Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
VALENTYNSDAG - 14 FEBRUARIE Die simboliese betekenis daaragter Baie feeste en geleenthede van vandag word gevier op 'n wyse wat ons aangeleer het en met die gepaard-gaande simboliek sonder dat ons weet waaroor dit gaan en terwyl die oorspronklike betekenis lank reeds vergete is. Die vraag is nou: waar en wanneer is daar begin met die viering van Valentynsdag en waar kom al die gepaardgaande simboliek vandaan?St Valantyn's Day het in Rome die naam Lupercalia gehad. In ooreenstemming met so baie ander feeste lê die wortels daarvan vierkantig in die antieke songodaanbidding en vrugbaarheidkultus - die mistieke Babiloniese godsdiens. Byna alle Romeinse feeste het hulle oorsprong in die ou Babilonië gehad en dit was afgodsfeeste. In Babilonië is die son aanbid as die vernaamste van al die gode wat met vrugbaarheid en voortplanting te doen gehad het. Die Valentynsfees is gehou op die 14de en 15de dag van Februarie. Voor die hooffees was verskeie bokke en ook 'n hond geoffer. Die priesters het dan met rieme, uit die diere se velle gesny, genaamd Februa (vandaar die naam Februarie) die meisies agterna gesit. 'n Hou op die naakte agterstewe van 'n meisie met een van die rieme was veronderstel om haar dan vrugbaar te maak. Verskeie verwysings word gevind aangaande hierdie vorm van aanbidding van die god van vrugbaarheid.
Alhoewel die feeste aanvanklik "geestelik" van aard was, het dit later slegs 'n geleentheid geword vir 'n uiters kru manier van uiting gee aan hulle permissiwiteit en seksdrange. In Engeland en Skotland het 'n gedeelte van die fees daaruit bestaan dat "gewillige" meisies se name in 'n kartondoos geplaas is. Die kartondoos is dan geskud en elke man het 'n naam daaruit getrek. Die meisie wat hy gewen het, was syne vir die duur van die fees.
Pous Gelasius I het probeer om hierdie aktiwiteite in 'n Christelike konteks te plaas en in 494 n C dié dag herbenoem na die "Fees van Reiniging". Dit was dan nou kwansuis die veertigste dag ná Christus se geboorte, toe Hy in die tempel gebring is. Selfs hierdie skuilnaam kan egter nagespoor word na die eertydse Babiloniese ryk en Assirië, waar daar op 14 Februarie fees gehou is vir die reiniging van Semiramis ná die geboorte van haar seun, Nimrod (die songod), wat glo op 6 Januarie gebore is (nou as gevolg van 'n verandering in die almanak: 25 Desember).
Die gebruik om 'n minnaar/es of Valentyn op 14 Februarie te kies, is duisende jare oud en dit het ons gemeenskap geïnfiltreer deur middel van die heidense Romeine.
Waar kom die naam Valentynsdag dan vandaan?
Die ou legendes vertel dat 'n sekere "heilige" met die naam St Valantine, paartjies wat wou trou en nie hulle ouers se goedkeuring gehad het nie, gehelp het om weg te loop en dat hy hulle dan in die huwelik bevestig het. Hy is vervolg en het 'n "martelaar vir die liefde" geword. Die fees van "Lupercalia" is herdoop na "St Valantines Day" ter ere van hierdie heilige, asook om die oningeligtes oningelig te hou.
Wie is Cupid?
Soos reeds genoem, lê die wortels van Valentynsdag in die heidense Romeinse feeste. Die oorprong daarvan kan egter verder terug in die antieke geskiedenis en wel in die mistieke afgodery van Babilon gevind word. Nimrod, die seun van Kus, het sy koninkryk begin in Babilonia. Hy word beskou as die eerste van die "magtiges" ("the mighty ones") wat gelewe het. Ná sy dood het sy ma Semiramis (wat blykbaar ook sy vrou was) hom verhef tot Songod en deur middel van haar seun se roem en eer, haarself tot Hemelkoningin. Sy is ook bekend onder ander name soos Isis, Venus, Diana en Aphrodite. In Rome was sy bekend as Venus. Na Nimrod (ook genoem Hores, Bel en Bacchus) se dood is die seun Tammuz gebore. Sy ma het verklaar dat sy deur die gees van Nimrod swanger geraak het. Daardeur het sy die geboorte van Jesus, die Messias nageboots.
Tammuz was nou aanbid as die valse Babiloniese, anti-christelike "messias". Tammuz was nou die amptelike Songod en is as sulks vereer. Mense het ook geglo dat hy die reïnkarnasie van Nimrod was. Omdat Semiramis (die Hemelkoningin) vereer was as Venus, wat die godin van liefde was, is Tammuz ook op dieselfde wyse vereer. Daarom het hy ook die titel van Cupid, die god van liefde, gekry. Tammuz was aan die een kant uitgebeeld as magtig, maar ook as Cupid, die seuntjiegod met die blou ogies en blonde krulle.
