Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 1 Januarie 1999
Skrifoordenking
KOM, HERE JESUS, JA KOM GOU!
DS JH SCHUTTE (EM) POTCHEFSTROOM *)
| "Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtigheid geopenbaar word. Hy wat die hemel met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak ..." 2 Tess 2 : 7 en 8 |
"Hierdie Jesus, wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het." Dié blye versekering het die twee manne in wit klere aan Jesus se dissipels gegee daardie dag toe hulle na die hemel bly staar het terwyl hy daarheen opgevaar het. Baie van die eerste Christene was van oordeel dat Jesus Christus se wederkoms spoedig sou plaasvind. Die gemeente van die Tessalonisense het blykbaar onder die invloed van sommige dwaalleraars wat in hulle midde bedrywig was, ook so gedink. Die dag van die Here het reeds aangebreek, het hulle gemeen, en Jesus Christus kan te eniger tyd op die wolke van die hemel verskyn.
Paulus wil hierdie verkeerde beskouing duidelik en pertinent weerlê. Aan Christus se wederkoms, sê hy, moet sekere tekens voorafgaan. Een van hierdie tekens sal wees dat die wetteloosheid - dit wil sê die ongeregtigheid - tot volle ontplooiing sal kom. Dit sal in al sy felheid en naaktheid en haatlikheid geopenbaar word. Die mens van wetteloosheid van wie hier gepraat word, is die antichris van wie ons ook in die briewe van die apostel Johannes lees. Die wet van God sal nie alleen negeer word nie, maar daar sal ook felle vyandskap teenoor sy wet wees. Sy wet sal verag word en die goddelose, verlore-gaande mense sal onder leiding van die antichris daarteen rebelleer.
Hierdie mens van wetteloosheid sal homself teenoor God stel en voorgee dat hy God is. Hy sal hom in God se plek stel en selfs sover gaan as om in God se tempel te gaan sit. Hy sal alles in sy vermoë doen om al God se bedoelinge met die skepping te dwarsboom. Hierdie werking van die wetteloosheid of ongeregtigheid is nie iets wat in die verre toekoms lê nie, dit is reeds nou in die hede 'n verskriklike werklikheid. Soms storm dit met brute geweld op die gelowige en op die kerk af, maar soms werk dit ook in die verborgene, agter die skerms, byna só dat 'n mens die werking daarvan nie kan agterkom nie.
Maar daar is iets of iemand wat die volle openbaring van die ongeregtigheid teëhou. Dit kan nog nie tot volle ontplooiing kom nie. Daar is 'n verhindering. Daar is iets of iemand wat 'n remmende invloed op die ongeregtigheid het, wat as 't ware vashou. Iets word die ongeregtigheid in die weg gelê sodat die volle werking daarvan nog nie ervaar kan word nie.
Wie hierdie weerhouer is, wat die volle ontplooiing van die ongeregtigheid teëhou, word nie met soveel woorde in ons teks gesê nie. As ons egter ons teks met ander Skrifgedeeltes wil vergelyk, word dit duidelik dat die teëhou van die volle ontplooiing van die ongeregtigheid veral op tweeërlei terrein ervaar word. God het wet en orde daargestel wat 'n remmende invloed uitoefen op die verderwende werking van die sonde. Selfs die sondige mens wat Jesus Christus en sy evangelie verwerp, kan nie doen wat hy wil nie. Hy word deur sekere norme en wette aan bande gelê.
Maar ook op die terrein van die besondere genade word die verderwende werking van die ongeregtigheid aan bande gelê deur die invloed van die kerk en die verkondiging van die evangelie. Sedert die dae van keiser Constantyn die Grote wat die vervolging van die Christene beëindig het en self 'n Christen geword het, word daar na die kerk geluister, selfs in ongelowige kringe. Dit wat die kerk sê, het nog altyd gewig gedra en respek ingeboesem by die wêreld, selfs in tye wanneer die kerk - soos gedurende die Middeleeue - op 'n dwaalspoor beland het.
