Ander Uitgawes

Inhoud

HOOFARTIKEL:
2000 - Op pad Waarheen?   Redaksioneel.

AKTUEEL: 
"The last Temptation of Christ"
Die kerk op pad na die een-en-twintigste eeu.

SKRIFOORRDENKING:  Kom, Here Jesus, ja kom gou!  (2 Tess 2 : 7,8)

KINDERKOMMUNIE:  Reformasie of Deformasie?

DIE NOU POORT: 
Kritiek op omstrede artikel dr W Nicol.

NOG 'N NG PREDIKANT BEDANK UIT SY KERKVERBAND.

BOEKBESPREKING: 
"Die vreemde God en sy mense".

LITURGIE EN "ONS KERKE SE LEWE".

KERKLIKE JOERNAAL:  Part Sinode Noord-Transvaal besluit nogmaals oor kelkie/bekergeskil
Dr PW Bingle bevestig omstrede huwelik   van mnr FW de Klerk
Praxis Pietatis - "Eerste Spiritualiteitsretraite vir Teologiese Studente".

OPVOEDING EN ONDERWYS: 
ARSO - Vordering op die pad vorentoe
AKB-Verklaring insake die verantwoordelikheid van die Christen-onderwyser binne neutrale openbare skole

ONBYBELSE, ANTI-CHRISTELIKE RELIGIEUSE ONTWIKKELING.

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: 
Ware betekenis van die Calvinisme
9.  Groen van Prinsterer 1801 - 1876 (3)

GESEëND SAL JY WEES: Die verrigtinge van die VGK-Geloftedagfees 1997 te Pretoria.

PERSRUBRIEK: 
"Die droom waarvoor so baie van ons voorouers gestry het"
Waarheen is stemmingmakery oor Allah op pad?

KOMMENTAAR:
Die TSP se relasie met die PU vir CHO:
'n  Dreigende Gevaar?

POLITIEKE KRONIEK:
Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof en wêreldbeskouing (4).

GESPREK MET DIE LESERS: 
Die derde jaargang;   Aansluiting op Internet;  Kuratore TSP.

MEDIESE ETIEK: 
Begrafnis van ontslapenes in die lig van die Skrif.

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 1  Januarie  1999

Kerk, Staat en Maatskappy

WARE  BETEKENIS  VAN  DIE  CALVINISME
P van der Kooi

Calvinisme is sinoniem aan Gereformeerd-wees vir die wetenskap en die praktyk van die lewe.

9. GROEN VAN PRINSTERER  1801 - 1876  (3)

Prof dr S du Toit het die betekenis van Groen van Prinsterer vir ons tyd beskryf in 'n brosjure: "Teen die Revolusie die Evangelie", (ongedateer), uitgegee deur die Suid-Afrikaanse Calvinistiese Uitgewersmaatskappy (SACUM (BPK). Hy gebruik sitate van Groen wat hy voortreflik in Afrikaans weergegee het. In hierdie aflewering maak ons weer eens gebruik van sy werk. Hy skryf as volg, met Groen se woorde tussen aanhalingstekens:

Wat is die Revolusie?

Een van Groen se bekendste werke het as titel "Ongeloof en Revolutie". Hierdie titel is tewens 'n program. Dit bevat 'n gedagte wat die rigsnoer vir Groen se staatkundige beskouinge was en wat hy tallose kere van alle kante toegelig het. Dit is die gedagte dat daar tussen die ongeloof en die Revolusie 'n onverbreekbare en onontkombare samehang bestaan, Wat Groen onder ongeloof verstaan, het geen toeligting nodig nie: dit is die verwerping van die geopenbaarde waarheid van God.

