Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
Hoofartikel
GEREFORMEERDE ETIEK
In sy tweedelige werk ''Teologiese Etiek'' skryf dr JA Heyns in die voorwoord dat, ''waar die mens en sy handelinge, sy worsteling om heroriëntering, sy soeke na nuwe norme en inhoude, sy waardebepaling van oorgelewerde norme, sy eksperimentering met nuwe stilering - waar dit alles in die sentrum staan, dáár het ons met die etiese problematiek by uitstek te doen''. Hy verwys ook na vandag se omstandighede dat nie meer dogmatiese strydvrae oor regsinnigheid en kettery mense besig hou, hulle uit mekaar dryf of hulle byme-kaar hou nie, maar dat etiese vraagstukke die volle aandag kry en ''hiér rondom word mense saamgetrek of skei die weë'' ... ''Ons het 'n wêreld binnegegaan waarin Christelike norme en waardes nie net ernstig bevraagteken nie, maar ook radikaal omgekeer word - geen wonder nie dat Christelike handelinge, individueel en kollektief, dan ook totaal problematies geword het'', aldus dr Heyns. In die lig hiervan kyk ons in hierdie artikel kortliks na die begrip en toepassing van Gereformeerde etiek.Die aktuele saak wat vandag aandag verlang, is die aanpassing by, of liewers, die aanvaarding of prinsipiële verwerping van die veranderende omstandig-hede aangaande die staat en samelewing. Met die oog daarop is dit van belang om dit te beoordeel en te benader vanuit die skriftuurlike nadenke daaroor. Nadenke oor die kwessies van hoe die omstandighede beoordeel en benader behoort te word is in die algemeen 'n filosofiese aangeleentheid, maar vir die Skrifgehoorsame Christen die bestudering van die praktiese toepassing van dit wat in God's Woord geopenbaar is. In altwee gevalle betref dit die dissipline of wetenskap wat bekendstaan as ethica of disciplina moralis.
Terwyl altwee begrippe, etiek en moraal, die bestudering van die menslike gedrag raak, is die laasgenoemde 'n aanduiding wat sy oorsprong vind in die rasionele moraalfilosofie. Hoewel albei handel oor die studieveld van die sedeleer en die sedelike gedrag en waardes, is die betekenis van etiek anders as dié van moraal. In Gereformeerde perspektief tipeer ons daarom die nadenke oor die menslike gedrag in die aktuele omstandighede van die bestaan, prinsipiëel, as etiek. Maar ook hieromtrent is daar benaderingsverskille wat onderskei kan word. Etiek betref die onderrig of vakgebied aangaande die norme vir die menslike handelinge in die persoonlike en maatskaplike bestaan. Dit word uiteenlopend benader, naamlik enersyds dat die etikus self, vanuit sy redelike denke, oor die godsdiens wat hy bely, dié norme beredeneer en bepaal - 'n vorm van rasionalisme - en, andersins om dit vanuit die bestudering van die Bybel, die belydenisskrifte en die Christelike bewussyn as maatstawwe en rigsnoere te staaf. Dit hang dan saam met dié deel van die teologiese wetenskappe wat as dogmatiek bekendstaan.
Die Gereformeerde etiek kan nie van sy dogmatiek geskei word nie. Die geloofsleer is bepalend vir die toepassing op die etiese vlakke van die menslike bestaan. Die menslike gevoelens is ondergeskik aan die Goddelike openbaring in sy Woord. Dogmatiek behels die wetenskap van geloofsdogmas; dit is die vasomlynde leerstukke waaroor nie meer geredeneer word nie, oftewel be-ginsels wat as bevestig beskou word, met ander woorde, die wetenskaplike beredenering van die onbetwyfelde Christelike, nader gespesifiseer, die Gereformeerde geloof. Dit is dus konfessioneel en kerklik bepaal en omlyn. So staan dit antiteties teenoor etiek uit ander oorde, allereers teenoor die nie-op-die-Bybel-gefundeerde (af-)godsdienste, maar daarbenewens ook, onder meer, teenoor die Rooms- en Grieks-Katolieke, Anabaptistiese, Lutherse en Deïstiese dogmatieke, dus ook teenoor hulle etiese motiverings.
