Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 1 Januarie 1999
Mediese Etiek
BEGRAFNIS VAN ONTSLAPENES IN DIE LIG VAN DIE SKRIF
DR MC DURAND
DIE ONTSLAPENES SE LIGGAME BEHOORT AAN GOD
Op die vraag: Wanneer u die dag gesterf het, wat sal u verkies, dat u dooie liggaam begrawe word, of dat dit veras sal word? Dikwels ontvang jy die antwoord: Kyk, as ek dood is, weet ek niks meer nie, dan is ek dood en dan maak dit glad nie saak wat hulle met my "stoffelike oorskot" doen nie. Daarmee kan hulle maak net soos hulle wil.
Uit so 'n antwoord blyk dit duidelik dat die lyk van 'n oorledene gesien word as 'n uitgediende objek. Die liggaam se taak is nou afgehandel. Op sy beste is dit nog van 'n sentimentele waarde vir die naasbestaandes. Op sy slegste is die lyk maar 'n nuttelose "oorskot", 'n las vir almal in die omgewing en word kremasie in baie gevalle as 'n goeie "oplossing" van die "probleem" beskou en toegepas.
As gelowiges dink en reageer ons - gelukkig - anders. Ons glo en weet dat die liggame van die afgestorwenes aan God behoort. "Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word" (1 Kor 15 : 53). God is die Skepper van al wat lewe. Hy het dit tot aansyn geroep. Daarom is die liggame van oorledenes nie waardeloos nie, maar God se eiendom. Dit is sy handewerk, hetsy tydens die skepping (Gen 2 : 7), hetsy in die moederskoot "geweef" en "in die geheim gemaak" (Ps 139 : 13 - 15, Job 10 : 8 - 11). God hou die liggaam van die mens in stand, tot in die fynste onderdeel - selfs is die lot van elke haar in sy hand (Matt 10 : 30). Ja, die eiemagtige beskikking oor die liggaam, is geen neutrale of 'n onsekere saak nie. Immers, so bely ons dit in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 1: "Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort."
Dit is geen bloot natuurlike saak dat daar ná die afsterwe van die mens 'n lyk oorbly nie. Sonder die sondeval sou daar geen dooies gewees het nie. Dit was deel van God se dreigement in Genesis 2 : 17: "Want die dag as jy daarvan eet - van die boom van die kennis van goed en kwaad - sal jy sekerlik sterwe." Dit bevestig Hy in Genesis 3 : 19: "In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer." Dus is dit duidelik dat beide, die sterwe sowel as die ontbinding van die menslike liggaam die gevolg is van die Goddelike toorn en straf oor die erfsonde asook oor die sonde wat ons self doen (HK, Sondag 4, vr/antw 10). Die dood en die ontbinding van die vlees is geen natuurlike en dus 'n oorsaaklike gevolg ná die afsterwe nie. Deur die dood en in die proses van ontbinding is God aktief met die ontslapenes besig. God bewys sy regverdigheid en barmhartigheid, soos Hy dit aangekondig het. Selfs die plek van die begrafnis is geen neutrale saak nie. Sara word begrawe in die spelonk van Magpela, oos van Hebron, in die land Kanaän (Gen 23 : 9), die land wat God aan Abraham beloof het. Josef se beendere word na die beloofde land teruggeneem en dien só as teken van God met die oog op die belofte oor die verlossing van sy volk (Ex 13 : 19).
Die liggaam van ontslapenes behoort aan God. Hy het dit geskape en Hy oefen sy gesag daaroor uit, naamlik sy oordeel oor die sonde (die ontbinding) asook die straf vanweë sekere oortredings (die verbranding). Ons Middelaar, die Here Jesus Christus, bedien sy verlossing aan die totale mens, ook aan die ontbindende lyk in die graf. Daarom kan die gelowige nimmer neutraal staan teenoor die hantering van sy liggaam ná sy afsterwe nie. Die gelowige verlang juis om saam met Christus begrawe te word, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is, ook hulle weer in 'n nuwe lewe (met 'n liggaam oorkleed) sal wandel.
Uit die Skrif blyk dit duidelik dat God se aanspraak op die liggaam nie staak met die afsterwe nie. 'n Voorbeeld hiervan sien ons in die woordewisseling tussen Migael, die aartsengel, en die duiwel oor die liggaam van Moses (Judas 9). Ook kondig God sy oordeel aan oor die wederregtelike verbranding van die koning van Edom se beendere (Amos 2 : 1). Dié aanspraak van God oor die afgestorwe liggaam van die mens, sien ons ook daarin dat Hy sy regsbevoegdheid handhaaf oor die dooie liggame. Hy bedien sy toorn nie net aan die lewende mens na liggaam en siel nie, maar Hy bedien dit ook aan die liggaam ná die dood. Byvoorbeeld as straf die verbranding van die liggaam of beendere (Lev 20 : 14 en Lev 21 : 9). In hierde geval gaan dit nie net om die beëindiging van die aardse lewe, naamlik die skeiding van liggaam en gees nie. Hier gaan dit om veel meer, naamlik om die vernietiging van die lyk, as deel van die bediening van God se toorn en oordeel oor besondere goddeloosheid. 'n Soortgelyke voorbeeld vind ons ook insake Agan en sy gesin (Jos 7 : 25).
Die verlossing wat onse Here Jesus Christus vir ons bewerk het, geld nie net vir ons siele nie, maar ook vir ons liggame. Die siele van die gelowiges word deur die afsterwe finaal verlos van die sonde. Maar die mens bestaan nie net uit 'n siel nie, hy bestaan uit liggaam en siel. Daarom is die verlossing nie voltooi slegs met die bevryding van die siel nie maar eers dán, met die opstanding van die vlees. Dán ontvang ons 'n liggaam wat beklee is met onsterflikheid, onverganklikheid en heerlikheid ( 1 Kor 15 : 42).