Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
DIE EERSTE GEBOD 'n Verwerking van 'n skets deur ds JR Visser (VGKSA) Pretoria - Maranata Oorgeneem uit: Mededelingsblad van Die Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria, 1 Augustus 1999, bl 2 en 3 DIE HERE ALLEEN! Jy mag geen ander gode voor my aangesig he nie (Ex 20:3).'n Kultuurvreemde gebod
Die eerste en tweede gebod was in die omgewing waarin Israel geleef het, vreemde gebooie. Dit was volledig in stryd met die denke en die kultuur van die volke van dié tyd.
Die HERE sê in die eerste gebod: jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
Die ander volke het almal meer as slegs een god gedien. Godsdiens was 'n saak van 'n verskeidenheid van gode met een god as die hoofgod of die magtigste god, maar nie die enigste god wat mense gedien en aanbid het nie.
Ek wil daarvan nou 'n voorbeeld gee wat in die Bybel self 'n groot rol speel en in Israel se geskiedenis steeds weer herhaal is. Dié voorbeeld is die kanaänitiese godsdiens. Hierdie religie was nie net die godsdiens van die inwoners van die land Kanaän voordat Israel dit in besit geneem het nie. Die lande rondom Israel, behalwe Egypte en noordelik daarvan, is deur hierdie godsdiens of 'n variasie daarvan beheers.
Die hoofgod van hierdie religie was El. Hy was die vader van die gode en die skepper van alle dinge. Hy was die vriendelike en heilige koning. Hy word as 'n stier voorgestel. Hy het talle vroue gehad en sewentig kinders. Elkeen van hulle was ook gode.
Na 'n sekere tyd het Baäl en sy vrou Astarte die belangrikste gode geword. Baäl was die god van storm, donderweer, wind en reën en daardeur ook van die vrugbaarheid van die land. Astarte was die godin van die seksualiteit en menslike vrugbaarheid.
Die god van die dood, Mot, verslaan jaarliks Baäl wat dan sterf. As dus geen reëns meer uitsak nie, weet mens dat Baäl dood is. Maar hy staan weer op uit die dood as sy suster, die godin Anat, Mot verslaan. Sou Anat in 'n sekere jaar nie daarin slaag om Mot te verslaan nie, dan bly Baäl dood en dan reën dit vir 'n tydlank nie. Jare van droogte bewys dat die god van die dood, Mot, nie verslaan is nie. Daarenteen bewys die koms van die eerste reëns dat Baäl weer opgestaan het.
Dit was in daardie kultuur so dat die onderskeie terreine van die lewe verskillende gode gehad het. As jy op 'n bepaalde terrein van die lewe suksesvol wou wees, moes jy geweet het tot watter god gebid en vir wie geoffer moes word. In tye van droogte het diegene wat reën soek tot Baäl gebid.
Die HERE sê in sy Woord dat Hy die enigste God is en daarom dat Hy alleen as God vereer en aanbid mag word. Dit, juis dít, het in die geskiedenis van God se volk groot stryd versoorsaak. Om dit te illustreer, kyk ons na een voorbeeld daarvan.
Nie Baäl én die HERE nie.
Baäl se woning was volgens die Kanaäniete veral die berg Sarfon. Hierdie berg is geleë 'n goeie 500 kilometer noord van Meggiddo. As die reënbuie uit die rigting van die Middellandse See kom, raak die berg Sarfon gou in swart wolke gehul. Dis waarom mense van dié tyd gedink het dat die reën en donderweer van Baäl kom. Vanuit die idee dat hy op die berg Sarfon woon, het die geloof ontstaan dat Baäl dus ook die god van die berge is. Dit is sy terrein, dis waar hy oppermagtig is. Die god van die donderweer heers op die berge. Dáár kan niemand hom verslaan nie.
Let op die geskiedenis van Elia op die berg Karmel in 1 Konings 18. Wat het daar gebeur? Agab regeer toe oor Israel. Hy en nagenoeg die hele volk het Baäl amptelik vereer. Hulle het sowel die HERE as Baäl vereer en vir albei geoffer. Daarom straf die HERE sy volk deur van hulle te ontneem juis dit waarvoor Baäl moes sorg, naamlik die reën. Drie en 'n half jaar lank het volgens die Woord van die Here (1 Kon 17 : 1) daar geen druppel reën uit die hemel meer uitgesak nie.
Toe die profeet Elia na Israel teruggekeer het en Koning Agab ontmoet, proklameer hy dat nou moet blyk wie regtig God is, die HERE of Baäl. Dit kan nie die HERE én Baäl of van die ander gode wees nie. Verder sê die HERE dan ook deur Elia waar en hoe dit bewys moet word. En dan is dit opmerklik dat die HERE beveel dat dit op die top van die berg Karmel moet plaasvind. Juis dáár waar die Baälvereerders veronderstel dat dit hulle god se onoorwinlike terrein is. Hulle het waarskynlik vol moed daarheen opgetrek. Hier op die top van die berg is hulle god immers die sterkste!?
Elia neem daar en dan die leiding. Hy sê wat moet gebeur. Maar dit wat hy van hulle verlang, verskaf aan die aanhangers van Baäl moed. In hul binneste het hulle gejuig. Want die teken wat van die hemel af moes kom, was juis dit waaroor hul god Baäl beskik. Dit was 'n flits wat van bo-af die altaar aan die brand moes steek. Baäl was immers die god van die donderweer!? Dit is mos hy wat sy flitse van die hemel af na die aarde stuur? Dit is mos hy wat die hout op die altaar aan die brand kon steek? Die HERE het sodoende juis dié tekens gekies wat volgens die aanwesiges tot die mag van Baäl behoort het. Juis deur op die top van 'n berg en deur vuur van die hemel as 'n beslissende teken te hanteer, ontmasker Israel's God, Baäl as 'n afgod, as 'n niks. Die HERE is God en geen ander nie!
In die vervolg van 1 Konings 18 wys die profeet Elia daarop dat slegs Hy die reën verskaf en niemand anders nie. Die HERE is die enigste en almagtige God. Hy alleen mag goddelike eer ontvang en deur sy volk en sy kinders aanbid word.
In 'n volgende aflewering sal die godsdiens van die Jode en Moslems bespreek word.