Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 1 Januarie 1999
Kommentaar
DIE TSP SE RELASIE MET DIE PU VIR CHO
'n Dreigende Gevaar?
In die uitgawes van DIE KERKBLAD van 21 Oktober en 4 November 1998 is melding gemaak van die onlangse aanpassings van die PU vir CHO aan veranderde omstandighede met die onvermydelike gevolge wat dit vir die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke behels. Hoewel daar begrip is vir die oorsaaklike redes daarvoor, mag die gevaar wat dit inhou vir verwatering van die teologiese opleiding nie onderskat word nie. Temeer omdat verontrustende tendense reeds waargeneem word ten opsigte van verskeie professore wat leerstellig en kerkregtelik asook op die staatkundig/maatskaplike terrein dinge verkondig en doen wat, met die oog op die leer, orde en tradisie van die kerk omstrede is en wat reeds openlik betwis word. |
Prof CJ Reineke, Rektor van die PU vir CHO, verskaf in die uitgawe van DIE KERKBLAD, 21 Oktober 1998, bl 8 -10, 'n oorsig oor die ontwikkelinge wat gelei het tot die "nuwe daeraad", 'n nuwe Statuut van die PU vir CHO. "As kerke wat ten opsigte van die opleiding van predikante 'n besondere ooreenkoms met die Universiteit het, en wat ook besondere historiese bande met die PUK het, is die aanvaarding van die nuwe Statuut van die PU vir CHO 'n bron van geweldige vreugde en dankbaarheid", skryf Prof A le R du Plooy, Rektor van die TSP, in sy artikel in dieselfde uitgawe van DIE KERKBLAD, bl 14.
As agtergrond moet rekening gehou word met die feit dat die PU vir CHU nie 'n universiteit van die Gereformeerde Kerke is nie. Daar is derhalwe geen binding aan die leer van die kerk soos uiteengesit en aanvaar in die Drie Formuliere van Eenheid nie. Daar bestaan geen verbindende leertug ten opsigte van afwykings van die bybelse Waarheid nie. Dit geld te meer ten opsigte van die studente. "Die oorgrote meerderheid van die studente van die PU vir CHO is van die Christelike geloof. In teenstelling met die tyd van oprigting van die inrigting, is die oorwig studente in die 1990's nie meer lidmate van die GKSA nie - trouens, slegs ongeveer 15% behoort daaraan. Die twee ander grootste groepe is 55% van die Nederduits Gereformeerde Kerk 10% van die Hervormde Kerk", aldus DIE KERKBLAD. Dit laat nog 20% onvermeld. Tesame met die vermelding van prof Reinecke dat "geen bepaling van die Private Wet van die PU vir CHO in stryd met die interim grondwet van die RSA is nie" en dat "in die toepassing van die bepalings van die Private Wet daarmee rekening gehou moet word dat konflik met die grondwet nie geskep word nie, en veral met hoofstuk 3 daarvan (de Gedeelte oor die Handves van Menseregte)", veroorsaak dit alles dat die toepassing van 'n Bybelgetroue kurrikulum vir die vakonderwys in alle fasette vrywel onmoontlik is. Dit blyk reeds uit talle gelewerde resultate tot dusver. In hoeverre die PU vir CHO nog op die naam Christelik aanspraak kan maak hang af van die definisie wat daaraan geheg word. Vanuit behoudende Gereformeerde geledere word dit lankal betwyfel.
Daarenteen staan die dosente van die TSP onder die leer- en regeergesag van die Gereformeerde Kerke, wat amptelik deur die Raad van Kuratore uitgeoefen word. Dié kuratore word benoem deur en staan onder die gesag van die Nasionale Sinodes van die GKSA wat normaalweg eenmaal per drie jaar saamgeroep word. Professore staan in diens van die kerke vir die opleiding van toekomstige dienare van die Woord. Die verbintenis met die PU vir CHO is derhalwe funksioneel en nie prinsipiëel nie. Indien daar botsing van belange plaasvind dan geld die band met die kerke as die hoogste gesag en prioriteit.
Prof du Plooy verwys na die huidige akkreditering van 'n aantal teologiese inrigtings (skole, Bybelskole, teologiese inrigtings) by die PU vir CHO (Fakulteit Teologie) wat deur die TSP se professore waargeneem word. Prof Francois Viljoen beskryf dit uitvoeriger in sy artikel: "Op hierdie stadium is daar tien inrigtings wat by ons geakkrediteer is. Hiervan is agt in Suid-Afrika, een in Mosambiek en een in Brittanje. Tydens ons onlangse studiegids-werkswinkel met die geakkrediteerde inrigtings, het Church-Ministries Institute of Johannesburg 'n ooreenkoms met die PU vir CHO onderteken. Die Baptist College of Natal se aansoek is deur die Fakulteit Teologie goedgekeur en aanbeveel vir goedkeuring deur die Senaat van die Universiteit. Hierbenewens is daar nog 'n aantal inrigtings wat ons genader het vir moontlike akkreditering, waaronder een uit Swaziland, een uit Uganda en een uit Kenia", aldus prof Viljoen.
Dat die akademiese standaard van die Teologiese Fakulteit, soos in dié artikel vermeld, van hoogstaande gehalte is, daaraan hoef nie getwyfel te word nie. "Aan die ander kant soek dié instansies aansluiting by die Christelike karakter en die teologiese tradisie van die Universiteit. Voornemende instansies het die geleentheid om ons silabusse en kursusinhoude te gebruik en hulle vind hulle tuis met die manier waarop ons in die Teologie met die Bybel omgaan", sê prof Viljoen. Hier moet in rekening gebring word, wat eerder genoem is, dat dit afhang van die omskrywing en waarde wat aan die "Christelike karakter en die teologiese tradisie van die Universiteit" geheg word. Dat dit nie die binding aan die Drie Formuliere van Eenheid betref nie, is sonder meer duidelik as gelet word op die lys van geakkrediteerde inrigtings wat in die artikel van prof Viljoen bekendgestel word. Nogtans bly die professore self in hulle aanbieding van silabusse en kursusinhoude gebind aan die ondertekeningsformulier om "niks te leer wat strydig is met die Gereformeerde leer nie en om hierdie suiwere leer voor te staan en elke dwaling te weerlê wat daarteen stry."
In hoeverre die professore daaraan voldoen om die ware Gereformeerde leer aan geakkrediteerde inrigtings en studente aan te bied, kan slegs aan die toekomstige resultate gemeet word maar voorshands betref dit 'n dreigende gevaar om deel te word van 'n algemene Christendom waarby die onderskeidende kenmerke van die gereformeerde geloof en van die ware en valse kerk (NGB, art 3 - 7 en 27 - 32) in die gedrang kan kom. Mag die Here dit verhoed en juis sy seën hieroor gebied. Daarom is intensiewe meelewing en die gebede van die lidmate van die kerk noodsaaklik. ®