoloë doen om tot hulle sinne te kom en te help met die opbou van die geloof en nie om dit af te breek nie. (NG Kerkraad, Uniondale, 04.09.2000.)
BESLUIT: KERKRAAD SECUNDA OOR OPTREDES VAN PROFESSORE
By 'n vergadering van ons kerkraad is die onlangse optredes van proff Landman en Spangenberg bespreek. Daar was by ons 'n ervaring van besorgdheid en verootmoediging voor die Here oor die dinge wat in ons kerk gebeur en daarom het ons kerkraad 'n kommissie aangewys om ons besorgdheid te verwoord en onder die aandag te bring van die instansies wat moet omsien na die leer en lewe van hierdie teoloë.
In ons gemeente is ons nou besig met die onderhoude van die jongmense wat belydenis van die geloof wil doen. Ons kan ons nie indink dat ons 'n jongmens sal toelaat om belydenis van geloof te doen as hy die standpunte handhaaf wat die twee professore van ons kerk het nie. Prof Landman propageer volgens berigte, seksuele verhoudings voor die huwelik om daardeur 'n gelukkige huwelik te probeer verseker.
Prof Spangenberg sê weer per implikasie dat al die godsdienste uiteindelik dieselfde god dien. Hy kan nie aanvaar dat God die saligheid alleen in Christus wil gee nie. Hierdie leringe is direk in stryd met dit wat ons ons jongmense in die kategese leer.
Ons onderrig die kinders aangaande die heiligheid van die huwelik en die belangrikheid van 'n kuise lewenswandel. Verder doen ons moeite dat elke jongmens die Here Jesus sal omhels as hulle enigste Here en Verlosser. Ons wil hulle toerus om volgelinge en getuies van Jesus te wees. So gaan dit sekerlik in elke gemeente.
Hierdie professore is veronderstel om mense te wees na wie ons moet opkyk. Hulle het 'n sekere statuur in die kerk bereik. Hulle word uitgenooi om gemeentes toe te spreek.
Prof Landman gee boeke uit deur ons kerk se amptelike uitgewers (Lux Verbi BM). Prof Spangenberg is met sy legitimasie aangewys as iemand wat betroubaar is om leraar in die kerk te wees. Nou, na al die jare, sal hulle afgewys word as hulle voor gewone ouderlinge van 'n gemeente moet verskyn om belydenis van geloof af te lê.
Is ons nie met 'n klug besig nie? Maak ons nie 'n bespotting van al die plegtige geleenthede waar ons voor die kansel staan en beloftes voor die Here aflê nie? Ons maak beloftes by belydenis van geloof, by die doop, by bevestiging van kerkraadslede, om nie eens te praat van die legitimasie van 'n afgestudeerde teologiese student nie. Ons staan daar en jy word plegtig gevra: 'Glo jy ... Beloof jy ... Bely jy ...?'
Voorgangers in die kerk maak egter nou asof hulle nie dieselfde beloftes afgelê het nie. Hulle toon geen respek vir die belydenisse van die kerk waar hulle die Here dien nie. Hulle doen nie moeite om nuwe gedagtes in hulle gemoed op teologiese en ordelike wyse te berde te bring nie, soos dit byvoorbeeld met die nagmaal aan kinders gebeur het.
Die sake wooroor dit hier gaan, is so 'n fundamentele deel van die evangelie dat dit nie val op die vlak van 'n 'oop gesprek' nie. Dit kan ook nie verskoon word, bloot as 'die standpunt van 'n indiwidu binne 'n wetenskap', soos prof Spangenberg wil voorgee nie. Hierdie professore staan in die samelewing as leraars van die NG Kerk bekend. Hulle optredes vind dus met kerklike sanksie plaas. Dit is onaanvaarbaar.
Dit is ook nie aanvaarbaar dat ander professore (Julian Muller), mense met die amp van lering in die kerk vir hulle in die bres tree, soos wat nou gebeur het nie. Die integriteit van ons kerk en die eer van die Here, is hier op die spel.
Ons wil dus die kerklike liggame onder wie se toesig hierdie professore val, wysheid en krag toebid om die saak tot eer van die Here te hanteer. (Ned Geref Gemeente Secunda.)
"KERK KIES WEG VAN MINSTE WEERSTAND"
Op dr Wim Dreyer, redakteur van Die Hervormer, se artikel onder die opskrif "Lotto en die skat in die saailand" (Algemene Kerkbode, 11/12 Augustus 2000) kan 'n mens net sê "ai tog" en die kop skud.
Dr Dreyer se siening en opmerkings oor die staatslotery en dobbelhuise weerspieël die Afrikanerkerke se vrees vir konfrontasie met 'n regering wat nie die Christelike beginsels najaag nie. Die Afrikanerkerk kies liefs die weg van die minste weeerstand en weier volstrek om korrupsie in hierdie land met wortel en tak uit te roei.
Dit het lankal tyd geword dat die Afrikanerkerke moet opstaan teen die morele verval van die volk. En dan oorweeg die regering nog 'n tweede staatslotery en meer dobbellisensies!
Marius Hurter, Brackenhurst
In: DIE ALGEMENE KERKBODE (NGK) 8/9 Desember 2000