Die konfessioneel gebonde etiek staan teenoorgesteld aan die filosofiese beskouings wat onderskei kan word as hedonisme (die leer wat glo dat genot die hoogste goed in die lewe is), evolusionisme (teorie in verband met die geleidelike ontwikkeling van, onder andere, die menslike denkvermoë) eudemonisme (nastrewing van die persoonlike, die eie geluk), utilisme (opvatting dat sedelike waarde deur nuttigheid bepaal word) ensovoorts, asook vandag se waardeleer, verwant aan die eksistensialisme (filosofie wat die nadruk lê op die bestaan van die mens en die rasionele oorsprong van norme wat noodwendig tydens die lewe ''ontdek'' of ''uitgevind'' moet word).
Daarenteen is die Gereformeerde etiek normatief volgens 'n hoër orde. Dit verwys na die enigste bron van wysheid wat die Heilige Skrif vir ons bied. Daaruit ken ons die diepere sin en betekenis van die lewe wat deur die sondeval versteur is. So weet ons dat die menslike natuur verdorwe, onbekwaam tot enig goed en geneig tot alle kwaad is. Ook dat die aarde vanweë die straf op die sonde vervloek is en dat daar 'n voortdurende vyandskap sal wees tussen die saad van die vrou (die kinders van die Here) en dié van Satan (die teenstanders van die Here en sy diens).
Die woordjie norm is ontleen aan die Latynse norma, wat maatstaf, rigsnoer beteken. Die norm is 'n waardemeter, 'n toetsmiddel om te bepaal waarmee iets behoort ooreen te stem, maar ook die eis waaraan dit behoort te voldoen. In dié betekenis kan norme as die van ons willekeur onafhanklike waardemeters vir die beoordeling van wat geld en van wat behoort te geld, gedefinieer word. Die normering van die Gereformeerde etiek is, soos hierbo gestel, gefundeer in die geopenbaarde wil van God. Omdat die verstaan daarvan onder andere bepaal word deur dogmatiese geloofsoortuigings word dit ondersteun deur 'n sistematiese uiteensetting van wat volgens dié openbaring die Christelike selfbepaling en etiek vir die benadering van die samelewing behoort te wees. Nie die subjektiewe denke van die mens nie maar die objektiewe kennis van God en sy Woord soos dit in die belydenisskrifte, in die besonder die Drie Formuliere van Eenheid, saamgetrek is, tesame met die hieruit voortspruitende beoordeling van die feite, is sowel toetsmiddel as eis vir die normering van Gereformeerde etiek.
Die praktiese toepassing van die bostaande teoretiese uiteensetting van Gereformeerde etiek raak die sake van die teenswoordige persoonlike en maatskaplike bestaan. Juis omdat dit saamhang met die dogmatiese verklaring van die inhoud van die Heilige Skrif is dié norme nie afhanklik van en aanpasbaar aan die van tyd tot tyd wisselende omstandighede nie, soos dr Heyns (hierbo) dit aanroer, dat ''ons 'n wêreld binnegegaan het waarin Christelike norme en waardes nie net ernstig bevraagteken nie, maar ook radikaal omgekeer word''.
In die persoonlike bestaan het dit betekenis met die oog op die toenemende vlaag van korrupsie, moord, verkragtings, roof en geweld wat uitgeoefen word. Dit raak die swak hantering deur die regering se wetgewende en uitvoerende gesag om die innerlike boosheid van die mense in toom te hou, onder meer deur die afskaffing van die doodstraf en volgens willekeurige en liberale regspleging en onverantwoordelike versagting van vonnisse.
In die maatskaplike bestaan is dit van betekenis met die omkering van die orde wat nie meer volgens die skriftuurlike liefde tot God en dáármee samehangend die liefde tot die naaste (die samevatting van die Tien Gebooie) is nie, maar dat dit nou gefundeer is op 'n akte van ''menseregte'' wat 'n liberaal sosialistiese gemotiveerde, 'n van en deur en tot die mens gerigte - in Heyns se woorde: - ''radikaal omgekeerde norme en waardes'', asook 'n sodanige veranderde staatsbestel is, waaraan ons tans onderwerp is. ®