Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
KULTUUR, VOLKSKULTUUR EN KONINKRYK
- DR CHRIS L JORDAAN -
| DIE GRONDSLAG VAN 'N KULTUURBESKOUING
Kultuur word in die algemeen gesien as die somtotaal van die mens se handelinge. In die sin is alles wat die mens doen kultuur. Die uitspraak ''God skep die natuur, die mens kultuur'' is van hierdie beskouing afgelei. Kultuurbeskouings is egter nie in 'n neutrale dimensie van die mens se lewe gewortel nie, maar het 'n geestelike kant en 'n toekomsgerigtheid. Kultuur sluit in die kultuurdominant, kultuurverwagting, kultuuraktiwiteite en kultuurprodukte. |
Ons woord kultuur kom van die taal van die Romeine (Latynse werkwoord) colere, wat in die algemeen versorging beteken. In besonder het dit die betekenis van die bewerking van die grond (agricultura), versiering, bewoning, verering van die gode en kultusbedrywighede gehad. Dit het die hele lewe van die mens in sy alledaagse bestaan en die gewyde of heilige handelinge ingesluit. Dié begrip het die breë terrein van die mens se werksaamhede vanaf verbouing van die grond tot die aanbidding van die gode ingesluit, die hele aksie-radius van die Romein se lewe.
Van die woord colere is twee woorde afgelei, naamlik cultura, waarvan ons woord kultuur kom en cultus, besondere diens aan die gode. Die Romein het vir elkeen van sy lewensterreine 'n af-)god gehad en alles wat hy op dié terrein gedoen het, is as diens aan die god van daardie terrein gewy. Cultura en cultus was interafhanklik van mekaar en alle kultuurhandelinge was tegelykertyd ook kultushandelinge of "godsdiens". Die kultuurdominant (Latyn dominor - om te heers) vir die kultuur van die bepaalde terrein was sy geloof in die (af-)god van dié lewensterrein.
Met die vestiging van die Christelike geloof sou die veelgodedom van Rome omvorm word tot 'n enkelgod naamlik die God van die bybelse openbaring. So het kultus die betekenis van "heidense godsdiens" gekry en het kultuur as 'n "Christelike wyse van lewens-in-diens-stelling tot Christus" bekend geword.
Die kultuurdominant van 'n kultuurbeskouing is dus in der waarheid die godsbegrip van die mens as kultuurdraer. Dit is 'n wyse van lewens-in-diens-stelling tot God.
Die kultuurdominant
"n Kultuurbeskouing soos dit deur die kultuurdominant gerig word, het dan ook 'n kulturele eindbestemming of toekomsverwagting. Die kulturele eindbestemming was deur die eise of verpligtinge van die kultus bepaal of gerig. Vóór die invloed van die Christendom was die Romeinse kultuur deur die keiserkultus as kultuurdominant gerig. Die keisers is as gode verklaar en as sodanig vereer. In hulle was die voortgang, veiligheid en voortbestaan van die Romeinse keiserryk, die kulturele eindbestemming van elke Romein se lewe gesetel. Alles wat gedoen is, was op die op die welsyn van die keiser en die ryk gerig. Met die erkenning van die Christendom is hierdie kultuurdominant van die Romeine verander. Deur die verkondiging van die Christelike geloof en die werking van die Heilige Gees is die kulturele eindbestemming mettertyd tot die diens van die kerk en koninkryk van God verander. Ook hierdie kultuurbeskouing het in sigself 'n kulturele eindbestemming of toekomsverwagting wat deur die kultuurdominant en die gehoorsame handeling of uitvoeing van die kultuuropdrag gerig word.
Die Bybels-Christelike kultuuropdrag
Die godsbegrip bepaal die kultuur of godsdiens van elke volk. Die kultuur watter godsbegrip aan die Drieënige God, die Vader, die Seun as verlossingsmiddelaar en die Heilige Gees, verbonde is, word deur die openbaring, die Woord van God, bevrug. Dit is 'n dinamiese, lewende en misterieuse geloofsverbondenheid tussen God en die mens as kultuurdraer.
God se kultuuropdrag aan die mens was om, na die voltooiing van sy skeppingswerk, om die aarde te bewerk, te bewaak en daaroor te heers (vgl Gen 2 :15; 1 :28). Ná die koms van Christus word hierdie opdrag uitgebrei met die woorde: ""... en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het"" (Matt 28 :19b). Dié goddelike kultuuropdrag aan die mens raak alle nasies , nie net die Christenn volkere nie. Die kultuuropdrag is aanvanklik aan die mens in sy ongeskonde toestand (vóór die sondeval) gegee. Dit is as 'n omvattende opdrag in Adam en Eva aaan alle mense gegee. Met die sondeval is die vervulling van hierdie opdrag deur die mens se ongehoorsaamheid en optrede verwring, maar dit het nie dié opdrag opgehef nie.
Met die koms van Christus en sy messiaanse daad van verlossing van die sondeskuld en die herstel van die geloofsverhouding tussen God en die mens, is die oorspronklike kultuuropdrag herstel en uitgebrei. Dit is nou die verloste mens in Jesus Christus wat in die uitlewing van die kultuuropdrag die skepping moet bewerk, bewaak, daaroor heers en daarbenewens dié opdrag aan ander oordra om dit te doen. Met die uitbreiding van die kultuuropdrag ontstaan daar 'n onderskeid tussen die kultuurbeskouing van die Christen en die ongelowige. Dit word nou gemeet aan die "Verbonds-" eenheid met God en sy diens.
