Ander Uitgawes

Inhoud

HOOFARTIKEL:
2000 - Op pad Waarheen?   Redaksioneel.

AKTUEEL: 
"The last Temptation of Christ"
Die kerk op pad na die een-en-twintigste eeu.

SKRIFOORRDENKING:  Kom, Here Jesus, ja kom gou!  (2 Tess 2 : 7,8)

KINDERKOMMUNIE:  Reformasie of Deformasie?

DIE NOU POORT: 
Kritiek op omstrede artikel dr W Nicol.

NOG 'N NG PREDIKANT BEDANK UIT SY KERKVERBAND.

BOEKBESPREKING: 
"Die vreemde God en sy mense".

LITURGIE EN "ONS KERKE SE LEWE".

KERKLIKE JOERNAAL:  Part Sinode Noord-Transvaal besluit nogmaals oor kelkie/bekergeskil
Dr PW Bingle bevestig omstrede huwelik   van mnr FW de Klerk
Praxis Pietatis - "Eerste Spiritualiteitsretraite vir Teologiese Studente".

OPVOEDING EN ONDERWYS: 
ARSO - Vordering op die pad vorentoe
AKB-Verklaring insake die verantwoordelikheid van die Christen-onderwyser binne neutrale openbare skole

ONBYBELSE, ANTI-CHRISTELIKE RELIGIEUSE ONTWIKKELING.

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: 
Ware betekenis van die Calvinisme
9.  Groen van Prinsterer 1801 - 1876 (3)

GESEëND SAL JY WEES: Die verrigtinge van die VGK-Geloftedagfees 1997 te Pretoria.

PERSRUBRIEK: 
"Die droom waarvoor so baie van ons voorouers gestry het"
Waarheen is stemmingmakery oor Allah op pad?

KOMMENTAAR:
Die TSP se relasie met die PU vir CHO:
'n  Dreigende Gevaar?

POLITIEKE KRONIEK:
Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof en wêreldbeskouing (4).

GESPREK MET DIE LESERS: 
Die derde jaargang;   Aansluiting op Internet;  Kuratore TSP.

MEDIESE ETIEK: 
Begrafnis van ontslapenes in die lig van die Skrif.

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 1  Januarie  1999

NOG 'N NG PREDIKANT BEDANK UIT SY KERKVERBAND

Ds Fried Ferreira, tot onlangs 'n leraar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Waverley, Pretoria, het sedert 1990 met die spreekwoordelike swaard bo sy hoof geloop as gevolg van sy behoudende standpunt rakende die vrou in die leer- en regeerampte van die kerk. Ná die laaste Algemene Sinode (1998) is die saak op die spits gedryf en het dit hom geen ander keuse gelaat as om uit sy kerk te bedank nie. Na bykans 25 jaar in die bediening het sy reformatoriese oortuiging uiteindelik gelei tot sy onttrekking uit die NG kerkverband. Vir hierdie reformatoriese daad en die konsekwensies wat dit vir hom en sy gesin meebring, is ons die Here innig dankbaar. Ons denk aan hom in ons gebede, dat die Here hierdie broeder en gesin op 'n ryke wyse mag vertroos en nog gebruik in sy diens. Ds Ferreira berig op ons versoek hieroor as volg:

Op versoek van die redakteur gee ek hiermee 'n kort weergawe van die aanleidende oorsake wat gelei het tot my bedanking uit die Ned Ger Kerk.

Oor die afgelope nagenoeg 25 Jaar het daar in dié kerk algaande 'n verskuiwing plaasgevind. Dit word bevestig deur, onder andere dr L van Deventer, wat in DIE KERKBODE van 19 Januarie 1990 skryf oor 'n "verskuiwing in Skrifbeskouing en Skrifgebruik", en deur prof Louis Heyns, wat in die uitgawe van 29 November 1991, gewag maak van 'n verskuiwing wat in die afgelope jare in die teologiese denke van die NG Kerk plaasgevind het. Onlangs het prof Pieter Potgieter dié veranderings beaam in die boek: "Is die NG Kerk nog die NG Kerk?"

