Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 1 Januarie 2001
REDAKSIONEEL Die jaar 2000 het verbygegaan en die nuwe jaar AD 2001 lę voor. Hoe gaan ons as Christene, as Afrikaner volksgenote dit tegemoet? Daar is volop rede vir ernstige bekommernis. Allereers die fisiese veiligheid en ekonomiese oorlewing in ons land wat in die volksmond 'n "gangster paradise" geword het.Die afgelope munisipale verkiesings op 5 Desember het die diepe verdeeldheid in ons volksgeledere aangetoon. Enersyds dat pragmaties die liberale grondslag van die eenheidstaat van die ''nuwe Suid-Afrika'', met die massale ondersteuning van die Demokratiese Alliansie wat sonder bybelse norme bloot die ANC opponeer, aanvaar is. Andersyds dat die volk, feitlik leierloos, die stembus gelos het in die besef dat daar geen heil in is om te stem in 'n staatkundige bestel wat al hoe meer goddeloosheid in die wetgewing bevorder en rampspoed oor ons bring.
Die diepste oorsaak van die bekommernis, verdeling en leierloosheid is dat kennis ontbreek om sake in die perspektief van God se Woord te beoordeel en daarvolgens te handel. Ons blad se verskyning en sy redaksie is 'n poging om stelselmatig die sake van die daaglikse bestaan, die kerklike en sosiale vraagstukke in die Afrikaner volkslewe, te bespreek en toe te lig met die teoretiese en praktiese kennis wat in die lig van die Skrif en deur Skrifgetroue voorgangers op die diverse terreine van die lewe, aan ons oorgelewer is.
So gaan ons die nuwe jaar, wat ons blad betref die vyfde jaargang, tegemoet in die Christelike hoop en vertroue dat die getroue God ook hierdie jaar vir ons die vaste burg en 'n vesting in die nood sal wees. Sy Woord hou stand in ewigheid, geen mag kan dit laat wyk nie!
®