Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 1 Januarie 1999
Kerklike Joernaal
PARTIKULIERE SINODE NOORD-TRANSVAAL
BESLUIT NOGMAALS OOR
KELKIE / BEKERGESKIL
Appèlkommissie rig 'n vermaning aan kerkrade om hulle te hou aan besluitnemings ten aansien hiervan
Nieteenstaande laasjaar se sterk gemotiveerde afwysing van die gebruik van kelkies vir die viering van die Nagmaal deur die PS Noord-Transvaal, het die saak tans weer by dié PS op 24 en 25 November 1998, in die vorm van 'n appèlskrif teen 'n uitspraak van die klassis Suidelike-Pretoria gedien. Volgens die PS van November 1997 het die Nasionale Sinode (1997) ondubbelsinnig verklaar dat die besluite van 1927 en 1930 nog steeds geldig is. Daarbenewens is in dié besluit ook uitdruklik op die onderhouding van artikel 31 van die kerkorde gewys. Dit was ook nou weer ter sprake en is herbevestig.
Die appelllant, br Jean de Villiers, wys in sy appèlskrif op 'n besluit van die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Rietvallei dat hulle in stryd met die Skrif, belydenisskrifte en die kerkorde die gebruik van die kelkies vir die viering van die nagmaal ingevoer het. Dit is gedoen ten spyte van die voornoemde uitsprake van Nasionale en Partikuliere Sinodes. Die volgende redes is onder andere aangevoer:
- Dat menslike gevoelens en sogenaamde sosiaal-higiëniese gebruike in ag geneem moet word;
- Dat die kerkraad ten opsigte van die gevoelens van die gemeente "akkomoderend" opgetree het.
Die redes vir die invoering van die gebruik van kelkies wentel om "die gevaar van aansteeklike siektes" en dat hulle wil "akkomoderend optree teenoor lidmate wat bona fide higiëniese redes oor die gemeenskaplike beker het". Die appellant het hiermee nie 'n nuwe saak aangevoer nie. Verskeie uitsprake van meerdere vergaderings bevestig op wetenskap-lik-medies verantwoorde gronde dat siekte-oordrag deur die gemeenskaplike gebruik van die beker so gering is dat dit buite rekening gelaat kan word. Rietvallei se kerkraad fouteer deur spesifiek menslike gevoelens en gebruike voorop te stel, wat artikel 62 van die kerkorde in die gedrang bring.
Die appellant wys daarop dat die argumente van die kerkraad berus op "(vermeende of werklike) higiëniese redes en op 'n emosioneel sielkundige vlak ... indruisend teen hulle sosiaal-higiëniese gebruike ..." Hierdie houding is nie op natuur-wetenskaplike bewyse gebou nie maar op "aanvoeling, liefde en bedagsaamheid." Dit is oneerbiedige stellings omdat dit die heilige Sakrament begin beoordeel sonder Skrifgefundeerde bewyse, as sou die menslike voorkeure bepalend moet wees vir die wyse van Nagmaalviering.
Die appèlkommissie het ná lang beraadslaging en oorweging hulle rapport aan die Sinode voorgehou en aanbeveel dat dié appèl gehandhaaf moet word. Die Sinode het dié aanbeveling aanvaar. Daarbenewens is dit weer beklemtoon dat die sinodebesluite van 1927 en 1930 omtrent hierdie saak steeds van krag bly. Ook het die rapport van die kommissie nog 'n vermaning gerig aan kerkrade in die algemeen dat hulle hulle moet hou aan die besluite hieroor en ten opsigte daarvan versigtig sal handel.
NG Sarkady (Gereformeerde Kerk Innesdal)