Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
KERK, STAAT EN MAATSKAPPY DIE VERHOUDING TUSSEN DIE KERK EN DIE STAAT VOLGENS DIE SKRIF - 1 -- PROF DR ROELOF MARè -
1. InleidingWanneer die Christengelowige in 'n nuwe situasie kom waarin hy een of ander bedreiging ervaar, is dit nie vreemd dat hy leiding en antwoorde in die Skrif gaan soek nie. Trouens, so behoort dit te wees.
In Suid-Afrika vra die Boere-Afrikaner vandag (sal ons hom die etniese Afrikaner noem?) opnuut na die verhouding tussen owerheid en kerk, en tussen owerheid en onderdaan. Wat is die wil van die Here met betrekking tot hierdie verhoudinge? Het die kerk in die verlede klaar oor die saak gedink? Is die laaste woord gespreek? Die mens is geneig om aan sy situasie in sy navorsing oor wat die Bybel leer, 'n deurslaggewende plek af te staan.
Daarom is dit noodsaaklik dat nuwe besinning oor die onderwerp gepaard sal gaan met die opregte gebed dat die Here ons bewaar van:
enersyds, verknegting aan staatkundige en kerklike tradisies, sonder toetsing aan die eise van die Skrif;
andersyds, verlating van die skriftuurlike pad deur die Bybel te laat buikspreek ten einde 'n volks- of politieke voorkeur te dien. Tradisies wat met die Skrif rekening gehou het, hoef nie te laat vaar word in naam van die ''nuwe denke'' nie.
Tog moet dié twee gevare ons nie laat terugdeins van nuwe denke nie. Onbevange moet ons na die Skrif luister al sou dit beteken dat ons in botsing kom met gevestigde opvattings en met sekere standpunte van leiers op teologiese en staatkundige terrein, vir wie ons nog altyd die hoogste agting gehad het en wat ons as gawes van die Here beskou het.
Ons moet dus eerlik met die Woord van God omgaan, nie pasifisties ''his master's voices'' van mense wees nie, maar ook nie vrye teuels gee aan 'n rewolusionêre oue mens nie. Daar word ook vandag gevra of die beoefening van Christelike politiek hoegenaamd moontlik is in Suid-Afrika.
In hierdie reeks word besonderlik aandag verleen aan Johannes Calvyn en Herman Bavinck se verstaan van uitsprake in die Skrif wat met die verhouding tussen die owerheid en die kerk te doen het.
2. Uniekheid van die kerk
Die kerk verskil ingrypend van die staat ten opsigte van byvoorbeeld sy oorsprong, aard, dienste (ampte), middele, gesag en doel.
2.1 Oorsprong en aard
Christus sê dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie (Joh 18: 36). Hy het die fondament van die kerk deur die apostels en profete gelê en Hy is self die hoeksteen daarvan (Ef 2: 20). Die gemeente wat Hy bou (die volk van God), hou Hy so in stand dat die poorte van die doderyk dit nie sal oorweldig nie (Matt 16: 18). Die kerk is voorwerp van God se verkiesende liefde. Van geen ander samelewingsverband kan gesê word dat dit die sigbare openbaring van die liggaam van Christus, die volk van God, die gemeenskap van die heiliges is nie.
Hierdie feite het besliste konsekwensies vir die verhouding tussen die kerk en die staat. Die staat is wel deur God in sy voorsienigheid beskik en het 'n bepaalde roeping, maar hy kan nooit die kerk vervang of op sy plek staan nie. Soos wat die kerk die staat moet eerbiedig, moet die staat ook die kerk erken en respekteer.
2.2 Dienste en middele
In die kerk gebruik die Here dienste (ampte) wat sy wil, soos dit in die Skrif geopenbaar is, moet bedien - die staat vaardig wette uit en dwing onderwerping af. Die kerk gebruik die geestelike wapens van verkon-diging en getuienis - die staat dra die swaard en kan selfs geweld toepas (NGB, art 36).
2.3 Gesag
Die kerk het nie gesag in homself nie. Hy moet die gesag van die Hoof van die kerk bedien. Die mag van die kerk is geestelik. Christus regeer sy kerk self deur sy Woord en Gees en gebruik in dié proses besonderlik die amp van die ouderling. Die sleutelmag wat aan die kerk gegee is (Matt 16: 19), het ewigheidsbetekenis.
