Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 1 Januarie 1999
KINDERKOMMUNIE: REFORMASIE OF
DEFORMASIE?
DS T DANZFUSS (NGK) WITFIELD
WAT IS KINDERKOMMUNIE? |
Die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk het onlangs besluit om die deelname van kinders aan die Nagmaal (Kinderkommunie) goed te keur. Enkele weke nà dié besluit het verskillende gemeentes reeds die nagmaal bedien aan klein kindertjies wat nog nie eers kan lees of skryf nie, wat nog nie behoorlike kategese deurloop het nie, en nog geen openbare geloofsbelydenis kon aflê nie. Dit is 'n besluit wat nie net die kenmerke van die ware en valse kerk (NGB, art 27) raak nie, maar ook die verlossingsleer, en dus die hart van die Evangelie. 'n Dwaling in die sakramentsleer is 'n ernstige saak: "Dwaal 'n mens hier dan dwaal jy in die wesenlike van die Christelike geloof."1 Polman is reg as hy sê: "In de kerken der Reformatie werd de kindercommunie algemeen verworpen."2 Hierdie besluit van die Ned Geref Kerk het ingrypende implikasies, nie net vir sy eie lidmate nie, maar ook vir die verhoudinge tussen die kerke met Gereformeerde belydenis in Suid-Afrika.
Die skrywer van hierdie artikel het so pas by die Universiteit van Pretoria 'n skripsie ingehandig onder die titel "Kinderkommunie: Reformasie of Deformasie?". Hierin word die kindernagmaal vanuit verskillende perspektiewe bespreek, naamlik, 'n historiese en ekumeniese perspektief, 'n dogmatiese perspektief, 'n soteriologiese perspektief asook 'n Gereformeerd-konfessionele perspektief. Hierdie artikel gee slegs 'n breë oorsig oor die inhoud van die skripsie. In volgende aflewerings sal meer inhoudelik na sommige van dié perspektiewe gekyk word.
1. 'n Historiese en Ekumeniese Perspektief
Voorstanders van kindernagmaal beroep hulle dikwels op die steun van die vroeë kerk asook op die Hervormers. In hierdie afdeling is gekyk na die historiese ontwikkeling van die bediening van die nagmaal vanaf die apostoliese tyd tot ná die Reformasie, asook na verskilllende variasies vandag. Daar is bevind dat die eerste tekens van kindernagmaal eers dateer uit die derde eeu ná Christus, en wel as gevolg van 'n dwaling in die verlossingsleer. Verder is bevind dat die Reformatore van die begin af kindernagmaal ten sterkste verwerp het. Toe Servet vir Calvyn vra waarom hy dan kinders doop maar nie aan hulle die nagmaal bedien nie, het Calvyn gesê: "waarom sou ons dan vir ons teer kindertjies gif aanbied as lewendmakende voedsel?".3 Daar is bevind dat daar geen wetenskaplike gronde bestaan om te beweer dat die vroeë kerk of die Reformatore ooit kindernagmaal goedgekeur het nie.Die teendeel is waar. Die hernude belangstelling in die ou dwaling van kindernagmaal staan in 'n direkte verband met die oplewing in die ekumene, asook met die verslag oor kinderkommunie wat in 1982 voor die Wêreldraad van Kerke (WRK) gedien het onder die titel: "... and do not hinder them".
2. Dogmatiese Perspektief
In hierdie afdeling is die kindernagmaal vanuit verskillende dogmatiese perspektiewe bekyk. Daar is bevind dat die verhouding tussen nagmaal en pasga baie meer gekompliseerd is as wat voorstanders van kinderkommunie wil erken. Die nagmaal gryp slegs terug op enkele elemente van die pasga. Die pasga was ingestel as 'n gesinsmaal terwyl die nagmaal dit baie duidelik nie is nie, maar eerder as 'n gemeentemaal. Daar is verder bevind dat Jesus aansluit by die pasga soos dit in sy tyd gevier is, byvoorbeeld met die bekers wyn, terwyl daar in Exodus 12 geen sprake van wyn by die pasga was nie. In die Nuwe Testamentiese tyd kon die seuns eers op die ouderdom van dertien, 'n bar mitzwa word, en dan eers kon hulle ten volle aan die pasga deelneem Ook ander dogmatiese perspektiewe getuig duidelik teen die deelname van kinders aan die nagmaal.
3. Soteriologiese Perspektief
Die kernprobleem aangaande die kindernagmaal is 'n soteriologiese probleem. Kindernagmaal raak die verlossingsleer van die kerk. Deur die geskiedenis was daar telkens 'n aanwysbare verband tussen kindernagmaal en verskillende dwalings ten aansien van die verlossingsleer. Die pendulum swaai vanaf 'n verkeerde interpretasie van Joh 6 : 35 (Cyprianus), via Augustinus se siening van genade as "gratia operans" en "gratia cooperans" tot by die Roomse sakramentalisme en die sogenaamde gratia infusa. Dit swaai vanaf die Oosterse kerke se mistiese en liturgiese verlossingsleer tot by sommige Gereformeerdes se leer van die veronderstelde wedergeboorte en 'n valse verbondsbegrip.
Die kindernagmaal word getoets aan die hooflyne van die Gereformeerde verlossingsleer. Die bevinding is dat kindernagmaal wel by die Arminiaanse, die Roomse en die Oosterse sinergistiese soteriologie kan inpas, maar beslis nie by die Gereformeerde beskouing van die verlossingsleer nie.
4. Gereformeerd-Konfessionele Perspektief
In die laaste afdeling word die kindernagmaal getoets aan die bekendste Gereformeerde belydenisse. Die volgende sake geniet aandag: Die rol van openbare geloofsbelydenis in die Gereformeerde kerke, die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreëls en die Westminster Larger Catechism. Daar word ook gekyk na amptelike uitsprake soos die Artikels van die Konvent van Wezel (1568), die Dordtse kerkorde (1618 - 1619), die ou nagmaalsformulier wat dateer uit die liturgie van Paltz, ensovoorts. Die bevinding is weereens dat die Gereformeerde belydenisse en die Gereformeerdes se interpretasie daarvan, geen ruimte bied vir die kindernagmaal nie.
1 Booyens MJ Ons glo met die hart en bely met die mond. Kaapstad: Pro Rege 1974, bl 222.
2 Polman ADR Christelijke Encyclopaedie Band IV. Herdruk 1977 Kampen: Kok. bl 250/1.
3 Calvyn J Institusie van die Christelike Godsdiens Vol IV. Vertaal deur prof dr HW Simpson. Potchefstroom 1992. 4.16.3. bl 1667.
Kindernagmaal in 'n Gereformeerde kerk is 'n seker teken van deformasie wat reeds sover gevorder het dat dit die kenmerke van die ware kerk raak.
Bogenoemde perspektiewe sal in volgende aflewerings afsonderlik bespreek word.