Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 1 Januarie 1999
Opvoeding en Onderwys
ARSO
VORDERING OP DIE PAD VORENTOE
Seakle Godschalk - ARSO - Voorsitter
Sedert die begin van 1998 het beide skoolverenigings van die Vrye Gereformeerde Kerke in Pretoria en Kaapstad, asook die Vaaldriehoek Gereformeerde Ouervereniging en die Stigting vir Reformatoriese Onderwys (Rehobotskool) in Randburg as assosiaatlede by ARSO aangesluit. Dit bring die totaal van skole/skool-verenigings by ARSO aangesluit op nege te staan. Hierdeur word die kragte wat beskikbaar is om saam te werk aan Gereformeerde onderwys sterker.
Mense kan dalk wonder wat ARSO werklik vir sy lidverenigings beteken. Op sy vergadering van 10 Oktober het die ARSO-bestuur 'n aksieplan aanvaar waarin sy optrede vir die komende jaar beplan word. Optrede is beide, intern sowel as ekstern, gerig. Intern word volgehoue ondersteuning aan die ontwikkeling van 'n eie Gereformeerde kurrikulum gegee, 'n projek wat mooi vorder. Op 24 Oktober is die negende werksessie in dié verband gehou.
Verder is besluit om in 1999 'n Toerustingseminaar vir personeellede sowel as bestuurslede van aangeslote skole/skoolverenigings te reël. Die Gereformeerde Skoolvereniging Dirk Postma het aangebied om as gasheer van hierdie eerste seminaar op te tree.
Verder het ons begin reël vir beskikbaarheid van regshulp en -advies vir lidverenigings. Daar is reeds 'n toepaslik gekwalifiseerde broeder prokureur in Pietersburg wat beskikbaar is om advies met betrekking tot arbeidsaangeleenthede te verskaf. Ons nader tans ook ander persone.
'n Ondersoek na die moontlikheid van satelietskole om kleiner groepe Gereformeerde ouers op afgeleë plekke te kan help, is as 'n besliste doelwit vir 1999 gestel. Ons hoop om iets in dié lyn vanaf die jaar 2000 te kan implementeer indien dit haalbaar is.
ARSO wil ook graag sy kontakte na buite verder uitbou, veral in plekke waar daar nog geen plaaslike inisiatiewe bestaan nie. Ons vra daarom dat u vir ons name en adresse van medegelowiges wat die saak van Gereformeerde onderwys ondersteun in sulke plekke, aan ons sal deurstuur sodat ons hulle kan nader. Saam met ouers wat vanaf bestaande skole verhuis het, mag dit dalk net genoeg wees om nuwe groeipunte te vorm.
Op versoek van medeGereformeerdes in Namibië het ARSO geld bewillig en twee bestuurslede afgevaardig om gedurende die afgelope Julie-vakansie Aranos te besoek om ons medegelowiges met raad by te staan ten opsigte van hul begeerte na Gereformeerde onderwys. Wat 'n verrykende ervaring vir die broeders Attie Juyn en ds Gerrie van Wyk!
Om kommunikasie te bevorder beskik ARSO tans oor sy eie E-posadres by die kantoor: arso@lantic.co.za
Ook word daar tans gewerk aan die totstandkoming van 'n tuisblad. Gebruikmaking van die elektroniese medium stel ons in staat om soveel meer doetreffend te kan werk oor groot afstande. Ons is die Here dankbaar vir die geleenthede wat Hy skenk om in sy Koninkryk te arbei.
Oorgeneem uit: "By die Waterstroom", Skoolkoerant van die Gereformeerde Skool Dirk Postma, November 1998, Bladsy 23/24