Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Gereformeerde Etiek

AKTUEEL:
'n Leef en Denkwêreld wat al meer materialisties word

SKRIFOORDENKING:
God se nuwe seisoen

Die Harry Potter-reeks kinderboeke

Leerstellig suiwer liedere vir die erediens?

Die verklaring van die Bybel

"Over religie - aan de liefhebbers onder haar beoefenaars"

'n Skerp Skrifkritiese hantering van 1 Thessalonisense vanuit Potchefstroom

Nog talle besware van kerkrade in die NG Kerk

Die Boeddhisme en sy stigter

Valentynsdag - 14 Februarie

Die saak van Sabbat en Sondag

Die omkering van die staatsbestel

KERKLIKE JOERNAAL: 
Ernstige oproep tot verootmoediging

Kerke binnekort belastingpligtig?

Die Gereformeerde Ekumeniese Raad

Studiegesprek oor ekumene

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Akademie vir CVHO vyf jaar oud

Evolusieleer in skole, musea en op radio- en TV-programme

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die verhoding tussen die Kerk en Staat volgens die Skrif

Verootmoediging of versoening?

PERSRUBRIEK: 
Hervorm na die eis van die Woord


Kerkraad van NH Kerk Makwassie ontsteld oor uitsprake

KOMMENTAAR: 
Hervormingsdaggetuienis 31 Oktober 2000

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Die maatstaf vir moraliteit

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 1 Januarie 2001

DIE BOEDDHISME EN SY STIGTER

Net buitekant Bronkhorstspruit is die grootste Boeddhistiese tempel in die suidelike halfrond opgerig. Die Boeddhisme is van oorsprong 'n Oosterse godsdiens maar vind tans in toenemende mate aanbidders wat voorheen tot die Christelike geloof behoort of behoort het, veral in Europa maar ook in ons land. Daar is baie wat nie die suigkrag en die sin van die Boeddhisme verstaan nie. Dit is vir die oningeligtes 'n onbekende godsdiens waaraan verbygegaan word. Tog is dit belangrik om daarvan te weet, om dit in die praktyk te kan weerstaan as daar 'n konfrontasie met aanhangers van dié godsdiens plaasvind. Ds Jaco Beyers van die Nederduitsch Hervormde Kerk, gemeente Verwoerdburg, het 'n uitgebreide artikelreeks hieroor gepubliseer in KONTEKS, 'n tydskrif van die Ned Hervormde Kerk, uitgawes Julie, Augustus en September 2000, wat ons met erkenning aan die skrywer en die uitgewer in verskillende aflewerings DV in ons blad publiseer.

-  Eerste Aflewering  -

Die ontstaan van die Boeddhisme word gekoppel aan die leer en lewe van die man Siddharta Guatama. Hy is in ongeveer 560 v C in die dorpie Lumbini, op die grens tussen Indië en Nepal gebore. Sy vader, Shoeddhodanna, was 'n prins wat oor 'n prinsdom in die gebied regeer het.

Eers later, nadat Guatama die stigter van 'n godsdiens geword het, het daar heelwat legendes rondom sy geboorte ontstaan. So word vertel dat sy moeder, Maya, een aand gedroom het van 'n wit olifant wat in haar liggaam ingaan. Tien maande later het sy geboorte geskenk aan Guatama. Dit was in Meimaand, die dag van die volmaan. By dié geboorte was daar verskeie bonatuurlike wesens teenwoordig. Maya het kort na die geboorte van haar seun gesterf. Die legende is dus dat die vrou Maya, as maagd, geboorte geskenk het.

Maya en haar man, Shoeddhodanna, het hulle seun Siddharta genoem, wat beteken hy wat sy doel bereik het. Later het hy die naam Guatama bygekry. Dit was die naam van 'n bekende Hindoe-leermeester wat 'n voorvader van Siddharta was. Laasgenoemde het later bekend geword onder die naam Boeddha. Dié benaming is 'n eretitel wat ontwaakte of verligte een beteken.

Siddharta is soos enige Indiese prins in weelde en geletterdheid opgevoed. Ten spyte van sy harem danseresse trou hy met 'n meisie genaamd Yashodara. Sy enigste seun wat by haar gebore is, het hy Rahoela genoem.

Siddharta was nooit tevrede met die lewenstyl waaraan prinse van sy tyd gewoond was nie. Sy lewe het vir hom leeg en sinloos gevoel. Om ervaring in die lewe op te doen en die werklikheid van die lewe buitekant die weelde van die paleis te beleef, het hy drie reise onderneem. Op dié reise het hy die lyding van gewone mense gesien: dood, hongerte en gestremdheid.

