Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
AKTUEEL GELOOFSVERKLARING 2000 "Só sien en só verstaan ons wat ons bely" Geloofsverklaring 2000 opgestel op inisiatief van Die Kerkbode, koerant van die NG KerkP VAN DER KOOI
D
ie "Geloofsverklaring 2000" wat in Die Kerkbode van 3 Desember as bylae ingevoeg is, "kan eintlik as 'n beginpunt van verdere nadenke oor ons geloof gesien word" sê prof Danie du Toit van die Teologiese Skool van Stellenbosch. Dr Pieter Bingle van die Gereformeerde Kerk in Kaapstad sien dit as 'n soort "persverklaring oor ons geloof". Volgens die berig in Die Kerkbode is hy van mening dat dit goed en lofwaardig is dat kerke saam kan praat en besin en formuleer "nie net vanuit die verwysingsraamwerk van jou eie kerk nie, maar ook breër, saam met lidmate van ander kerke, op grond van die Woord van God".Dié Geloofsverklaring is voorafgegaan deur 'n konsep-verklaring wat in die uitgawe van Die Kerkbode van 2 Julie 1999 gepubliseer is. In die uitgawes van ons blad van Julie en September is krities daarna verwys. "Dié konsep was die werk van agttien kundiges wat afsonderlik van mekaar volgens 'n aantal riglyne twintig 'verklarings' opgestel het. ... In oorleg met die oorspronk-like medewerkers is die konsep-verklaring uiteindelik deur 'n eindredaksie van tien persone vereenvoudig en aangepas", aldus Die Kerkbode van 3 Desember 1999.
Dr Frits Gaum is die eindredakteur en die ander wat in hulle persoonlike hoedanigheid deel is van die eindredaksie, word genoem in die uitvoupamflet wat as bylae in die betrokke uitgawe van Die Kerkbode toege-voeg is. Hulle is mnr Herman Bailey en ds Jan Mettler (Verenigende Geref Kerk), proff Pieter Coertzen en Danie du Toit, ds Freek Swanepoel, mnr Neels Jackson en mej Adri-Louise van Reenen (NG Kerk), dr Yolanda Dreyer (Ned Herv Kerk) en prof Koos Vorster (GKSA). As medewerkers word genoem naas dr Pieter Bingle van die GKSA, onder andere, die professore Adrio König en Christina Landman (NG Kerk).
Die redaksionele artikel in dieselfde uitgawe van Die Kerkbode (bl 4) vermeld dat "net twee lede van die aanvanklike paneel hulle, om verskillende redes, aan die projek onttrek het". Terwyl ons bewus was van prof GJC (Jorrie) Jordaan se voorwaardelike deelname daaraan, het ons van hom die bevestiging ontvang dat hy homself daaraan onttrek het. Die redes wat hy daarvoor aanvoer, sal in 'n uitgawe van Die Kerkblad wat eersdaags verskyn, bekendgestel word. Hy was 'n deelnemer/spreker by die Simposium Skrifgesag teenoor Skrifkritiek, wat op 29 en 30 Oktober in Pretoria gehou is. Met sy geloofsverklaring, gelewerde toesprake en aanvaarde mosies wat in 'n bundel gepubliseer en beskikbaar gestel is, staan hierdie Simposium prinsipiëel teenoorgesteld aan die "Geloofsverklaring 2000".
Dit betref 'n waterskeiding in die belydenis van die algemene ongetwyfelde Christelike geloof, soos dit in die uitgawe van ons blad van Julie (bl 3) vraenderwys voorspel is.
"God is groot. Ons woorde skiet te kort as ons iets oor die Here wil sê. God is goed. Ons leer die Vader, Seun en Heilige Gees in die Bybel ken, en ons kan nie anders as om ander van die goedheid en grootheid vanGod te vertel nie.
Geloofsverklaring 2000 word in dié gesindheid met die oorgang na 'n nuwe millennium aangebied. Dit is 'n poging om die vreugde van en insigte in ons geloof met een en almal te deel. Dit is nie 'n nuwe of ander geloofsbelydenis as die bestaandes nie ... maar ... só sien en só verstaan ons ... die geloof wat ons bely en die implikasies daarvan in die jaar 2000 nC', aldus die "Vooraf". Wat daarna volg is in twintig verklarings ingedeel, waarvan die eerste twee oor God en die Bybel en die vierde oor die Kerk handel. Met verbygaan aan die ander lewer ons hierop kommentaar.
Die Geloofsverklaring 2000 vervang dus nie die belydenisskrifte, waaronder die Drie Formuliere van Eenheid nie. Wat is dan die dryfvere en uiteindelike resultaat wat hiermee beoog word? "Dit is 'n poging om te sê hoe gereformeerdes dink oor sake van die dag, hoe ons die Christelike geloof in ons tyd verstaan", aldus ds Coenie Burger. Maar al met al beteken dit 'n reduksie en relativering van die Gereformeerde geloof wat in die belydenisskrifte geformuleer is en veronderstel word om in die Woordverkondiging geleer en deur die getroue lidmate van die kerk bely te word.
