Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
PERSRUBRIEK HERVORM NA DIE EIS VAN DIE WOORD Dr JH Breytenbach, leraar van die NH Kerk, gemeente Wonderboom-Suid, Pretoria, skryf in DIE HERVORMER van 1 November 2000 soos volg:Die afgelope maand het twee belangrike byeenkomste in die kerk plaasgevind: die ope dag van die Hervormde Teologiese Kollege en die Predikantevergadering. Uitsprake wat tydens die byeenkomste deur bekende teoloë gemaak is, verplig die kerk om met die grootste ernst indringend te vra of hy nog kerk is en kerk wil wees.
Ons glo en bely dat ons die ware kerk sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei ... aangesien al die sektes ... hulle ten onregte die naam kerk toeëien (NGB art 29).
Onder glo en bely verstaan ek dat ons soos die kerk en saam met die kerk oortuig is van die waarheid van die Woord van God en dit in dié oortuiging nasê. Al is dit ook skynbaar deesdae, volgens sommige van die bekendste teoloë van die kerk, nie meer moontlik om die belydenisskrifte as uitdrukking van ons geloof na te volg nie, meen ek dat ons nog daaraan gebind is. In dié oortuiging moet ons dan ook nou sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God onderskei of ons as kerk nog die kenmerke van die ware kerk dra. Dit veral in die lig van prof Van Aarde se waarskuwing op die dag dat as die kerk nie die eenheidsweg gaan en oor twintig jaar kleurblind is nie, ons 'n sekte sal word - dus nie meer ware kerk sal wees nie.
Maar ons glo en bely dat die ware kerk aan drie dinge herken kan word, te wete ... dat die kerk die evangelie suiwer preek; dat dit die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het; dat dit die kerklike tug gebruik om sondes te straf (NGB, art 29).
Wanneer teoloë en predikante die opstanding van Jesus Christus as 'n historiese werklikheid ontken; die maagdelike geboorte van Jesus nie meer aanvaar nie; die Bybel nie langer as die laaste gesag vir die kerk aanvaar nie; die belydenisskrifte voortdurend verdag maak en die prediking in die kerk deurtrek is van Arminianisme, moralisering en charismatiese klemtone - verkondig die kerk dan nog die evangelie suiwer?
Is daar hoegenaamd nog sekerheid oor hoe die suiwer verkondiging van die evangelie daar uitsien? Of is kerklike etos en teologiese tradisie die hol slagspreuke waaraan ons nog vashou om daarmee te sê dat ons kerk is?
Die predikantevergadering werp die tweede vraag op: Is die kerk nog seker oor die suiwer bediening van die sakramente? Moet ons die nagmaal aan kinders bedien of liefs die doop eers aan volwassenes? Verstaan ons die doop as verbondsteken nog reg, terwyl dit dan nou 'n leuen is, Nuwe Testamenties gesien, dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het? Weet ons hoegenaamd waaroor dit in doop en nagmaal gaan as die getuienis van die Skrif dan so uiteenlopend, die tradisie so bont en die gebruik van die kerk so inkonsekwent is?
Oor die kerklike tug hoef ons eintlik niks te sê nie. In die praktyk het dit, so kom dit voor, in die kerk in onbruik geraak.
As dit maar net in 'n mate só is dat die kerk nie meer seker is van die ware evangelie nie; van die suiwer bedening van die sakramente nie; van die toepassing van die kerklike tug nie; dán loop hy gevaar om werklik 'n sekte te word. Daarom is dit die sake waaroor ons as kerk nie langer kan uitstel om indringend te besin; die huis skoon te maak en na die wortels weer te hervorm nie - te hervorm na die eise van God se Woord.
In die kerkwees van die kerk het sake soos kleurblindheid; die afsweer van sy volkskerkbegrip; die ontdekking van die kind as lidmaat, en dergelike dinge nie 'n groot gewig nie. Dit is sake wat deur die gees van die tyd op die tafel geplaas word.
Vir die kerk se kerkwees en sy toekoms as kerk is die vraag of ons nog die ware evangelie suiwer verkondig, die sakramente reg bedien en die tug handhaaf, dié vraag wat hy moet beantwoord.