Dit beteken dat die owerheid nie die skriftuurlike tug van die kerk deur 'n akte van menseregte mag vervang of dit relativeer nie. Aan die ander kant mag die kerk sy regering ook nie opsetlik, bewustelik of stilswyend aan die owerheid oorlaat nie. Omdat Christus tot die dienste (ampte) roep en bekwaam en dit in sy regering gebruik, mag die regering van die kerk selfs nie aan 'n Christelike owerheid oorgedra word nie. Die roepings van die kerk en die staat verskil - in die kerk word byvoorbeeld getuig terwyl die staat vonnis en straf. Die kerk oefen tug uit oor sekere sake wat nie deur die staat strafbaar is nie (byvoorbeeld hoerery).
2.4 Selfstandigheid
Christus bou sy kerk (Matt 16: 18). Hy gee daarin 'n verskeidenheid van geestelike gawes; die kerk is 'n liefdesgemeenskap (1 Kor 11, 12). Hy skenk aan die kerk apostels, evangeliste, herders en leraars om die heiliges toe te rus (Ef 4: 11, 12). Hy werk deur genadegawes van profesie, bediening, lering, vermaning, ensovoorts (Rom 12: 6).
Die Here Jesus organiseer sy kerk as 'n selfstandige entiteit. Hierdie gawes gee Hy nie aan die wêreldlike regerings nie. Die kerk moet Christus se mag bedien deur die prediking van die Woord, die bediening van die sakramente en die kerklike tug, die sleutels van die hemelryk. Die kerk moet leer, vermaan en vertroos. Die geestelike mag is wesentlik te onderskei van alle ander mag. In die lig van die uniekheid van die kerk is dit duidelik dat hy op 'n andere wyse te werk gaan as die staat.
Die kerk (let wel: die kerk en nie die lidmate wat tegelykertyd burgers van die staat is nie) mag nie prakties deel hê aan dade van ongehoorsaamheid aan die owerheid nie, maar is wel geroepe om oor sake soos gehoorsaamheid aan die owerheid, die betaling van belasting, burgerlike ongehoorsaamheid, verset, geweld en aanverwante sake aan sy lidmate skriftuurlike leiding te gee. In dié proses mag die uitleg en interpretasie van die Skrif nie deur die eie situasie oorwoeker word nie. Partypolitiek behoort ook nie van die kansels af verkondig te word nie. Tog moet die inhoud van die Skrif onverskrokke en onvervals verkondig word.
3. Die staat as instelling van God
Hier word volstaan met 'n paar opmerkings oor die oorsprong en mag van die owerheid, asook oor die bybelse gedagte van loon en straf.
3.1 Oorsprong
Die beginsel van 'n wêreldlike regering (owerheid) word in Genesis 9: 5, 6 aangetref. Nadat Noag die ark verlaat het, sê God onder meer aan hom: ''... Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis. Hy wat die bloed van die mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word.''
In die Ou Testament was daar 'n baie nou band tussen die kerk en die staat, maar hulle was nie dieselfde nie. Ná die toring van Babel kom owerhede deur die voorsienigheid van God onder alle volke voor. Alhoewel kerk en volk in Israel baie nou verwant was, was die onderskeid tussen priester en koning, tussen tempel en paleis, tussen godsdienstige en burgerlike wette steeds gehandhaaf. Moses en Aäron het hulle onderskeie take gehad. Later het die oudstes en hoofde van stamme oor gewigtige sake in 'n volksvergadering beslis. Net in die hoogste geregshof het ook priesters sitting gehad, maar dan hoofsaaklik in hul hoedanighede as leiers in die volk (Deut 17: 8 - 13; 19: 17, 18). Priesters het nie staat-kundige mag gehad nie. Profete het ingetree om aan die owerhede God's wil en oordele te verkondig.
