Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 1 Januarie 1999
Kerklike Joernaal
PRAXIS PIETATIS
"'n Eerste Spiritualiteitsretraite vir Teologiese Studente"
'n Praktiese Toepassing van die Ervarings-Teologie?
Verontrustende Tendens ten aansien van die TSP
Die redaksie van ons blad het insae gekry in 'n program van die TSP vir 'n "Eerste Spiritualiteitsretraite vir teologiese studente", waarvan die aanbieders "Fika", "Cassie", "Koos" en "Amie" was.
Dit is opmerklik dat die normale gesagsverhouding tussen die betrokke professore en die deelnemende studente - heeltemal in lyn met die teenswoordige revolusionêre veranderings ten opsigte van die sosiale samelewing - relativeer deur dié "retraite" aan te bied onder die persoonlike noemname van eersgenoemdes. Dit is duidelik dat die liberale tydgees daarin tot uitdrukking kom.
"Retraite" word in die woordeboek omskryf as "afsondering, terugtrekking van die wêreld vir bepeinsing, gebede, boetedoening" ensovoorts. Daarin is 'n piëtistiese asook metodistiese inslag waarneembaar. Ons vind hierin die neerslag van piëtistiese en 'n bevindelike geloofsbetragting en die soeke na sielservaring deur 'n direkte gemeenskap met die Heilige Gees.
Die "Detailprogram" vermeld onder andere die volgende punte: "VOOR GOD TOT STILSTAND KOM, en tot jouself kom". ... "Stilword voor God met Skrifgedeelte 1 - Luk 10 : 38 - 42 (Amie): Laat lees Luk 10 : 38 - 42 en - sonder om oor Skrifdeel self te praat of te laat praat. Amie noem: Skuif prosesvrae, regsinnigheidsvrae, teologiese vrae opsy; teken alles aan; ons hou aan die einde 'n sessie waarin ons oor die teorie van praxis pietatis gaan praat." ... "Verskillende spiritualiteitstipes - 'n studie-oefening (Fika): Laat vraelys invul sonder enige bespreking". ... "Dagtema: My plek in God se plan met die GKSA en SA - Tema 2: Vocatio (Roeping), Skrifdeel 2: 1 Tess 2 : 1 - 12 (Fika): Druk neus in SA se realiteite (bv koerantberigte; wat sê hierdie koerant oor jou werk?), hele migrasiebehoefte. Oes op die lande nog wit? Visionering versus Bedienings-energie. Net in instandhouding. Min studente wat aanmeld? Wat kort in ons eie roepingsbesef om mense te laat 'droom' oor hulle roeping in die land? Het ons die geloofsenergie? Stuur weg na God met oop Bybel. Moet eindig by voorneme voor God oor eie roepingsvervulling." ... "Tema 5: Hoe 's ek nou hier? (Amie): Lei almal om te vertel waar hulle nou (onder andere na die dag se voor-God-wees-tyd) is." ... "Tema 6: My eie spiritualiteitstipe (Fika): Verduidelik die kwadrante, en kort bespreking." ... "Met my verstand voor God: Pelgrimstog in die natuur (Fika) "Sang en gesprek oor Skrifgedeelte 5 (Ps 139, Koos): moet uitloop op 'n herontdekking van die Here se liefdevolle versorging, en die ingebedheid van my verhaal in God se verhaal. Roeping groei uit God se verkiesing en bemoeienis. Bereid tot óóp voor God staan, en vra om leiding van Gees." ... "Tema 7: Gereformeerde Spiritu-aliteit (Amie)." ... "Terugskouing en Evaluering (Cassie, Fika, Amie, Koos; Cassie: vraelys)."
Hiermee is in hoofsaak die inhoud van dié "Retraite" aan die lesers bekendgestel om self daaroor te kan oordeel. Allereers kan gevra word waarom hierdie "Praxis Pietatis" gehou is. Was dit om die bestudering van die Woord van die Here te intensiveer óf om die menslike gevoelens - in afsondering - af te tas en om sodoende die innige gemeenskap met die Heilige Gees te soek en te ervaar? In die geval van laasgenoemde, watter invloed gaan dan uit van die genoemde professore om die studente te lei op die pad na, in bepaalde opsigte, 'n mistieke praktyk van so 'n "retraite", oftewel 'n spesiale gebedsafsondering?
