Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 1 Januarie 1999
Boekbespreking
"DIE VREEMDE GOD EN SY MENSE"
Prof JC Lombard (em) UOVS: Dept Bybelkunde
"Die vreemde God en sy mense" - Outeur: WA de Klerk - Uitgewer: Human en Rousseau
Inleidend:
Die outeur se denke het al veelseggende kontoere en kinkels en kabels na vore gebring.
Ons dink byvoorbeeld aan sy toespraak van die sestiger jare by 'n SABRA-kongres toe hy
afsonderlike ontwikkeling sterk en oortuigend bepleit het as die enigste alternatief en
die geboortereg vir die blanke Afrikanervolk en sy medegangers wat geesgenote is. Nie lank
daarna nie hoor ons sy trompet as redakteur van RAPPORT dat "apartheid dood
is"; dis afgeskryf, taboe en verwerplik. Sedertdien het hy alles wat afsonderlike
ontwikkeling van volkere in Suider-Afrika beoog het, met hand en tand beveg. Hy het sy
Christelike volkseie siening, soos dit ook in ons liedereskat oor volk en vaderland
vertolk word, algeheel afgesweer.
In die publikasie hier ter sprake toon hy ook teologies wending na meer links. Hy erken dit self in geen onduidelike taal nie. In die saaklike kommentaar daaroor gaan ons onderskeidelik handel oor 1) sy Skrifbeskouing, 2) sy Godsbeskouing en tendens tot relativisme, en 3) sy onbybelse en daarom ongereformeerde aanwending van die wysgerige begrip 'paradoks', wat weer nou saamhang met sy Skrif- en Godsbeskouing. Omdat dit die primêre vertrekpunt is behandel ons in hierdie aflewering net saaklik sy Skrifbeskouing. Ons sal, ter wille van duidelikheid en ook regverdigheid teenoor die skrywer, homself ook aan die woord moet stel.
De Klerk se Skrifbeskouing
Reeds die titel "Die vreemde God en sy mense" getuig daarvan dat hy hiermee
nie die Woord se getuienis oor God eerbiedig nie, want God is nie 'n "vreemde
God" vir sy eie kinders en bondelinge nie, maar daaroor later meer. De Klerk erken,
alhoewel te sag gestel, dat hy sy eie weg inslaan (bl 8): "die roetes wat verken
word, is hoofsaaklik (let wel, JC L) steeds binne die landskap van die Christelike
tradisie. Tog word die grense van dié tradisie plek-plek oorgesteek." Die probleem
daarmee is egter dat hy dan skeeftrap en sy voet swik. Geen wonder nie, want hy getuig
hier self dat hy dit doen, "soms versigtig en soms moedswillig en soms met
huiwering."
In die lig hiervan hoef dit nie te verbaas oor wat verder van sy kant aan die lig kom, juis ook die oorsteek van sy eie gereformeerde tradisie nie. Hy is in 'n versetstemming as hy kla dat in die RSA in die algemeen (eie kursivering) "weerbarstig vasgehou word aan die ou modelle. Die paar stemme wat roep word vinnig en dadelik gesmoor." Is die eerste mense met wie hy hierdie irriterende ondervinding opgedoen het dan nie juis sy mede-gereformeerdes in engere en breëre sin nie? Praat hy nie uit ondervinding nie?
Twyfel oor en relativering van die Skrifinspirasie en Skrifgesag
Binne die konteks van sy betoog oor die oorsprong van die Godsbesef poneer De Klerk:
"Waar is daar 'n sterfling op aarde wat weet wat in Gen 1 en 2 gebeur het? Is die
Christelike leer daaroor maar nie ook spekulasie nie?" Ons vra: wie wil weet wat Gen
1 en 2 impliseer, behalwe dat God die Skepper is? Wat het die goeie gereformeerde
"tradisie" in die belydenisskrifte en besinning anders gedoen om in die eksegese
die Woord se getuienis na te spreek? Volgens De Klerk is dit alles maar net spekulasie!
Gewaagde stellings oor openbaringsgeskiedenis - historisiteit
Ons lees op bladsy 51: "Die Bybel is nie eksakte geskiedenisdokumente nie",
en "die hele geskiedenis van Gen 1 - 11 is verhale en mites van die ou tyd wat oral
in omloop was. Dit mag spekulatiewe stories gewees het, of mites waarin sekere historiese
gebeurtenisse skeefgetrek en oorgelewer is, of dis simboliese verhale. Wat vasstaan is dat
dit nie eksakte geskiedenisdokumente is nie." Dit verbreed hy tot die hele Bybel as
hy skrywe: "Dis enkele voorbeelde waarby nog dosyne gevoeg kan word wat duidelik laat
blyk dat die Bybel geen eksakte geskiedskrywe is nie" (bl 51).