Minder vanselfsprekend is die betekenis van die begrip Revolusie. Wie Groen se gedagtegang wil volg moet sy spraakgebruik ken. Onbekendheid daarmee het meermale tot gevolg gehad dat van sy bedoelinge 'n karikatuur geteken is. As ons spreek van revolusie, bedoel ons gewoonlik 'n verplasing van die gesag in die staat of 'n poging in dié rigting. Ook by Groen vind ons hierdie betekenis wel. Maar nie met die oog hierop het hy homself anti-revolusionêr genoem nie; inteendeel, omwentelinge soos die Nederlandse van die 16de eeu en die Engelse van 1688 het sy volle instemming gehad. Dié het hy gereken tot die "konserwatiewe, Christelik-historiese, by uitnemendheid anti-revolusionêre" revolusies, wat van die "revolusionêre revolusie" hemelsbreed verskil.

Onjuis is ook die gedagte dat Groen deur die keuse van sy partynaam slegs teen die Franse Revolusie van die einde van die 18de eeu verset wou aanteken. Hierdie misverstand was oorsaak dat hy herhaaldelik beskuldig is van stryd te voer teen windmeulens. Inderdaad sou dit nuttelose kragsverspilling wees om jou te verweer teen 'n staatkundige gebeurtenis wat as historiese feit nie meer ongedaan gemaak kan word nie. Nee, as Groen dit het oor die revolusie met 'n hoofletter, bedoel hy nie 'n bepaalde voorval uit die verlede nie maar 'n blywende gesindheid, waar-van die Franse omwenteling weliswaar 'n hoogs belangrike maar tog slegs één openbaring was. Die Revolusie immers was "die stelselmatige omkering van begrippe, waardeur, in die plek van die ordeninge van God, die eiewysheid en die willekeur van die mens ten grondslag van staat en maatskappy, van reg en waarheid gelê word."

Van hierdie Revolusie nou, wat in die Franse omwenteling vir die eerste maal as beheersende vormkrag openbaar geword het en sedertdien in die Europese staatkunde die oorhand behou het, het Groen beweer dat dit "met al sy verskeidenhede van teoretiese en praktikale rigtinge en gedaantes, gevolg, toepassing en ontplooiing van die ongeloof is." In genoemde werk het hy hierdie stelling in den brede ontwikkel. Eers wys hy daar negatief die faktore aan waarvan ten onregte beweer is dat hulle oorsaak van die revolusie gewees het. Daarna bespreek hy die beginsels waaruit, na sy mening, die Revolusie wél voortgevloei het.

Tot die eerstes het hy in besonder die Reformasie en die bestaande misbruike gereken. Reeds in sy tyd is dikwels, deur Roomse en vrysinniges, die ontstaan van die Revolusie op rekening van die Hervorming geskryf. Groen was van 'n presies teenoorgestelde gevoele. "Die Revolusie is, in verband met die wêreldgeskiedenis, in omgekeerde sin wat die Hervorming vir die Christenheid gewees het. Soos laasgenoemde Europa uit die bygeloof gered het, so het die Omwenteling die beskaafde wêreld in die afgrond van die ongeloof gewerp. Soos die Reformasie strek die Revolusie hom oor elke gebied van praktyk en wetenskap uit. Toe was onderwerping aan God, tans is opstand teen God die beginsel".

Elders vat hy hierdie teëstelling soos volg saam: "Die Revolusie gaan uit van die mens; die Reformasie van die soewereiniteit van God. Die een laat die openbaring beoordeel deur die rede; die ander onderwerp die rede aan die geopenbaarde waarhede. Die een ontbreidel die individuele meninge; die ander voer tot die eenheid van die geloof. Die een verbreek die maatskaplike en selfs die gesinsbande; die ander verstewig en heilig dit. Laasgenoemde oorwin deur die martelare, eersgenoemde handhaaf homself deur moorde. Die een kom uit die afgrond, die ander daal van die hemel af."