Die kultuurbeskouing van die Christen word "gedomineer" deur die verlossingswerk van Jesus Christus en gevolglik is sy kultuur 'n gehoorsame wyse van lewens-in-diens-stelling tot God en in der waarheid (volgens die Skrifopenbaring) 'n verloste kultuur.
Daarenteen word die ongelowige se kultuurbekouing "gedomineer" deur sy (af-)godsbegrip of verbondenheid aan 'n idool of afgod (vgl Rom 1 :21 - 23). Dié idoolbegrip rig die kultuur en kultus van die ongelowige in die uitvoering van die Godgegewe kultuuropdrag. Die kultuuropdrag het vir die ongelowige nog nie verander nie, maar die wyse waarop dit uitgevoer word is anders. Omdat die God van die Bybel nie erken en verheerlik word nie, is dié verbondenheid die van ongehoorsaamheid. In daardie opsig is dié kultuur 'n ongehoorsame wyse van lewens-in-diens-stelling tot God en in der waarheid (in die lig van God se Woord) 'n self-verlossingskultuur. Die verloste mens se kultuur, die ontstaan, bestaan en voortbestaan daarvan, is deur die verlossing in Jesus Christus, uit genade alleen gefundeer. Daarenteen wortel die selfverlossingskultuur se ontstaan, bestaan en voortbestaan in die werke van die mens self, ""'n god in die diepste van sy gedagtes"". Hoewel hierdie twee kultuurbeskouings naasmekaar
in die lewe van 'n volk en in nasies bestaan en in beginsel aan dieselfde goddelike kultuuropdrag onderworpe is, verskil dit in wese, produkte en in die eindbestemming daarvan.
Kultuuroordrag en tradisie
Kultuuroordrag is wesenlik deel van die kultuuropdrag om "hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het" (Matt 28 : 19b). Die oordra van die kultuur (die kultuurdominant, kultuurbeskouing, die kulturele eindbestemming ensovoorts) is 'n kultuurmandaat wat van geslag tot geslag deurgegee moet word.
Dit is tradisie. Die woord tradisie kom van die Latynse traditio, wat as "oorgee deur woorde" vertaal word en in 'n sekere sin gebruik word as "oor te gee om te versorg ". Die oordra van kultuur in die uitvoering van die kultuurmandaat betref dus om dit oor te gee om versorg te word.
Daarmee word nie gesê dat alle tradisie ook goeie kultuur is nie. Daar is verloopte kultuur waarvan slegs die data of kennis oorbly of wat so deur sonde of die okkulte of ook deur kultuurvermenging besoedel is, dat dit liefs nie deur die volgende geslag beoefen behoort te word nie. Die goeie tradisie is die goue draad van voortgang en ontwikkeling van die kultuur in 'n volk, 'n familie en individu soos dit in die historie wortel en gevestig is.
Met verwysing na verskillende kultuurbekouings wat tans onder die Afrikanervolk gevind word, is dit nodig om voordat ons dit in latere aflewerings bespreek, 'n duidelike vertrekpunt daar te stel.
In die beskrywing van die Afrikaner-Christen se kultuurbeskouing sou ek die bekende begrippe soos Calvinisties of Christelik-nasionaal en selfs net Christelik wou gebruik. Maar vanweë die diepliggende beginsel- en houdingsverskille wat reeds deur kultuurvermenging in ons volkskultuur aanwesig is, ag ek dit beter om die "ou" begrippe te vermy. Verskeie redes kan daarvoor aangevoer word. Die belangrikste is egter dat politieke leiers wat nie die prinsipiële onderbou geken het nie, of wat dit ontken het, dié algemeen aanvaarde begrippe met politieke teorieë besmet het. Dit het suiwer standpunte so besoedel dat Afrikaners binne dieselfde kerk- en geloofsverband mekaar skerp aangevat het en hewig verskil oor onderliggende beginsels en kultuurbeskouings waaroor hulle eintlik moes saamgestem het.
Om hierdie mynveld te vermy gebruik ek eerder die begrip Gereformeerd-protestants, in verwysing na die reformatoriese wortels, of in 'n eenvoudiger beskrywing Bybels-christelik wat dieselfde beteken. Die begrip Christelik is in die bedeling van die "nuwe Suid-Afrikaanse" kultuur (as daar so iets bestaan) so gerelativeer en veralgemeen dat dit sy eintlike geloofswaarde verloor het. Alles wat met die naam christelik versier word behoort nie noodwendig tot Christus nie. In volgende aflewerings sal daar meer spesifiek na gekyk word.
Kultuur as godsdiens of kultus
Samevattend kan kultuur ten minste omskryf word as 'n versorgende wyse van lewens-in-diens-stelling deur volkere, families en individue, ooreenkomstig die eise en toekomsverwagtinge van onderskeie en onderling verskillende tradisies. Vanuit die Bybels-christelike (die gereformeerd-protestantse?) geloofsoortuiging se uitgangspunt kan kultuur omskryf word as 'n gehoorsame (of ongehoorsame) werkende, bewarende en beheersende wyse van lewens-in-diens-stelling tot God deur volkere, families en individue, afgestem op die eise en toekomsverwagting van 'n bepaalde tradisie.
Onderskeie kultuurtradisies kan onder volkere teenwoordig wees. Om dit wesentlik te kan verstaan, sal elke tradisie of kultuur aan sy kultuurbekouing gemeet moet word. Want elke kultuurbeskouing huldig 'n kulturele (prinsipiële) eindbestemming ten opsigte daarvan.