De Klerk beweer dat dié dele van die Bybel nie God se openbaring is nie, maar hy wyk ontstellend af van die Christelike tradisie as hy die historisiteit van die Ou en Nuwe Testament se geskiedskrywing willekeurig ontken. Ons weet dat al die Bybelboeke nie historiese boeke is nie, byvoorbeeld, Psalms, Hooglied, ensovoorts. Wat maak De Klerk, wegsakkend op dun ys in troebel water, met onder andere die terugverwysings na die eksakte historiese gebeure in die Ou Testament vanuit Jesus se spreke, vanuit Handelinge en deur Paulus? Watter twyfel saai hy met die vergeesteliking en vervlugtiging van die histories-eksakte, soos God juis konkreet en deur mense op die aarde gewerk het?!
Was Noag en die sondvloed, die toring van Babel, Abraham, Moses, die Rigters, die profete, Konings en Kronieke asook Paulus se sendingreise "spekulatiewe storie of mites, skeefgetrek en oorgelewer en simboliese verhale"? Bedoel hy wat hy sê, en sê hy wat hy bedoel, in duidelike taal? Soos hy dit sê lees die padwyser dan ook: hier skei die weë, want sy standpunt verwek talle twyfelvrae sonder enige duidelike antwoord. Wat maak De Klerk met Psalms 78 en 105 en met Handelinge 7? Of is dit ook maar soos hy skrywe: "Die Bybel vertel foute en al (eie kursivering) van momente en insidente waar God Hom in die geskiedenis van Israel bekendgestel het." Op bladsy 52 lees ons oor die Ou en die Nuwe Testament as sou dit wees: "interpretasies, plek-plek fiksie wat as feite aangeteken is, foutiewe rekenkunde en simboliese verhale. ..." Hy beweer verder: "Jona lyk soos 'n storie wat mense van dié tyd se siening oor God bevraagteken ... ."
Die behoudende, Bybelgetroue teoloë weet dat die openbaring aan en deur mense geskrywe, vervleg was met die kultuurmilieu en dat die nodige kontekstualisering in die eksegese verwerk moet word. Dis egter totaal iets anders as De Klerk se relativering van die Skrifgesag soos na vore gebring.
Die inspirasie van die Heilige Skrif
De Klerk aanvaar die sogenaamde "organiese" inspirasie van die Skrif soos
God dit via mense deurgegee het, maar hy het sy gevaarlike voorbehoud. Hy stel dit as
volg: "maar die oorbeklemtoning dat dit Goddelik geïnspireerd is en
onderbeklemtoning dat dit menslike geskrifte is, maak 'n mens sku om dié antwoord van
ganser harte te aanvaar." Dit betref 'n valse probleeemstelling. Die Here het deur
die Heilige Gees al die 66 boeke van die kanon deur mense laat skrywe maar Hy is juis ook
die outeur daarvan, van hierdie 66 Bybelboeke. Daar is ook nie in die Bybel een stel meer
Goddelike boeke en 'n tweede groep meer menslike boeke nie. Wat maak De Klerk in die lig
van sy bedenking oor dieGoddelike en menslike aandeel in die Skrifinspirasie (2 Tim 3:16
en 2 Pet 1:21); met die Goddelike gesag wat Jesus aan die Ou Testament toeken en self
vergestalt ten opsigte van die Nuwe Testament; - ook ten opsigte van wat ná die vier
Evangelies volg?
De Klerk se dwaalgedagtes kom onomwonde na vore ook in die volgende ongelukkige stelling: "alles in die Bybel is nie Goddelike openbaring nie; maar in die Bybel is betroubare Goddelike waarheid verpak" (bl 54). Op bladsy 55 skrywe hy andersins duidelik dat die Bybelinhoud ook onderhewig is aan "skeeftrekkings". De Klerk is bang vir "fundamentalisme" - 'n term waarmee talle vrysinnige teoloë die behoudendes afgemaak het. Met sy pasgenoemde en andere uitsprake hierbo genoem staan hy egter nekdiep in die negentiende eeu en latere dualistiese inspirasieleer wat dele van die Bybel as nie-Goddelik-geïnspireerd beskou nie. Hierdie dwaling het sy duisende en tienduisende teoloë en kerklidmate verslaan. Dit begin by twyfel en tweespalt oor die Bybel en eindig in ongeloof.
De Klerk behoort, as hy konsekwent in die lig van artikels 2 - 7 van die NGB is 'n gravamen, 'n beswaarskrif, by sy Kerk se meerdere vergaderings in te dien - want sy persoonlike beskouing is strydig daarmee. Hy behoort - as 'n voormalige en opgeleide dienaar van die Woord - baie goed te besef dat dit onhoudbaar is om sy gedagtegang in 'n Bybelgetroue Gereformeerde Kerk te kan handhaaf . Die verdere optrede hieroor is egter 'n huishoudelike saak binne sy kerkverband.