Ander Uitgawes

Inhoud

HOOFARTIKEL:
2000 - Op pad Waarheen?   Redaksioneel.

AKTUEEL: 
"The last Temptation of Christ"
Die kerk op pad na die een-en-twintigste eeu.

SKRIFOORRDENKING:  Kom, Here Jesus, ja kom gou!  (2 Tess 2 : 7,8)

KINDERKOMMUNIE:  Reformasie of Deformasie?

DIE NOU POORT: 
Kritiek op omstrede artikel dr W Nicol.

NOG 'N NG PREDIKANT BEDANK UIT SY KERKVERBAND.

BOEKBESPREKING: 
"Die vreemde God en sy mense".

LITURGIE EN "ONS KERKE SE LEWE".

KERKLIKE JOERNAAL:  Part Sinode Noord-Transvaal besluit nogmaals oor kelkie/bekergeskil
Dr PW Bingle bevestig omstrede huwelik   van mnr FW de Klerk
Praxis Pietatis - "Eerste Spiritualiteitsretraite vir Teologiese Studente".

OPVOEDING EN ONDERWYS: 
ARSO - Vordering op die pad vorentoe
AKB-Verklaring insake die verantwoordelikheid van die Christen-onderwyser binne neutrale openbare skole

ONBYBELSE, ANTI-CHRISTELIKE RELIGIEUSE ONTWIKKELING.

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: 
Ware betekenis van die Calvinisme
9.  Groen van Prinsterer 1801 - 1876 (3)

GESEëND SAL JY WEES: Die verrigtinge van die VGK-Geloftedagfees 1997 te Pretoria.

PERSRUBRIEK: 
"Die droom waarvoor so baie van ons voorouers gestry het"
Waarheen is stemmingmakery oor Allah op pad?

KOMMENTAAR:
Die TSP se relasie met die PU vir CHO:
'n  Dreigende Gevaar?

POLITIEKE KRONIEK:
Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof en wêreldbeskouing (4).

GESPREK MET DIE LESERS: 
Die derde jaargang;   Aansluiting op Internet;  Kuratore TSP.

MEDIESE ETIEK: 
Begrafnis van ontslapenes in die lig van die Skrif.

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 1  Januarie  1999

LITURGIE EN
"ONS KERKE SE LEWE"
DS  JP COETZEE   -   PRETORIA / MEINTJESKOP

In die afgelope jaar het kerkrade van die GKSA 'n boekie ontvang met die titel: "ONS KERKE SE LEWE WEERSPIEëL IN ONS LITURGIE". Dit is opgestel in opdrag van die Nasionale Sinode 1997. Op hierdie sinode het 'n uitvoerige rapport oor liturgie gedien, waarin voorstelle, waarvan sommige ingrypend van aard was, gemaak is. Van die ingrypende voorstelle het die Sinode slegs kennis geneem en dié waaroor wél besluite geneem is was nie ingrypend nie.

Nadat die Rapport met wysigings en besluite in 1997 goedgekeur is, het die Sinode opdrag gegee om die besluite van 1985 en 1997 in 'n boekie saam te vat. Die titel waaronder dit verskyn is egter nie deur die Sinode vasgestel nie. Daarom is dit 'n vraag of daar gepraat kan word van "ONS KERKE" en "ONS LITURGIE". Dit bevat 'n Voorwoord waarin duidelik beklemtoon word, "dat die boekie nie die status het van 'n amptelike dokument van enige van die Sinodes nie en dat die Handelinge van die Sinodes alleen hierdie gesag het." Die opstellers wou dus nie die Sinode se besluite interpreteer nie: "Die opstellers van die boekie het nie hulle eie standpunte weergegee nie, maar net die besluite van die sinodes van 1985 en 1997 logies probeer saamvat." Sodoende word ook telkens aangetoon dat die Sinode van sake slegs kennis geneem het, maar hierdie sake betref juis die hoofdis van hierdie geskrif.

Positief bestaan die boekie se verdienste in die bondige noem van sinodebesluite oor liturgie, waarin aangetoon word dat daar gaandeweg by sommiges meer belangstelling vir die inhoud van die liturgie gekom het as vir die orde daarvan. Hierdie feit is belangrik omdat die invloed van die sogenaamde Liturgiese Beweging hierin na vore kom.

