Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 1 Januarie 1999
Opvoeding en Onderwys
ONBYBELSE, ANTI-CHRISTELIKE RELIGIEUSE
ONTWIKKELING
- DR IH HORN -
Oorgeneem uit: "'n Nuwe Onderwysmodel:
Waarom?"
(VCHO-Studiestuk nr 10, bl 55/56
Die Onder-Minister van Onderwys (Mnr Smangaliso Mkhatshwa)het, tydens 'n kongres van UNISA in Julie 1997, dit duidelik gestel dat religieuse, spirituele ontwikkeling wesenlik deel is van Curriculum 2005 se doelstellinge. Dit is in al die leerareas se uitkomste ingeweef, en dit moet op so 'n manier in klaskameraktiwiteite geïntegreer word dat alle religieë as ewe deugdig aan kinders voorgehou word. Religieuse onderrig sal dus nie as 'n aparte vakterrein, waarvan kinders verskoon kan word as die ouers gewetensbesware het, mag plaasvind nie. Skole sal ook nie uitkomste tot die Christengeloof kan beperk nie, aangesien kinders onder andere die volgende moet demonstreer: "the affirmation of all cultural expressions"; " knowledge and apppreciation of the contribution of different peoples to our understanding of the Earth and the Universe "; "an ability to access creative arts and cultural processes to develop self esteem and promote healing".
Gelykheid van alle religieë, wêreldbeskouinge en kulture word dus in alle leerareas van Curriculum 2005 nagestreef. Die relativistiese benadering tot religie en ander kultuurvorme is lynreg in teenstelling met die kritiese denkprosesse wat na bewering 'n resultaat van resultaatgedrewe onderwys sal wees. Die verskeie religieë en wêreldbeskouinge bevat teenstrydige en onversoenbare idees oor wie of wat God is en oor die sin, betekenis en oorsprong van die heelal en die mens. Almal kan eenvoudig nie waar wees nie. Dus om al hierdie verskillende en onversoenbare idees as ewe deugdig aan kinders voor te hou, beteken dat ons implisiet die boodskap aan kinders oordra dat daar geen ware antwoorde op die groot vrae in die lewe is nie. Wat derhalwe aan die kinders oorgedra word, is 'n boodskap van fundamentele religieuse skeptisisme wat alle godsdienste, insluitend die enigste ware godsdiens, die Bybelse Christendom, tot blote mites reduseer.
Aan die een kant kan die idee dat religieë bloot mites is tot belangeloosheid in religie en uiteindelik ateïsme lei. Aan die ander kant beteken dié idee dat elke individu eiemagtig oor religieuse "waarheid" beslis. Laasgenoemde benadering tot religie beteken dat persoonlike gevoelens tot religieuse waarheidskriterium verhef word, met die gevolg dat die Bybel benader word met die vraag: "Wat beteken dit vir my?" in plaas van: "Wat beteken dit?". Die gevolg is dat onbybelse idees sonder gewetenswroeging saam met Christelikheid gehandhaaf kan word, byvoorbeeld, die persoon kan glo dat hy/sy 'n Christen is, terwyl hy/sy ook in reïnkarnasie of universele begenadiging glo of aan mistiese praktyke deelneem. Dit is ook 'n bykans onmoontlike taak om so 'n persoon te oortuig dat hy/sy verkeerd is.
Voortvloeiend uit die relativistiese gelykstelling van alle religieë is ook 'n implisiete of eksplisiete ontkenning van God se werklike bewussyns-onafhanklike bestaan. Die relativisme reduseer die begrip God tot 'n onpersoonlike lewenskrag wat na sosiale of individuele smaak, as een god of as verskeie gode, verpersoonlik kan word. Hierdie idee is die kern van panteïsme (die heelal en alles daarin is goddelik) en dit is ook versoenbaar met politeïsme (die aanbidding van baie gode) en animisme (die natuur bevat geestelike magte). Die relativistiese gelykstelling van alle religieë is dus glad nie religieus neutraal nie. Panteïsme en animisme word ook nie net implisiet in Curriculum 2005 bevorder nie. Inteendeel, daar is eksplisiete verwysings daarna, byvoorbeeld: die domeinstelling in die mens- en sosiale wetenskapsleerarea - "Conceptualization of links between people and the universe, to include ... the spiritual bond between people and the Earth at different times and in different places". Die aarde, eintlik die hele natuurlike heelal, word hier as 't ware vergeestelik en selfs vergoddelik. Maar volgens die Bybel is die mens en die natuurlike heelal God se skepping, en die geskape band tussen mens en natuur is nie geestelik nie, maar stoflik; die assesseringskriteria in die natuurwetenskaplike leerarea - "Science is acknowledged as but one way of looking at and explaining phenomena ". 'n Alternatief tot wetenskaplike verklarings is 'n geestelike, animistiese natuur.
Soos religieuse opvoeding berus morele opvoeding in Curriculum 2005 ook op die relativisme.
Bevordering van Amoraliteit en Immoraliteit
Daar word na twee waardes in Curriculum 2005 gestreef en altwee spruit voort vanuit die humanisme en die relativisme: een is verdraagsaamheid teenoor alle religieë, wêreldbeskouinge en seksuele lewensstyle, die ander is individuele outonomiteit. Die diskriminasie en morele stramheid van die verlede moet met verdraagsaamheid en morele buigsaamheid vervang word en die opvoedkundige gesagsverhoudinge van die verlede moet met demokratiese, nie-voorskriftelike verhoudinge vervang word.
Dit is waar dat kinders behoort te leer om alle mense met respek te behandel, maar respekvolle behandeling behels nie die absolute verdraagsaamheid waarna daar in Curriculum 2005 gestreef word nie. Boonop, binne die raamwerk van absolute verdraagsaamheid verval die verskil tussen reg en verkeerd, nie net ten opsigte van seksuele lewensstyle nie maar ten opsigte van alle lewensstyle, insluitend die kriminele. Alle lewensstyle, goed of sleg, word dus bo kritiek verhef. Elke individu kan sy eie morele maatstaf bepaal en slegs morele verantwoordelikheid teenoor homself erken. Begrippe soos "gewete" en "berou" word gevolglik betekenisloos.
Dit blyk dus onvermydelik te wees dat die toepassing van kinder- en tienergroepbesprekings binne die raamwerk van nie-voorskriftelikheid en nie-veroordelende morele neutraliteit, soos Curriculum 2005 van skole vereis, rampspoedige gevolge sal hê. Kinders en tieners - wat soos alle mense nie inherent goed is nie maar sondaars is - het nie die morele kennis en kriteria of die lewenservaring om verantwoordelike morele besluite te neem nie. Die passiewe maklik beïnvloedbare kind sal in alle waarskynlikheid glad nie 'n onafhanklike, kritiese denker word nie, maar sal eenvoudig met die meerderheid se opinie saamgesleur word. Die individualisties ingestelde kind, met 'n sterk persoonlikheid, staan die gevaar om arrogant te word en sonder gewetensberou slegs die bevrediging van sy//haar eie selfsugtige begeertes na te streef. 'n Diepere ingrawing van sosiale euwels, soos dwelmmisbruik, seksuele permissiwiteit, seksuele afwykings en die veragting van wet en orde, is dus 'n wesenlike gevaar binne Curriculum 2005 se raamwerk van morele neutraliteit en individuele outonomiteit.