In die benadering van die Christelike geloof is daar twee pole wat teenoor mekaar staan. Dit is die essensiële teenoor die eksistensiële denkpatroon. Prof dr H Jonker van Utrecht tipeer dit (vryelik vertaal) as volg: Die essensiële denkpatroon lê die nadruk veral op die dogma, die belydenis van die kerk. Die openbaringswaarheid is 'n saak wat op sy helderste geformuleer moet word om afwyking, verduistering van die waarheid en kettery te voorkom. "Trouw aan de belijdenis is de eerste vereiste om als kerk vruchtbaar te werken". Daarenteen let die eksistensiële denkwyse meer op die vraag hoe die waarheid wat God se Woord ons leer die moderne mens aanspreek. Waarheid is nie "waar" as dit pragtig deur ons geformuleer word nie, maar as dit vir die mense waaragtig wórd en in hul lewensbestaan realiseerbaar is. Die praktyk van die lewe word die bepalende faktor vir die verklaring en toepassing van God se Woord.
Die laasgenoemde denkpatroon blyk uit die "Vooraf" van die Verklaring 2000, met die vermelding dat dit (ook) "nie 'n 'finale verklaring' is nie. Die Gees van die waarheid is immers met die gelowiges onderweg na dieper en heerliker insigte en daarvoor stel ons ons tot die Here se beskikking". Die derde punt van die Tweede Verklaring: die Bybel, formuleer in lyn daarmee: "dat die Bybel onder leiding van die Heilige Gees deur mense geskryf is en dat die Heilige Gees die gelowiges as gemeenskap kan lei om die Bybel in hulle tyd nuut te verstaan". Daarmee kan alle bekende Skrifkritici hulle vereenselwig. Karl Barth sowel as Harry Kuitert, Ferdinant Deist, en Isak Spangenberg as Willem de Klerk en ander. God se Woord word nie op grond van die Goddelike inspirasie as die onbetwyfelbare waarheid verklaar nie. Die deur staan wawyd oop vir die Skrifkritiek wat openlik en op talle wyses in kerke wat hul nog as gereformeerd tipeer, gehuldig en geduld word.
Dit betref ook die verklaring oor die geloof in God: "dat Hy alles gemaak het en daarvoor sorg". Die konsep-verklaring is onder andere aangevoor met die woorde van Ruda Landman dat sy "nie meer glo aan Adam en Eva nie, nie letterlik nie". Daarmee word die skeppingsalmag van God betwyfel en ruimte geskep vir evolusionistiese denke. Dit vind vergestalting in die huidige Skrifkritiek en is ook aanvaarbaar vir Deïste wat die totstandkoming van die heelal met alles wat daarin aanwesig is aanvaar as 'n bonatuurlike, 'n goddelike krag, wat gevolglik deur die natuurwette wat daargestel is in stand gehou word soos 'n horlosiemaker wat 'n uurwerk gemaak en opgewen het om 'n bepaalde tyd te loop. Die geloof "dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus, wat die hemel en die aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer" (HK, vr/ant 26) word volgens rasionele denke verklaar om ruimte te skep vir die evolusionistiese benadering van die Bybel. "Die historiese kritiek het nou maar eenmaal uitgewys dat die bybelse verhale en die tradisionele Christelike dogmas mekaar nie altyd dek nie en intelligente lidmate huiwer nie om dit deesdae hardop vir predikante te sê nie, aldus prof IJJ Spangenberg (Unisa) in BEELD, 6 Mei 1999. Die Geloofsverklaring 2000 oor God en sy Woord is akkomo-derend vir diegene wat die onfeilbaarheid van Gods Woord betwyfel en betwis.
Dit bring ons by die Vierde Verklaring wat ons wil kritiseer, naamlik dié oor die Kerk. Ook dit word meer eksistensialisties as essensialisties vertolk. Die kenmerke van die ware teenoor die valse kerk is nie ter sprake nie. Die suiwere Woord- en sakramentsbediening word nie onderskei en afgeskerm teenoor dwalings nie. Die Verklaring stel ten aansien van die kerk "dat vir sy lewe na binne die volgende sake baie belangrik is: ... (5) om mekaar terug te roep as ons van Christus sou wegdwaal". Die NGB, art 32 stel ten aansien hiervan dat dit juis daaroor gaan om nie af te wyk van wat Christus, ..., vir ons ingestel het nie. Dus word die leer en die kerklike tug, die skriftuurlik/kerkordelike waarheid wat in die belydenisskrifte geformuleer is, gerelativeer. Maar "de kerk is daar waar het evangelie zuiver verkondigd wordt en waar sakramenten op de juiste wijze bediend worden. Omdat het om deze 'zuivere' verkondiging van het evan-gelie gaat, hoort tucht bij het kerk-zijn. De kerk moet er op toezien, dat het ware evangelie verkondigd wordt in haar midden", aldus dr K Runia. (Vragen van onze tijd Kampen: JH Kok).