Maar die invloed van die reformatoriese beginsels het, na die eerste kragsontplooiing, gaandeweg minder geword. Toe is ander redmiddels teen die ingeslope misbruike gesoek. Want dat daar onder die "ancien régime" misbruike bestaan het, is deur Groen glad nie ontken nie. ... Sy ondersoek na die teoretiese oorsprong het Groen gelei na die denkbeelde wat in die agttiende eeu in Europa die oorhand gekry het. Daar is tereg na verbetering gesoek, en dit is met ywer en veerkrag gesoek. Maar "energie, sleg bestuur, word des te heilloser namate dit kragtiger is; die grootse van die bergstroom verminder nie die yslikheid van die werking waarmee die vernielende stortvloed die land oordek nie. ... Oorvloed van vuurwerk en fakkellig was daar, aan sonlig gebrek. Geen menslike wysheid maak die akker vrugbaar sonder die lig van die son nie. Die arbeid van verstand en genie in die voortbrenging van denkbeelde en in die vorming van stelsels is ydel, wanneer 'n mens jou aan die strale wat van bo is, onttrek en die verskil van vryheid en onafhanklik-heid op die gebied van die wysbegeerte misken."

Die mense het hulself geëmansipeer (vrygemaak) van die geloof aan die geopenbaarde waarheid en hul steunpunt in die mens gesoek. "Die beginsel van hierdie wysbegeerte was die soewereiniteit van die Rede en die uitkoms godversaking en materialisme. Die oppermag van die Rede, as aksioma, is vooropgestel. Waar die Rede as onbedorwe beskou is, kon die openbaring niks daarbo bereik nie, altans niks teen die uitspraak van die Rede bevat nie. So het die Rede toetssteen van die waarheid geword." En van die een dwaling het die mensdom maklik in die ander verval. "Die openbaring moet, waar die rede hom hierbo verhef, weldra 'n sameraapsel van legendes en fabels wees maar ook die natuur word, waar 'n mens vir die openbaring blind is, uit natuurkragte verklaar; die godheid is louter abstraksie, denkbeeld, denkbeeldige godheid. As 'n mens moet begryp om te glo, wat is ongeloofliker, onbegrypliker as God!"

Ook in vroeër tye het hierdie ongeloof hom laat geld. Maar sedert die agttiende eeu het dit in die Europese samelewing die oorhand gekry. Wat uitsondering was, het reël geword. Selfs onder die heidene is oor die algemeen nog vasgehou aan die denkbeeld van 'n goddelike openbaring. Aan die wysheid van die eeu van die verligting was die ontdekking voorbehou, "dat die mens sy eie wetgewer, elke openbaring bedrog, en God Almagtig, die Skepper van hemel en aarde, 'n onding, altans 'n oortolligheid is." ...

In alle lewensverhoudinge het hierdie ongeloof deurgedring, en alom het dit hom van die gemoedere meester gemaak. Daardeur het dit oorsaak geword van "n wêreldkrisis, tewens krisis in die Christelike kerk, tydperk van verval en afval, van stryd teen die Evangelie op die gebied van wetenskap en praktyk."

Dit het ook op die gebied van staatsreg en politiek gebeur! Daar bestaan 'n eindelose veelheid en verskeidenheid van staatkundige stelsels. Tussen die losbandigheid van permanente revolusie en anargie aan die eenkant en ongestoorde orde van alvermoënde staatsgesag aan die anderkant, is daar tallose skakeringe. Maar die skeidslyn wat hulle verdeel, hang nie af van die uiterlike vorme nie. Wanneer 'n mens hulle gesamentlik terugvoer tot hulle grondprinsipes, bly daar ten slotte slegs 'n tweetal beginsels van fundamentele aard oor. En dan blyk stelsels, wat uiterlik teenstrydig skyn, in wese soms nou verwant te wees. Waar dit op aankom, is naamlik "dat daar vir die behandeling van die hele staatsreg tussen twee uitgangspunte gekies moet word; dat daar één teëstelling is waarop in die grond van die saak die politieke stryd van ons eeu neerkom: wat in alle lande en tye en regeringsvorme die natuur en die wese, die oorsprong en die karakter van die oppermag betref: Is die Soewereiniteit uit die mense of is dit uit God? "

(In volgende aflewering verder hieroor)