Die uittreksels uit die bovermelde program bevestig die verontrustende tendens van die ervaringsteologie, waarvan die grondslag en uitgangspunt in die bevindelikheid van die Christen berus. Op dié wyse word die sekerheid van geloof en denke gesoek in die religieuse ervaring of bevindelikheid van die gelowige. Hierdie benadering van die geloof kan gedeeltelik herlei word na die teologie van Schleiermacher (1768 - 1834) asook latere geesverwante van hom. Sodoende word die gedagtes om die uitgangspunt vir die kennis van die teologie in die sielservaring van die Christen te neem, op verskillende wyses uitgewerk. Die een beklemtoon die religieuse gevoel, die ander die Christelike vroomheid, weer 'n ander die wedergeboorte, of 'n gelowige bewussyn: wél die Heer maar nie die leer(!) en nog ander 'n lewende gemeenskap met die Heilige Gees, of ook wel 'n oordrewe toepassing van naasteliefde.
As 'n mens uitgaan van die bevindelikheid om die geloofsekerheid en die Christendom daardeur te bevestig, deur skuldbesef en verootmoediging, sondevergewing, geloofsvertroue en vreugde in die hart, begeerte na heiligmaking, bevestig dit tog nie die waarheid van die geloof nie. Hierdeur word slegs die vrugte van die geloof openbaar. Maar die vrug van die geloof kan tog nie die grond daarvan wees nie. Sodoende word die geloof dan ook ánders (op 'n nie-Gereformeerde wyse) vertolk. Die oortuiging dat die saligmakende geloof in die eerste plek beteken om alles wat God in sy Woord geopenbaar het vir waar te hou, word in sekere mate vervang deur die doelbewuste en konkrete bewerking van religieuse ervarings. Maar die religieuse ervaring van die siel kan en mag nie as kenbron vir die sekerheid van die geloof aanvaar word nie.
Die ervaring/bevindelikheid is in sekere sin nodig, ja onmisbaar vir die gelowiges. Dit openbaar die krag en die werking van die geestelike lewe en bied, na versugting uit dieptes van ellende, allerlei ryke vertroosting vir die hart, maar dit is geen kenbron van die skriftuurlike waarheid nie. Wat dit aangaan is die Heilige Skrif, die Woord van God, die enige kenbron en toetssteen. Die Bybel leer ons ook sien en glo wat en hoe die lewe van die siel ervaar moet word.
Teenoor die subjektiwisme van die ervaringsteologie wat onseker is omdat dit geen maatstaf en toetssteen besit en tot onderskeiding van waar en vals, van reg en verkeerd, van klaar en vaag, nie in staat is nie, én tewens sterk beperk is omdat dit op 'n swak kennisvermoë berus, naamlik die persoonlike ervaring sonder die onuitspreeklike rykdom van die openbaring van die veelvoudige wysheid van God in sy Heilige Woord, daarom geld die woord van die profeet ten opsigte daarvan: " Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle 'n volk wat geen dageraad het nie" (Jes 8 :20).
Die bogenoemde "Praxis Pietatis" van die TSP skep 'n gevaar vir die beweging in 'n piëtistiese rigting wat vandag in die sogenaamde Pinksterkerke en Charismatiese Bewegings eksplisiet nagestreef word. Daarteenoor staan die gereformeerde godsdiens wat getipeer word deur die prediking van die geloof en die toerusting van kerklidmate met die vaste kennis van die waarheid volgens die openbaring van God se Woord. Gereformeerde kerke se eredienste is in die eerste plek Woordverkondiging, terwyl die Pinksterkerke en Charismatiese Bewegings hulleself in talle opsigte bekendstel en tipeer as Gebedshuise of Aanbiddingsentrums. ®