Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 1 Januarie 1999
Hoofartikel
2000 - OP PAD WAARHEEN?
Die laaste jaar van die twintigste eeu het begin. Dit laat 'n mens besin en wonder oor die toekoms, die nuwe eeu wat volgende jaar begin. Waarheen is ons op pad, waarheen beweeg ons? Sal ons nog vasstaan by die bybelse riglyne vir die persoonlike en maatskaplike bestaan? Sal die Woord van die Here normatiewe geldingskrag behou ten opsigte van die lewe van elke dag in alle opsigte, persoonlik, kerklik, staatkundig en maatskaplik? Of sal ons in die private en openbare lewe swig onder die druk van omstandighede en, moedverloor, tou opgooi en aanpas aan die gees van die tyd, die sekulêre staatsbestel en die invloed wat dit uitoefen op alle sektore van die samelewing? Meer as in die tyd van sy ontstaan en aanvaarding as belydenisskrif van die Gereformeerde Kerk, is die formulering van artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) tans aktueel en van reële betekenis. Dit betref die vermelding van "al die sektes wat daar vandag in die wêreld is" wat "hulle ten onregte die naam kerk toeëien". Dié belydenisartikel wys allereers daarop dat "ons sorgvuldig en met groot oplettendheid behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is" en voorts, "dat 'n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is". Dit plaas die kerkvraagstuk in 'n verantwoordelikheidskrisis. Die kenmerke van die "ware kerk" is in die gedrang as die kerk "aan homself en sy besluit meer mag en gesag toeskryf as aan die Woord van God; homself nie aan die juk van Christus wil onderwerp nie; die sakramente nie bedien soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar na eie goeddunke wegneem en byvoeg; meer vertrou op mense as op Christus, en húlle vervolg wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf".Tussen die Protestantse kerke onderling bestaan daar verskille wat in die kerklike samelewing en die eredienste tot uitdrukking kom. Byvoorbeeld: die viering van die Nagmaal met of sonder kelkies; die aanvaarding van vroue in die kerklike ampte en die sing van gesange en ander geestelike liedere, al dan nie; die voorskriftelike verkondiging van die Tien Gebooie volgens Eksodus 20 of Deuteronomium 5; die reëlmatige prediking van die Heidelbergse Kategismus en die samekomste van die gemeentes, asook die karakter daarvan, vir die tweede (Sondagnamiddag- of vroegaand-) dienste, die onderhouding van die tradisie van Pinksterdienste tussen Hemelvaartsdag en Pinkster, die handhawing en toepassing van leer- en lewenstug oor die lerare en lidmate van die kerk. Dit is nie net die onderskeie kerkverbande wat ten opsigte dáárvan verskil nie, maar ook binne dié verbande verskil die diverse gemeentes van mekaar. Daar bestaan liturgiese verskille waarvan sommige wel en ander nie aanvaarbaar is nie. Daar is leerstellige verskille wat independentisties gehandhaaf word en ander wat as twissake in hul kerkverband dien. Dit betref in die besonder die verbande van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.
Die NG Kerk het tydens die Algemene Sinode vorig jaar besluit om kinders aan die Nagmaal toe te laat wat 'n bykomstige strydpunt geword het, naas die bestaande verskille oor die al dan nie aanvaarding van die Belharbelydenis en die voortslepende geskil oor die erkenning van die vrou in die kerklike ampte. Eerder het reeds 'n afskeidiing plaasgevind waaruit die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) ontstaan het. Sedertdien het daar oor die vrou in die ampte geskille ontstaan wat gelei het tot 'n skorsing uit die amp van 'n predikant en die onttrekking van 'n aantal ander wat hulle nie daarmee kon versoen nie. In een geval het 'n deel van die gemeente 'n betrokke leraar (Ds P Nel, te Bethal) gevolg en hulle saam met van die voornoemde predikante geskaar by die verband van die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Enkele weke gelede het nog 'n predikant hom onttrek aan die NG kerkverband (lees op bl 7).
In die verband van die Gereformeerde Kerke word daar tans heftig verskil oor die gebruik van die kelkies by die Nagmaal en daar word 'n gestadige druk uitgeoefen om vroue in die kerklike ampte te aanvaar. Die aanpassings van die Teologiese Skool aan die veranderde omstandighede veroorsaak spanning en die vryheid wat sekere professore hulle toeëien om omstrede sake te propageer en politieke standpunte te huldig en daarvolgens te handel (die teorie en praktyk van menseregte; die deelname aan die multi-religieuse gebedsdiens by die voormalige KODESA II, asook aan die "versoening" voor die WVK) word betwyfel en in sommige gevalle betwis. Daar is talle sake wat op die Nasionale Sinode, Januarie 2000, aan die orde kom wat ernstige verskille of twissake betref. In verband daarmee die vraag: "Op pad waarheen?" Is die Gereformeerde Kerke op pad om aan te pas aan die omstandighede van die tyd, die Nagmaal aan dié van ander kerke met die gebruik van die kelkies en die toelating van kinders (soos tans in die NG Kerk) in die verskiet? Die vrou in die kerklike ampte en die sing van gesange? Die liturgiese "vernuwing" deur, onder andere, die afskaffing van die voorskriftelike afkondiging van die wet van die Here uit Eksodus 20/Deuteronomium 5? Sal die Gereformeerde Kerke die pad loop van ander kerke en die deur oopmaak vir die daadwerklike aantasting van die Skrifgesag en die leertug verwaarloos oor eksplisiete Skrifkritiek en teenskriftuurlike optredes van sy ampsdraers nieteenstaande besware wat daarteen aangevoer word? Sal die kerk in amptelike hoedanigheid diegene gaan vervolg wat 'n stryd voer vir die heiligheid van die kerk van Christus en wat wil vasstaan by die suiwerheid van die leer, die amptelike diens en tug van die kerk, die gebruik van die sakramente soos Christus dit ingestel het, ensovoorts? Artikel 29 van die NGB beskryf dit nie as 'n slegs denkbeeldige saak nie. Dit is ter waarskuwing en tot behoud van die goeie leer en kerkregering aan die Gereformeerde kerke oorgelewer en van geslag tot geslag herbevestig om voortdurend daaraan te toets, om met en deur die kragtige werking van die Heilige Gees 'n ware kerk van die Here te sal wees en te bly.
Diegene wat wil aanpas aan die (liberale) drang en eise van die tyd, hulle het 'n plek om te gaan. Vir hulle is dit nie nodig om die Gereformeerde Kerke se leer en liturgie te verander nie en die sing van gesange, die gebruik van die kelkies by die Nagmaal, die erkenning van die vrou in die kerklike ampte, ensovoorts, vir die kerk aanvaarbaar te maak nie. Vir hulle bestaan daar geen verhindering om hulle te gaan tuisvoel in ander kerke waar die kerklike samelewing en die eredienste beantwoord aan dit wat hulle voorstaan en waarvoor hulle hul beywer nie. Aan die ander kant staan die Gereformeerde Kerke oop vir diegene wat hulle wil skaar by die stryd vir die skriftuurlike behoud van die gereformeerde waarheid en tradisie, soos dit geformuleer is en gehandhaaf word in die artikels van die Dordtse kerkorde en die Drie Formuliere van Eenheid. Op pad waarheen? Na 'n volgende eeu, waarin Christus se koningskap oor sy kerk metterdaad bely en uitgelewe sal word volgens sy Hoëpriesterlike gebed: "dat hulle almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het ... " (Joh 17 : 21). ®