Maar hierdie weerhouding van die volle ontplooiing van die ongeregtigheid is tydelik van aard. Dit word nie deur God se algemene genade en die invloed van die kerk en die verkondiing van die evangelie permanent buite werking gestel nie. Daar sal 'n tyd kom dat God hierdie remmende invloede sal wegneem en dan sal die ware gedaante van die ongeregtigheid en die mens van wetteloosheid tot volle openbaring kom. Dit sal ongehinderd voortwoeker in al sy gruwelikheid en boosheid. Dit sal soos 'n peswalm oor die aarde voortrol en alles en almal wat in sy pad is, verswelg.
Ons ervaar en belewe dit in 'n toenemende mate in ons tyd: hy wat die verderwende werking van die ongeregtigheid teëhou, is besig om uit die weg geruim te word. Dit wil voorkom asof wet en orde in baie wêrelddele, ook in Suid-Afrika, besig is om ineen te stort. Sogenaamde "menseregte" het feitlik almal se slagspreuk geword. Die vryheid van die individu word as 't ware vergoddellik. Baie mense interpreteer hierdie vryheid so: Ek kan doen wat ek wil. Ek laat my deur niks en niemand aan bande lê nie - nie deur my ouers nie, nie deur die maatskappy nie, nie deur die owerheid nie, selfs nie eers deur die kerk nie. Ek is my eie gesag.
Maar ook op die terrein van die besondere genade word hy wat teëhou, uit die weg geruim. Die kerk kan maar op grond van Gods Woord waarsku teen aborsie, teen dobbelary, teen die afskaf-fing van die doodstraf en nog baie ander euwels. Die owerheid en baie onderdane hou hulle doof vir hierdie waarskuwings. Hulle steur hulle nie daaraan nie. Hulle loop hulle eie pad. Daar word al minder en minder na die kerk en die evangelie van Jesus Christus geluister. Sien u hoe die weg voorberei word vir die finale aanslag van die mens van wetteloosheid, die antichris?
Maar is daar dan nog vir ons as gelowiges troos te midde van hierdie donker prentjie? O ja, daar is. Die mens van wetteloosheid en die ongeregtigheid sal hulle te pletter loop teen die rots Jesus Christus. Wanneer Hy op die wolke van die hemel verskyn, sal Hy die antichris en sy volgelinge en die ongeregtigheid verdelg deur die openbaring van sy volle heerlikheid en deur die asem van sy mond, dit wil sê sonder veel moeite en stryd. Hy sal aan die optrede van die wettelose mens 'n einde maak, hom magteloos maak en die volkome oorwinning oor hom behaal. Die gedagte van totale vernietiging tree hier op die voorgrond.
Maar ook vir ons wat nou lewe terwyl die wetteloosheid en ongeregtigheid nog toeneem, bied die Skrif heerlike troos. Lees maar Romeine 8 : 38 en 39: "Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God, wat daar in Christus Jesus, onse Here is nie."
Niks en niemand, selfs nie die volle ontplooiing van die magte van die antichris sal ons uit Jesus Christus se hand ruk nie, want ons wat aan Hom behoort, is gekoop met sy kosbare bloed wat Hy aan die kruis op Golgota vir ons vergiet het. Selfs al sou ons struikel, sal God deur sy Heilige Gees ons altyd weer oprig en ons in sy groot liefde en genade vashou sodat ons nie verlore gaan nie. Bowendien, so deel Jesus ons in sy profetiese rede mee, sal die tyd van die volle ontplooiing van die wetteloosheid en ongeregtigheid ter wille van die uitverkorenes verkort word.
Daarom moet ons maar elke dag op ons knieë gaan en saam met die kerk van alle eeue bid: Kom Here Jesus, ja kom haastig.
*) Oorspronklik geplaas in en oorgeneem uit: DIE KERKBLAD, 28 Februarie 1996, bl 2,3