Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
MEDIESE ETIEK DIE MAATSTAF VIR MORALITEIT - DR MC DURAND - Met 'n vorige artikel oor die bybelse etiek is aangetoon dat die maatstaf vir moraliteit nie van die omgewing (hetsy die diereryk, die mensdom of die geskiedenis) afgelei kan word nie. Die doel van hierdie bydrae is om aan te toon dat die maatstaf vir moraliteit ook nie in die hart van die mens te vind is nie.Alhoewel ons mag saamstem dat dié maatstaf nie uit die diereryk of die mensdom, wat 'n hele klomp heidene insluit, afgelei kan word nie, kan ons steeds voor die versoeking kom om te dink dat die gelowige 'n beter en betroubare maatstaf kan bied vir die meting van die moraliteit. Die gelowige is immers na die beeld van God geskape en herskep. Die gelowige met sy vernieude en geheiligde morele bewussyn sal tog beter kan vaar as die diere en die heidendom. die gelowige behoort tog 'n mate van intuïtiewe vermoë te hê om tussen goed en kwaad te kan onderskei. Sou die vernieude morele bewussyn nie riglyne daarvoor kan saamstel nie? Sou die wedergebore (vernieude) mense nie in staat wees om in moeilike omstandighede spontaan die regte antwoorde te gee nie? Indien dit alles waar sou wees, is daar niks wat ons sal verhinder om ons te verbeel dat na baie eeue daar onder gelowiges 'n tradisie, 'n konsensus van gedrag, sou kon ontstaan wat as bybelse etiek getipeer sou kon word nie.
Ter motivering van hierdie stellings kan selfs 'n beroep op Romeine 2 : 14, 15 gedoen word, waar ons geleer word dat die werk van die wet op die harte van die heidene geskryf is en dat hulle dinge doen wat in ooreenstemming met die wet is, en dade vermy wat die wet verbied. Dit is amper voor die hand liggend om af te lei dat indien die heidene reeds goeie dade uit nature kan doen, sou die gelowiges ten minste dan ook in staat kon wees om goeie dinge intuïtief te kan doen, veral omdat God sy wette immers ook op die harte van gelowiges geskryf het (Jer 31: 33).
Voorts kan ook 'n beroep op die liefde gedoen word. Want die liefde in die mens is die vervulling van die wet en die hele wet en die profete hang aan die liefde (Rom 13: 10; Matt 22: 37 - 40). Die liefde in ons harte is immers vanweë die liefde van God na ons. Dit is hierdie liefde van God na ons wat die oorsaak is van ons liefde tot God en ons naaste. Sou dit daarom nie die maatstaf en die oorsaak van die goeie werke kan wees nie? Met ander woorde, sal die gelowige met hierdie liefde in sy hart nie intuïtief weet wat die verskil tussen reg en verkeerd is nie?
Teen hierdie misopvattings moet sterk standpunt ingeneem word. Want dit is misleidend!
Dit is belangrik om daarop te let dat die liefde allereers 'n bevel van God is en nie vanselfsprekend die besit of vermoë van die mens is nie. Die liefde in ons is deur die Here se genade die gehooraamheid aan God se bevel, in die mate wat dit deur Hom bepaal word. Die liefde is 'n bevel en soos met alle ander bevele bring dit nie outomaties die gehoorsaamheid as sulks nie. Dié bevel skep nie die liefde nie. Die liefde is nie die wet nie. Dit voorsien ook nie sy eie morele maatstaf nie. Die herbore hart wat gehoorsaam aan die bevel van die liefde is, word nie toegelaat om spontaan sy eie etiek te versin en te bepaal nie.
Van die begin af vind ons dat beide, die norme en de maatstawwe daarvan, objektief aan die mens geopenbaar is. Die mens word nie toegelaat om aan die hand van sy persoonlike intuïsie of die liefde in sy hart die pad van die lewe oop te kap nie. Daardie pad word aan die mens geopenbaar en voorgeskryf.
Dié liefde kan slegs bestaan in God se openbaring, naamlik die wet van God wat dit beveel. Die liefde sal ons dring om die wet van God nie net na te kom nie, maar om dit ook gewillig en met vreugde te doen. Die gebod van die liefde sal ons gewillig maak om die wet van God uit te voer, wat impliseer dat ons ons eie rasionele moraal of wette sal laat vaar.
Die gelowige kan nie die wet op sy eie hart lees nie. Die wet wat op ons harte geskryf is (Jer 31: 33; Heb 8: 10, 10; 16) is niks anders as die wet wat die Skrif aan ons geopenbaar het nie. Die liefde wat ons in ons harte vind is primêr die vrug van gehoorsaamheid aan die eise van God. Dit is hierdie liefde wat by ons die liefde tot die gehoorsaamheid aan die wet van God lei. Dit is ook hierdie liefde wat ons dring tot die vreugdevolle nakoming daarvan (Ps 40: 9).
Ook vóór die sondeval was die inherente intuïsie en ratio van die mens nie voldoende vir die rigting wat die mens sou inslaan nie. Die beoefening, die perke en die doel van die menslike vermoëns is ook toe deur die besondere openbaring, die direkte leiding van die Here, tot die mens gebring.
Die liefde, al sou dit hoe volmaak in die mens ge-wees het, is nie sy eie wet nie. Die vernieude gewete, al is dit hóe rein, is nie sy eie monitor nie. Laat daar geen twyfel wees, die maatstaf vir die menslike doen en late vind ons nie in die omgewing, die omstandighede, nóg in die tradisie of hart van die gelowiges nie!