In Israel was daar prinsipieel 'n teokrasie. God is beskou as die eintlike Koning, Wetgewer en Regter (Jes 33: 22). Die aardse koning is gebonde aan die wet van God (Deut 17: 14 - 20; 1 Sam 10: 25). Die owerheid was verplig om God se wil op sy eie terrein te handhaaf (Ex 22: 18, 20; Lev 20: 2, 6, 27; 24: 11 - 16; Num 25: 5, 7; Deut 13: 1 - 5, 17: 2 - 7; 18: 9 - 12).
In die Nuwe Testament stel Romeine 13 dit baie duidelik dat daar geen mag oor die mens gestel is wat nie van God af kom nie.
3.2 Mag
Die mag van alle owerhede is ondergeskik aan dié van God. Hy het mag oor die konings van die aarde. Hy sit konings af en stel konings aan (Dan 2: 21). Die God van die hemel het die koningskap aan Nebukadnésar gegee (vs 37). Die owerhede is 'n instelling van God (Rom 13: 2)
'n Kragtelose owerheid is, in die ware sin van die woord, geen owerheid nie. Dis deur die wysheid van die Here dat konings regeer, maghebbers vasstel wat reg is, en vorste heers (Spr 8: 15, 16). God verleen aan die ower-heid die swaardmag om die een wat kwaad doen te straf (Rom 13: 4). Daaruit volg dat iemand wat hom teen die owerheid verset, hom eintlik teen God verset (vs 2).
Owerhede het dus die bevoegdheid om wette te maak, howe in te stel, tronke op te rig, reg en geregtigheid te handhaaf, en selfs die doodstraf te voltrek (vgl Gen 9: 6).
Die Skrif leer egter ook dat die staat in sy mag beperk is:
die woorde: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense (Hand 5: 29) geld ons verhouding tot alle owerhede (vgl ook Hand 4: 19);
die uitspraak dat aan die keiser betaal moet word wat aan hom toekom, moet ondergeskik gesien word aan die bevel dat aan God betaal moet word wat Hóm toekom (Matt 22: 21).
Calvyn (Inst IV. 20. 32) stel dit duidelik dat ons gehoorsaamheid aan die owerheid ons nie mag wegtrek van God , of sy toorn mag verwek nie - dit sou neerkom op behaging van mense. Ons mag geen waarde heg aan 'n owerheidsbevel wat teen God ingaan nie. In dié geval moet ons nie vir die owerheid terugdeins nie. Toe Daniël uit die leeukuil kom, sê hy aan die koning dat sy optrede wat veroorsaak het dat hy in die kuil gegooi is, hom nie skuldig voor God gestel het nie; dat hy daarom ook nie teen die koning oortree het nie (Dan 6: 23). 'n Onderdaan wat God gehoorsaam en daardeur in kon-frontasie met die owerheid kom, oortree nie teen die Here of teen die owerheid nie. Dan is dit die owerheid wat oortree het, en wel teen God. Calvyn sê hiervan dat die oomblik toe die owerheid in sy besluit sy bevoegdheid wat hy van die Here ontvang het te buite gegaan het, hy sy eie mag vernietig het.
Efraim word verwyt dat hy te inskiklik teenoor die koning was (Hos 5: 11). Gehoorsaamheid aan 'n owerheidsbevel wat teen God ingaan, met die argument dat die owerheid gehoorsaam moet word, sê Calvyn (Inst IV. 20. 32), is 'n dekmantel vir die onderdane se skande - ons moet maar liewer enigiets lei as om van ons Godsvrug af te wyk.
3.3 Loon en straf
Die feit dat die staat in die Skrif aan loon en straf verbind word, beteken dat die staat sy burgers moet beskerm, sy samelewingsorde in stand moet hou, die staat se welsyn op die hart moet dra, en die reg moet handhaaf.
Die owerheid is deur God met mag beklee om (onder meer) sy onderdane teen slegte burgers te beskerm. Dit is wat daarmee bedoel word as daar gesê word dat jy lof van die owerheid sal ontvang (Rom 13: 3), of dat die owerheid die wat goed doen, sal prys (1 Pet 2: 14). Wanneer jou regsaak beoordeel word, sal jy vry uit-gaan. Calvyn (Inst IV. 20. 9) sê dat die hele staatsorde in duie stort wanneer die skriftuurlike beginsel van loon en straf nie gehandhaaf word nie.
(Word vervolg)