Waarom word Cupid met vlerkies voorgestel?
Daar word geglo dat Nimrod, "the Lord of the Mighty ones", die eerste magtige wat gelewe het, met vlerke toebedeel was. So ook het die fabels na enige een wat in sy voetspore gevolg het of veronderstel was om te volg, verwys as "met vlerke toebedeeld".
Waarom het Cupid 'n pyl en boog?
Om te identifiseer met sy vader Nimrod is die seuntjiegod ook uitgebeeld met 'n pyl en boog. Na Nimrod word in die Bybel verwys as 'n magtige jagter (Gen 2 : 8). Hy was blykbaar 'n jagter van formaat en het die mense beskerm teen die wilde diere wat hulle aangeval het en waarvan hulle heelwat las gehad het. As sogenaamde reïnkarnasie van Nimrod was dit dus ook so gepas dat die uitbeelding van Cupid 'n pyl en boog sal insluit. In die hande van kunstenaars en digters het die seuntjie 'n stouterd geword wat mense met sy pyle skiet en paartjies laat verlief en baie romanties raak.
Aanbidding van die "Sacred Heart"
In die Babiloniese godsdienssisteem is die "worship of the Sacred Heart" ingestel. Dit was een van die simbole van Tammuz (Cupid). Hoe het dit dan gekom dat die hart die simbool van die "Kind van die Groot Moeder" geword het? Die Chaldees vir hart is "Bel" (die ander naam vir Nimrod). Aanvanklik, kort na die begin van die afgodery is alle belangrike elemente daarvan onder 'n dekmantel ingevoer sodat dit hieronder kon verskuil bly ten aansien van die oë van die oningewydes.
Ook in die ou Egiptiese geskiedenis vind 'n mens die eerbiediging van die "Sacred Heart". Die hart was een van die heilige simbole van Osiris (die Egiptiese naam vir Nimrod), toe hy weer gebore is in die arms van sy moeder Isis (Semiramis se naam in Egipte) en in die vorm van die seuntjiegod verskyn het. Hierdie baba-"goddelike" is dan ook dikwels uitgebeeld met 'n hart of die hartvormige vrug van Perséa in sy hande. Die seuntjie-goddelike is ook in ander lande op dieselfde wyse voorgestel.
Die aanbidding van die "Sacred Heart" was dus onder hierdie simbool slegs die aanbidding van die "Sacred Bel". Om sy verbintenis met die brandende son aan te dui was die "Hart" soms ook voorgestel as 'n "heart of flame".
Vir jare lank al identifiseer ons die viering van Valentynsdag met die simboliek van die hartjies. Hulle is oor die jare heen aanvaar as die simbool van liefde sonder dat ons weet waar dit begin het! Al die simbole wat vir Valentynsdag gebruik word, kan toegeskryf word aan die aanbidding van die Babiloniese antichris Tammuz (die gereïnkarneerde Bel, Cupid, Osiris.
Maar is simboliek dan regtig van belang?
Maak dit enigsins saak as ek die simbole gebruik? Die term "simbool" word gebruik in 'n tweeledige sin. Eerstens vir die geïllustreerde verteenwoordiging van godsdienstige idees en tweedens vir die gesaghebbende geestelike/kerklike formulering van godsdienstige doktrines.
Dus moet ons die simboliek van Cupid met sy vlerkies, pyl en boog en hartjies beslis in 'n ernstige lig beskou, veral as ons vind dat dit sy oorsprong in die valse afgodediens in Babilon gehad het.
Dink verseker dat ons deur deel te neem aan hierdie soort Babiloniese fees ons die Here daardeur vertoorn. Want is dit dan nie tog maar nog steeds dieselfde fees met 'n nuwe baadjie aan nie?
'n Mens kan verstaan dat dit veral in die tyd waarin ons lewe belangrik is om te werk aan verhoudings, veral tussen getroudes. Dit is belangrik dat ons vir mekaar tyd maak om saam te verkeer, omdat ons gejaagde lewe veroorsaak dat ons andersins soms bymekaar verby lewe.
Ons as Christene kan mos besluit op 'n spesiale dag waarop ons ons geliefdes bederf en vir hulle geskenke koop sonder om Valentynsdag daarvoor te gebruik en sonder die simboliek uit die ou Babiloniese afgodery! Om egter te beweer dat ons as Christene so 'n dag mos kan kaap en dit met ons eie opregte bedoelings en goeie gesindhede kan vier, deug ook nie. Dit is en bly die dag van Cupid en bowendien gebruik mense wat so 'n stelling maak nog steeds dieselfde simboliek!
BRONNE:
Two Babylons - Alexander Hislop
New Schaff-Herzog - Encyclopedia of Religious Knowledge
Sex in Religion - G Simpson Marr (1936)
Babylon Mystery Religion - Woodrow
- Hierdie artikel is oorgeneem uit 'n pamflet onder die naam "Epistello" (Red- P vd K) -