Maar negatief bestaan dit uit die ongekwalifiseerde klem wat gelê word op die oorname van Rooms-Katolieke en Anglikaanse terme soos "Introïtus" en "Responsoria". Die gebruik van hierdie terme is nodig omdat daar, in aansluiting by die Liturgiese Beweging, tussen verskillende "dienste" in die samekoms van gemeente onderskei moet word. Die begrip "erediens" moet sodoende in onbruik raak.

Dit is die sogenaamde "Dinamiese Liturgie" wat hiermee tot uitdrukking kom. Die verskillende dienste word soos volg aangedui: die Ontmoetingsdiens, die Versoeningsdiens, die Woorddiens (waarvan die bediening van die sakramente 'n onderdeel is) en die Antwoorddiens. Dit betref dan telkens die mens wat 'n diens beleef. Hoe die eerbetoon aan God in sulke menslike belewenisse gebring word, toon die boekie nie aan nie. Daarom kan gevra word of 'n voorstelling (kritiek) soos hierdie eerder nie as 'n beskrywingspunt op die eersvolgende Sinode behoort te dien nie. Dit behandel 'n sterk geaksentueerde saak wat onder die aandag van die kerkrade geplaas is. Oor so 'n saak (boekie) mag en moet krities gepraat, besin en geoordeel word.

Om so 'n kritiese benadering in die regte lig te stel is dit nodig om aandag te verleen aan die LITURGIESE BEWEGING waarvan die geskrif, of dit nou die bedoeling was al dan nie, deel geword het. Hierdie Beweging het in die Rooms- Katolieke Kerk ongeveer aan die begin van hierdie eeu as 'n reaksie teen die onbetrokkenheid van die "leke" in die kerk ontstaan. Dit het oorgewaai na ander lande, allereers na Engeland, waar dit sterk posgevat het in die Anglikaanse Kerk. Van daaruit ook na Protestantse kerke, met name die Hervormde Kerk in Nederland, waar dit beslag gekry het in die ontstaan van die "Liturgiese Kring". Dit is opmerklik dat die Gereformeerde Kerke gedurende hierdie tyd steeds volstaan het met en vasgehou het aan die EREDIENS, wat as 'n ontmoeting van God en sy verbondsvolk in en deur die Woordverkondiging beskou is. Die Liturgiese Beweging relativeer die sentrale plek van die prediking van die Woord tot 'n "verkeerde verstandsmatige ontwikkeling sedert die Reformasie". Daarom verkies sy lede om uiteindelik te kom tot 'n sogenaamde Dinamiese Liturgie. Dit beteken nie net 'n mensebewuste samekoms van die gemeente nie, maar ook 'n mensebewuste kerklike lewe buite die gemeentelike samekomste. Die boekie van die deputate bevestig in punt 3.6 (bl 3) "Daar het in die Roomse geledere, asook daarna in ander geledere 'n liturgiese ontwaking gekom. Die liturgie het in die afgelope dekade in die brandpunt gekom, wat enersyds die gebrek aan prinsipiële besinning uitgewys het en andersyds gelei het tot liturgiese eksperimente met die doel om sogenaamd die "erediens te laat herleef." Daarby aansluitend punt 4.2: "Die GKSA is gebore toe die veranderde gees van die 19de eeu veral in die liturgie van die plaaslike kerke na vore gekom het. "'n Wil om vas te hou aan die liturgie soos dit by die Bybel as God se Woord aansluit het gebots teen die kerklike dwang wat geëis het dat hulle moet toegee aan die nuwe gees."

Nieteenstaande dit alles word tans druk uitgeoefen om nou geleidelik te begin toegee. Reeds in 1956 het prof SJ van der Walt in sy insiggewende werk: "Die Mens of God?" die invloed van die Anglikaanse ekklesiologie en die Liturgiese Beweging beskryf (bl 19). 'n Ernstige waarskuwing teen die vastrapplek wat die humanisme poog om via die liturgiese aanpassings te kry is dan ook beslis van pas.