Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
WOORD EN WETENSKAP - PROF TE CLOETE -
KON LEWE SPONTAAN UIT DIE SEE ONTSTAAN? Prof TE Cloete is 'n natuurwetenskaplike navorser in die Departement Mikrobiologie en Plantpatologie aan die Universiteit van Pretoria. Hy staan vas by die geloofsoortuiging dat die waarheid van die Bybel onaantasbaar is. Dit hang maar af hoe jy die wetenskap beoefen, die vooroordeel wat die grondslag van die denke is. Prof Cloete sal enkele artikels lewer oor die resultate en bevindings op sy vakterrein. |
Vir lewe om spontaan uit die see (vgl Gen 1:2) te kon ontstaan, is die voorvereiste, dat daar in die eerste plek 'n see moet wees. Vandag weet ons dat alle lewe afhanklik is van water. Al te dikwels aanvaar ons dat daar nog altyd water op ons aarde was. Die argument word ook aangevoer dat lewe spontaan op die aarde kon ontstaan, omdat ons aarde net die regte afstand van die son af was en sodoende 'n geskikte temperatuur vir lewe gehad het om spontaan te kon ontstaan.
In die eerste plek word die aarde se temperatuur nie bepaal deur die afstand van die son nie, maar deur koolsuurgaskonsentrasie in die atmosfeer. Vandag is ons almal maar al te bewus van die "groenhuis effek" en die kommer dat ons aarde se temperatuur, as gevolg van die verbranding van fossiele brandstof soos olie en steenkool, besig is om te styg.
Die konsentrasie van koolsuurgas in die aarde se atmosfeer is 0.03% teenoor die 21% suurstof en ongeveer 79% stikstof. Laasgenoemde drie gasse maak dan ook die grootste persentasie van ons aarde se atmosfeer op. Die vraag is, wat bepaal of beheer die samestelling van ons atmosfeer wat noodsaaklik is vir lewe om te kan voortbestaan.
Die antwoord is eenvoudig - lewe. Die 21% suurstof is die netto resultaat van die fotosintese proses van plante, die koolsuurgas is die netto resultaat van respirasie (asemhaling, red) en die stikstof konsentrasie die netto resultaat van denitrifikasie wat deur mikro-organismes teweeggebring word.
Tydens die proses van fotosintese word koolsuurgas gebruik as koolstofbron (voedsel) vir plante, terwyl plante sonlig as hulle primêre energiebron gebruik. Organismes wat respireer gebruik gewoonlik hul voedsel vir beide energie en as boustene en vir die organisme self. Omdat plante hulle energie "verniet" kry, is fotosintese 'n baie meer effektiewe proses as respirasie en daarom dan ook die 21% suurstof teenoor die 0.03% koolsuurgas in die atmosfeer.
Omdat lewe die atmosfeer van die aarde produseer, beheer lewe dan ook die temperatuur op die aarde. Sonder lewe sou die atmosferiese samestelling van gasse heel anders daaruit gesien het en sou die fisiese toestande wat nodig is vir lewe, nie bestaan het nie. Byvoorbeeld, deur slegs die plante weg te laat (onthou dat plante die grootste verbruikers is van koolsuurgas) sal die koolsuurgaskonsentrasie heelwat hoër gewees het. Om die waarheid te sê, sonder plante sou dit so hoog gewees het dat die aarde se temperatuur meer as 700 oC sou wees. By sodanige temperatuur is daar nie water in 'n vloeibare vorm nie.
Sonder lewe sou sou daar dus geen see gewees het nie, en sonder water geen lewe. Laasgenoemde is die hoofoorsaak waarom daar nie lewe op die ander planete in ons sonnestelsel is nie. As gevolg van die ongeskikte atmosfeer is daar geen water nie. Die atmosfeer is weer ongeskik omdat daar nie lewe is nie. Ons staan dus eintlik voor 'n hoender- en 'n eiersituasie; wat was eerste, die atmosfeer waarin lewe kon bestaan, òf lewe wat die atmosfeer vir lewe om te kan bestaan, gevorm het. Wat ons verseker weet, is dat daar sonder lewe geen water en dus geen see kon gewees het nie.
Ons sou soos baie ander wetenskaplikes kon redeneer dat alles moontlik is, veral waar ons staan teenoor die beweerde biljoene jare se tyd en oneindige moontlike waarskynlikhede. Indien waarskynlikheid en tyd dan ál is wat nodig is vir lewe om spontaan te kon ontstaan, dan wonder ek hoekom daar net lewe op die aarde is en waarom ons sonnestelsel dan nie wemel van lewe nie.
Ek glo en is oortuig dat God in sy wysheid, die elemente "vasgehou" het en lewe op die aarde geskep het; dat lewe dus nie toevallig spontaan hier ontstaan het nie.