Tydens sy vierde reis het Siddharta op 'n dag 'n reisende monnik gesien wat niks anders as 'n bekertjie waarmee hy gebedel het, besit het nie. Die vrolike, tevrede gesig van die bedelaar-monnik het hom laat besef dat die lewe om meer dinge gaan as weelde en rykdom.

As gevolg van hierdie ervaringe verlaat Siddharta sy huis en gesin en voer 'n kluisenaarslewe, afgesluit van die samelewing. Hy hoop om op hierdie manier lewenswysheid te verkry. Sy eerste poging was om wysheid langs die weg van die Hindoegeloof, naamlik deur middel van meditasie en joga-oefeninge, te verkry.

Siddharta het in alleenheid en eensaamheid ver weg van alle tekens van beskawing, deur 'n lewe van eenvoud, probeer wysheid vind. Al wat dit hom op die hals gehaal het, was swak gesondheid. Uiteindelik het hy op 'n dag uit moedeloosheid oor sy pogings iewers onder 'n vyeboom gesit en nadink oor die lewe. Hier het hy 'n openbaring beleef waardeur hy insig gekry het en mense voortaan na hom verwys het as die verligte of ontwaakte een (die Boeddha).

Nou kon Siddharta as 'n verligte, iemand met kennis, die nirwana, die boeddhistiese hemel, binnegaan. Vanaf die oomblik wat hy insig daar onder die vyeboom gekry het, wou hy met ander mense deel wat hy in die lewe geleer het. Nadat verskeie bose demone hom probeer verhoed het om die kennis aan ander mense oor te dra, het hy besluit om dit wat hy ontdek het, aan mense te leer. Siddharta het begin preek en binne 'n kort tydjie het hy 'n paar dissipels om hom vergader.

Soos wat mense van heinde en ver gehoor het van die rustige kalmte waarmee Siddharta die mense leer, het sy volgelinge vinnig vermeerder. Sy eie seun en neef het ook daarby aangesluit. Toe hulle sterk genoeg was, het hy hulle uitgestuur om oral te gaan preek wat hy hulle geleer het.

Na die openbaring wat hy onder die vyeboom beleef het, het Siddharta nog veertig jaar lank in Indië rondgereis en as 'n bedelmonnik mense geleer. Op tagtigjarige ouderdom sterf hy 'n natuurlike dood. Sy volgelinge vertel dat hy direk na sy dood op skouspelagtige wyse in die hemel opgeneem is. Daar was volgens oorlewering ook 'n geweldige groot aardbewing tydens sy begrafnisseremonie.

Die wêreld waarin die Boeddha leef

Siddharta leef in die sesde eeu v C, in die noord-oostelike dele van Indië. Dié gebied het op daardie stadium 'n hoogbloei in intellektuele ontwikkeling beleef. Die Ariese stamme het sowat 'n duisend jaar voor die geboorte van Siddharta reeds die gebied binnegeval en met hulle ryke kultuur beïnvloed.

Die meeste mense se godsdiens in dié gebied was die Hindoegeloof. Die Boeddhisme is as 'n soort hervormingsbeweging vanuit die Hindoegodsdiens gesien. Nie alle mense het van die boeddhistiese godsdiens gehou nie. Aan die einde van die eerste millennium n C het die boeddhistiese godsdiens skielik 'n opbloei beleef wat meegebring het dat Boeddhisme regoor die bekende wêreld versprei het.

Toe Siddharta op 29-jarige ouderdom besluit het om sy weelderige bestaan te verruil vir 'n lewe van eenvoud, was dit niks vreemd vir die mense van sy tyd nie. Om as 'n arm bedelaar rond te reis en op dié manier ware wysheid in die lewe te soek, was 'n aanvaarbare maniere van bestaan. Hy is natuurlik baie deur die Hindoegodsdiens beïnvloed. Sy eerste leermeesters was Hindoeheiliges.

Wat die nuwe geloofslewe, wat Siddharta verkondig het, so anders as die bestaande Hindoegodsdiens gemaak het, was die klem wat hy op meditasie, op 'n lewe van eenvoud en 'n bedelbestaan geplaas het. Sy leer het verder ook 'n sterke klem op sending geplaas. Om die Boeddha te volg, beteken om die geloof met ander mense te deel.

Wat leer die Boeddha?

Net soos Martin Luther vanuit die tradisie van die Rooms-Katolieke Kerk die hervorming begin het, net so kom Siddharta as 'n Hindoegelowige in opstand teen die tradisie van sy eie godsdiens. Hy het egter, alhoewel daar heelwat ooreenkomste met die Hindoegodsdiens bestaan, 'n hele nuwe godsdiens tot stand gebring.

