Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 1 Januarie 1999
"GESEëND SAL JY
WEES"
Die Verrigtinge van die Geloftedagfees 1997 te Pretoria
Redakteur: MC Durand
| 'n Uitgawe van die Geloftefeeskomitee uitgaande van die lidmate van Die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Tegnies versorg deur Printburo, Pretoria. R40-00 per eksemplaar, verkrygbaar by ESRA BOEKE (Slabbert Le Cornu), Posbus 12 303, HATFIELD 0028. Tel (012) 362 5746. |
'n Baie mooi versorgde boekie, 90 bladsye, formaat A5, stewig gebind en duidelik gedruk met die Gelofte asook 'n Voorwoord van die redakteur vooraf en daarna drie toesprake wat beslis die moeite werd is om te lees. Dit is 'n besondere uitgawe, juis omdat dit 'n produk is van lidmate van Die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Dit bevestig die uitsondering dat nie alle "Hollanders" anti-Afrikaans en anti-Geloftefeesvierings is nie. Kennisname van sy inhoud word hartlik aanbeveel. Enkele uittreksels:
Toespraak 1:
As my volk hulle maar verootmoedig
- Ds CF Heiberg -
Skriflesing 2 Kronieke 7 : 1 - 22.
"Wie is die volk van die Here? ...
Maar ... as ons sê dat God se volk geen afgegrensde aardse volk is nie, het ons daarmee nog nie gesê dat 'n aardse volk nie vandag ook God se volk kan wees nie, of beter gestel 'n deel van God se volk kan wees nie. Wie dit sou misken, sou die bedoeling van Jesus se gelykenisse oor die magtige uitbreiding van Sy koninkryk op aarde ontken. Kan God se koninkryk dan nie hele nasies en volke inpalm in Sy grondelose barmhartigheid nie? Sou iemand dit wou ontken? En daarmee bedoel ons nog lank nie dat elkeen in so 'n volk van harte bekeerd is nie, maar dat die enigste lewende God van hemel en aarde, die Vader van onse Here Jesus Christus, deur 'n hele nasie as God erken word. dan word so 'n aardse volk, om die mooi woord uit die Skotse kerkgeskiedenis te gebruik 'n 'covenanted nation'."
Toespraak 2:
Die Historiese Gebeure om die Gelofte en die Slag van Bloedrivier.
- S. le Cornu -
Slotbeskouing:
"As die Groot Trek beskou kan word as die belangrikste historiese gebeurtenis in die
geskiedenis van Suid-Afrika in die negentiende eeu, dan kan die slag van Bloedrivier as
die belangrikste militêre veldslag beskou word, aangesien beide gebeure die fondamente
gelê het vir die stryd wat sou plaasvind die res van die eeu, waarvan ons die gevolge
vandag nog kan herken."
Toespraak 3
Die Gelowige en die Owerheid
- Dr MC Durand -
Oorsig:
"Die take van die burgerlike owerheid word duidelik in die Woord van God aangedui.
Die Voortrekker burgerlike owerheid moet, soos in die geval van enige ander burgerlike
owerheid, in die Lig van die Bybel beskou word. Daarbenewens word die verpligtinge van die
samelewing jeens die burgerlike owerheid ook duidelik in die Woord van God aangedui. Aan
die hand hiervan moet ons, ons verpligtinge vandag jeens die burgerlike owerheid
beskou." ®