Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
OPVOEDING EN ONDERWYS AKADEMIE VIR CVHO VYF JAAR OUD Die Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys is op 31 Januarie 1996 opgerig en het pas sy vyfde bestaansjaar afgesluit. Die jaar het op hoë noot afgesluit met studente wat goed en selfs uitstekend presteer het, en die Akademie berei hom voor vir n nuwe jaar van groei en vooruitgang.Die toppresteerder vir 2000 is mej Lenie Theron wat n gemiddelde van 86,7% in die eerste jaar van Calvinistiese Opvoedkunde en Onderwyskunde behaal het. Daarbenewens het nog vier studente baie naby n onderskeidingsgemiddelde van 75% gekom, naamlik mejj Mariette Coetzee, Naomi Hamman en Christine Pretorius (aldrie opvoedkundestudente in die eerste jaar) en mej Tharina Scheepers wat die vierde jaar in Elektroniese Ingenieurskunde voltooi het. Met inbegrip van hierdie vier het altesaam nege studente n eersteklas-gemiddelde (65-74%) behaal.
Die Waarnemende Rektor, prof Alkmaar Swart, het sy gelukwense teenoor alle studente uitgespreek. Die uitslae stem tot groot dankbaarheid omdat dit toon dat die studente met oorgawe en ywer hulle talente en geleenthede benut om aan die hoë vereistes wat die Akademie te voldoen. Die Akademie is vir en ten behoewe van ons volk opgerig en daar heers by die Raad en Bestuur alleen maar dankbaarheid dat die HERE sy seën oor die onderneming in alle opsigte ryklik toon. Hy bedank verder al die dosente en andere wat met groot toegewydheid en dikwels met groot opoffering hulle dienste aan en ten behoewe van die Akademie lewer. Die Christelik-volkseie aard van die Akademie beteken dat hierdie diens in diens van die Koninkryk van onse Here Jesus Christus staan en van daaruit tot voordeel van ons volk dien.
Die Akademie het hom die afgelope vyf jaar as Christelik-volkseie instelling vir hoër onderwys gevestig, gerig op die Boere-Afrikaner van Calvinisties-gereformeerde inslag. Inderdaad staan die Akademie op die smalstandige grondslag van onderwys bin-ne Verbondsverband en binne volksverband. Dat hierdie smal-standigheid byval vind, blyk uit die sterk groei van die Akademie. Van n beskeie ses inskrywings in 1996, waarvan slegs drie die eerstejaar voltooi het, het die studentetal tot 25 in 2000 gegroei nadat ses studente aan die einde van 1999 hulle kursusse voltooi en hulle kwalifikasies ontvang het. Volgens die aanmeldings wat tot dusver ontvang is, kan die studentetal tot 40 in 2001 groei.
Die groei in studentetal laat n gesonde studentelewe ontwikkel. Sedert Julie 1999 is daar n Studenteraad wat studentebedrywighede op talle vlakke koördineer en ontwikkel. Die studente tree toenemend na buite op en is uitstekende ambassadeurs van die Akademie. Ook die ouers raak toenemend betrokke en word in n Ouervergadering saamgebind.
Groei en ontwikkeling kom ook in kursusse en vakke voor. In 1996 was daar twee Institute, naamlik Calvinistiese Opvoedkunde en Onderwyskunde, en Ekonomiese Wetenskappe. In 1997 het Ingenieurskunde bygekom en in 2001 word Landboukunde toegevoeg. Daarbenewens word n graadkursus in Rekenaarkunde 2001, asook Sielkunde en Kuns en Kunsgeskiedenis toegevoeg.
Die Sesde amptelike opening van die Akademie vir CVHO vind DV op 2 Februarie 2001 in die Paul Krugerkerk te Pretoria plaas en belangstellendes is hartlik welkom. By hierdie geleentheid ken die Akademie DV sy eerste interne Professoraat aan dr Pieter van der Dussen, Registrateur en Hoof van die Instituut vir Ekonomiese Wetenskappe, toe en lewer hy sy intreerede.
Persone wat die openingsgeleentheid wil bywoon of belangstel in die werksaamhede van die Akademie, kan mnr Lourens Badenhorst (Assistent- Registrateur) by (012) 361-0168 of 083-512-9468 skakel. Dit sluit voornemende studente in. Inskrywing geskied DV op 2 Februarie 2001 vanaf 08:00.
Dr P van der Dussen. Pretoria, 19 Desember 2000