Waar Luther met die vraag hoe kan ons van ons sondes vergewe word, geworstel het, het Siddharta dit met die vraag hoe om bevry te word van die sirkel van oneindige weergeboorte en reïnkarnasie. In die Hindoegodsdiens is reïnkarnasie een van die pilare waarop die godsdiens gebou is.

Siddharta se leer verskil egter in baie opsigte van dié van die Hindoehodsdiens. Hy ontken dat die siel van die indiwidu en die bron van die wêreld verenig moet word. Hy verwerp die heilige geskrifte van die Hindoegodsdiens. Hy verwerp die bestaan van die hoër kastestelsel binne die Hindoe-samelewing waarvolgens mense in verskillende klasse ingedeel word. Hy ontken die bestaan van God as 'n hoër geestelike wese. Dit maak die Boeddhisme anders as die Hindoegodsdiens.

Inhoud van die leer

Boeddhisme bestaan nie uit 'n leer oor verlossing wat 'n mens verkry wanneer jy aan 'n persoon of god glo nie. Die Boeddha is nie iemand wat deur 'n god gestuur is nie. Hy is ook nie self 'n god nie. Hy word nie voorgehou as die middelaar of verlosser waardeur mense gered kan word nie. Dit wat die Boeddha geleer het, is belangriker as wie hy was. Boeddhiste aanbid nie die beeld van Boeddha nie. Maar in hulle eerbetoning aan die groot leermeester mag dit dalk lyk of hulle tot hom bid.

Alles wat die Boeddha geleer het, is eers mondelings oorgelewer. Nadat die leer deur die monnike gememoriseer is, is dit op 'n later stadium in die geskiedenis neergeskryf.

Verlossing bestaan vir die Boeddhisme daaruit dat mens volkome verlig word. Wanneer 'n mens dieselfde geestelike verligtingservaring wat die Boeddha daar onder die vyeboom beleef het, self beleef, dan is 'n mens gered. Hierdie verligting kan verkry word wanneer 'n mens die regte kennis en wysheid verkry.

Kennis vir die Boeddhis is iets anders as ons westerse intellektuele boeke- of feitekennis. Vir die Boeddhis bestaan dit uit religieuse kennis wat ver bo ons intellektuele kennis is. Dit kan vergelyk word met die kennis waartoe die Boeddha self gekom het. Hy het uit die duisternis van sonde ontwaak en vry geword van selfsug en hebsug. Ons sou kon sê dat hierdie kennis daaruit bestaan dat 'n mens die ware sin van die lewe ontdek. As 'n mens die ware sin van die lewe ontdek het, word hy of sy as 'n verligte gereken.

Om dit egter vir ons duidelik te maak waaruit die boeddhistiese godsdiens bestaan, moet ons 'n paar sleutelbegrippe verduidelik. Dit wat die Boeddha geleer het, kan in eenvoudige taal onder die volgende opskrifte verduidelik word.

Karma

Die begrip karma verwys na die wisselwerking van oorsaak en gevolg. Alles wat gebeur of nie gebeur nie, het 'n logiese oorsaak en 'n gevolg. Binne die mens se morele en fisiese bestaan, funksioneer die wet dat daar vir elke oorsaak 'n spesifieke gevolg is. As 'n mens goeie dade doen, dan sal daar mooi en goeie dinge in jou lewe gebeur. Die omgekeerde is natuurlik ook waar: vir elke slegte daad in jou lewe is daar 'n negatiewe gevolg. Niemand kan aan hierdie wet van die natuur ontkom nie.

Reïnkarnasie

Die leer van die Boeddhisme veronderstel dat die menslike siel nooit ophou bestaan nie. 'n Mens word telkens nuut gebore in 'n aardse vorm. Die manier hoe 'n mens op aarde lewe, bepaal die vorm waarin hy of sy in die volgende lewe weer gebore word. 'n Goeie lewe verseker dat 'n mens aangename omstandighede in die volgende lewe sal hê.

Nirwana

Die doel van die mens se lewe is om nirwana binne te gaan. Ons as Christene sal die begrip nirwana beter verstaan as ons aan die begrip hemel dink. Net soos ons die hemel voorstel as 'n plek waar volkome rustigheid en kalmte is, net so dink die Boeddhis aan nirwana as plek van kalmte. Om dit te bereik, beteken om vry te wees van alle wette wat die menslike bestaan regeer. Nirwana is die einde van lyding.

Dharma

Dharma is die pad waarlangs 'n mens nirwana kan bereik. Dharma verskaf aan die mens innerlike energie en krag. Die Boeddha het geleer dat dit begin met vriendskap met dit wat lieflik is.

(Word vervolg)