Genoemde verskuiwing het in die laaste paar jaar momentum gekry. Die reformatoriese standpunt dat die Bybel die Woord van God is word al meer verdring deur dié wat sê dat die Bybel geloofsgetuienisse is van mense wat lank gelede geleef het. Die Bybel word dus al meer woord óór God, in plaas van Woord ván God. Al meer teoloë het begin om hierdie nuwe insigte openlik te propageer, soos proff F Deist, in: "Sê God so?" (bl 47 - 48) en IJJ Spangenberg, in: "Perspektiewe op die Bybel". Genoemde beskouing van die Bybel hang saam met 'n bepaalde hantering daarvan. Mense wat die Bybel geskryf het - so word gesê -  was kinders van hul tyd en daarom het die tyd en kultuur waarin hulle geleef het ook medebepaal wat hulle geskryf het. Namate die tyd en kultuur verander het, het bepaalde sake waaroor hulle geskryf het vir ons minder aktueel geword en is ons nie meer daaraan gebonde nie.

Hierdie tendens het gemaak dat ek al meer soos 'n vreemdeling in die kerk begin voel het. Dit was asof hy 'n taal begin praat het wat al hoe vreemder op my ore geval het. Ek het met die amptelike bediening voortgegaan in die hoop dat ek 'n behoudende stem kon laat hoor het, onder andere, as 'n stigterslid van die "Werkgemeenskap vir Kerkreformasie". Een of ander tyd moes dié tendens ook in sinodale besluite weerspieël word. In 1990 besluit die Algemene Sinode dan ook om vrouens tot die leer- en regeerampte toe te laat. Daarop het ek die kerkraad ingelig dat ek dié besluit nie kan versoen met die Woord van God nie en dat ek voornemens is om my protes by wyse van 'n gravamen onder aandag van die Sinode te bring. Ek het nie my weg oopgesien om vrouens in die genoemde ampte te bevestig nie.

Dié gravamen het in 1995 voor die Sinode van Noord-Transvaal gedien waar dit van die hand gewys is. By die eersvolgende kerkraadsvergadering het ek onder andere genoem dat my siening van die saak nie verander het nie, dat ek wel passief met dié praktyk sal saamleef maar dat my gewete my nie sal toelaat om aktief daaraan mee te doen deur die bevestiging van vroue in die ampte van ouderling en predikant nie. Die kerkraad het die saak na die Ring verwys wat dit op sy beurt weer na die Sinodale Regskommissie verwys het. Laasgenoemde het daarop gewys dat ek verplig is om gehoorsaam te wees aan die besluite van die Algemene Sinode. Die saak is weer na die Ringskommissie verwys. Lang samesprekings het gevolg waartydens ek volgehou het dat ek nie kans sien om my gewete te verkrag deur in stryd met die Woord van die Here op te tree nie. In dié tyd het my destydse kollegas 'n klag teen my gelê by die Ring. Oplaas het die Ring die eerste vorm van tug op my toegepas en my vermaan om nie my standpunt te propageer of enige aksie te loods wat tot skeuring en/of verdeeldheid in die gemeente kan lei nie. Ek wou 'n appèl by die Algemene Sinode laat dien het op 'n tyd wat ek goed dink.

Toe ek nie na die pas afgelope Algemene Sinode geappelleer het nie, is navraag daaroor gedoen. Advies is ingewin van die aktuarius wat daarop gewys het dat die geleentheid vir appèl reeeds jare gelede verstryk het; iets wat niemand voorheen vermoed het nie. Die kerkraadskommissie wat die saak hanteer het, het toe gevoel dat die kerkraad my ongehoorsaamheid aan die sinodale besluit nie langer kan tolereer nie aangesien dit 'n presedent vir die toekoms sou skep. - Ek het toe intussen die kommissie ook meegedeel dat ek met die besluit van die Algemene Sinode oor die deelname van kinders aan die nagmaal, die sogenaamde kinderkommunie, ook probleme het.

Die alternatiewe wat volgens die kommissie oorgebly het was eerstens dat ek my standpunt wysig, iets wat ek nie kon doen nie aangesien dit sou beteken dat ek my gewete voor God sou moes verkrag. Die ander was dat die saak na die Ring verwys moes word vir 'n dissiplinêre ondersoek, iets wat die betrokke kommissie nie graag wou doen nie omdat dit spanning en onrus in die gemeente sou veroorsaak. Laasgenoemde is so sterk beklemtoon dat dit 'n swaar emosionele druk op my geplaas het wat gemaak het dat ek toe aangebied het om liewer te bedank.

'n Mens kom op 'n punt waar jy nie verder kan agteroor buig nie. Ek is bekommerd dat ek dit moontlik al te veel gedoen het. Hoe dit ook al sy, ek sien daarna uit om van nou-af my bediening onbelemmerd voort te sit volgens die beginsels van die gereformeerde leer wat ek bely en waarvoor ek lief is.