Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
GESPREK MET DIE LESERS DIE VYFDE JAARGANGMet genoegdoening en dankbaarheid kan vermeld word dat vier jaargange van ons blad tot die voltooide verlede tyd verwys kan word. Nog-tans is elke uitgawe daarvan argiefstukke wat beskikbaar bly vir diegene wat dit wil naslaan. Dit is die mag van die geskrewe woord dat dit nie vervlieg soos die gesproke woord nie. Ons weet van talle intekenare op ons blad dat hulle die uitgawes soos wat hulle dit ontvang het op die een of andere wyse bewaar vir naslaan as dit vir hulle nodig is. Ons weet ook van verskeie ''rooflesers'', wat die blad lees by intekenare wat daarvoor betaal. Ons wil aan eersgenoemdes vriendelik versoek om self ook in te teken en so die sirkulasie van ons blad te help uitbou.
Die afgelope jare het die drukoplaag gestadig gegroei tot standhoudend en ons kan dus met dankbaarheid vermeld dat ons blad finansieel gesproke selfvoorsienend is.
AGTERSTALLIGE BETALINGS
Ons wil ook wys op die verskynsel, wat nie net ons blad raak nie maar algemeen is, naamlik van agterstallige betaling van finansiële bydraes.
Daarom versoek ons diegene wat dit aangaan om op te let op die adresstrokie op die koevert en seker te maak dat die getal 4 of 5 agter die naam van die geadresseerde verskyn. Indien dit nie die geval is nie versoek ons u vriendelik om in elk geval die vierde jaargang so spoedig as moontlik te vereffen. Die vyfde kan later vanjaar verreken word. Die vierde jaargang se standaard tarief bedra R 60-00 en die vyfde, soos reeds bekendgestel, R 70-00.
REDAKSIONEEL
In die loop van die afgelope vier jare van sy bestaan het ons blad, benewens 'n vaste leserskorps ook 'n aantal medewerkers aangetrek wat van tyd tot tyd kopie vir publikasie verskaf. Graag wil ons diegene wat op die een of ander wyse meegewerk het om die redaksie sinvol te maak, hartlik bedank daarvoor. So ook die drukker, br Johannes van Dyk, wat altyd klaarstaan om diens te lewer en br Nico van der Dussen wat ons talle kere uitgehelp het met rekenaarprobleme as daar was. Ook vir sy onbaatsugtige diensverskaffing om ons blad op Internet te laat verskyn. Ongelukkig het hy 'n groot en verantwoordelike werksbelading sodat die plasing op Internet partykeer eers enkele weke ná die fisiese verskyning van ons blad gedoen kon word.
Vir al ons intekenare en lesers bid ons die onmisbare seën, en in ons land se omstandighede besonder, die bewaring van die Here toe.®