Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 1 Januarie 1999
Persrubriek
"DIE DROOM WAARVOOR SO BAIE VAN ONS VOOROUERS GESTRY HET ..."
FW de Klerk se "gewigtige besluit"
| Slabbert Le Cornu skryf in DIE ESRA VERSLAG, 'n Dordts-konfessionele Maandblad, van Augustus/September 1998, bl 5, onder die hoof: "Van 1652 tot 1994", oor mnr FW de Klerk se "besluit om oor te gee" as volg: |
In die tydskrif INSIG van Mei 1998, bl 19, word mnr FW de Klerk soos volg aangehaal oor die gewigtige besluit wat hy moes neem oor die aanvaarding van 'n meerderheidsregering:
"Die besluit om oor te gee wat betref die reg op nasionale soewereiniteit is gewis een van die moeilikste besluite wat enige leier ooit gevra kan word om te neem. Meeste volke is bereid om totale oorlog en 'n katastrofe te waag eerder as om op dié gebied oor te gee. Tog was dit die besluit wat ons geneem het. Ons het die noodsaaklikheid besef om die ideaal prys te gee waarop ons gespeen is en die droom waarvoor so baie van ons voorouers gestry het en waarvoor so baie mense gesterf het."
Idees, ook politieke ideologieë soos dié van FW de Klerk, het egter praktiese gevolge: Omtrent 25 000 mense word vermoor, 50 000 vroue verkrag, 330 000 huisinbrake en 110-000 rooftogte vind plaas, 100 000 motors word gesteel en 40 000 aborsiemoorde vind per jaar plaas in die Nuwe Suid-Afrika. Dit laat 'n mens wonder of 'n "totale oorlog" nie meer beskaafd en regverdig sou gewees het nie en of daar werklik geen alternatief was nie? Is dit reg dat FW en sy vorige kabinet, soos 'n moderne Pilatus (Matt 27:24), sy hande in onskuld probeer was oor die bloedvergieting in die verlede en ook die hede? Waar was die Gereformeerde kerk wat die president volgens artikel 36 van die NGB moes vermaan en getugtig het, dat hy besig was om 'n land na die afgrond te lei (Matt 15:14)?
Maar baie meer was op die spel as net 'n blote oorgawe aan 'n meerderheidsregering of 'n vervanging van 'n wit regime deur 'n (nog slegter) swart regime. Wat plaasgevind het in 1994, op 27 April en 10 Mei, was 'n vervanging van die Christelike beskawing deur 'n postmodernistiese humanistiese beskawing, waar die humanisme hoofsaaklik in drie hoofgroepe verdeel kan word:
- Sekulêre humanisme,
- Marxisties-Leninistiese humanisme, en
- New Age humanisme.
Maar veel eerder was dit ook die nie-amptelike 'begrafnis' van die voortgaan van Christelike beskawing hier aan die Suidpunt van Afrika. ... Daar kom nou baie vrae op: Waar het ons afgedwaal? Het God ons heeltemal verlaat? Hoort ons nie hier in Afrika nie? Is daar vir ons 'n toekoms hier in (die-nog-steeds) "donker" Afrika?
Ons moet weer terugkyk na ons geestelike en historiese wortels. Ons moet opnuut vra hoekom ons voorgeslagte hier geplaas is en wat ons roeping en taak is. In die woorde van mnr De Klerk sal ons opnuut moet vra wat "... die droom (was) waarvoor so baie van ons voorouers gestry het en waarvoor so baie mense gesterf het." Dan alleen sal ons weer, in die lig van die Bybel, kan sien waar het ons afgedwaal van ons roeping en hoe om weer die regte koers in te slaan.