Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
AFWYSENDE ADVIES OOR KINDERKOMMUNIE
AAN KOMMISSIE VAN DIE ALGEMENE KERKVERGADERING NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK
VAN AFRIKA
Prof Pont het op navraag vermeld dat dit nie 'n gesamentlike advies is nie. Hy kon hom nie uitlaat oor prof Koekemoer se standpunt nie. Sy eie aanbeveling is op skriftuurlik-kerkordelike gronde afwysend. Volgens hom is dit opvallend dat die kinderkommunie in die Hervormde Kerk skielik 'n dringendheid gekry het. Waarskynlik hang dit saam met die feit dat die NG Kerk in 1998 dit aanvaar het. "Nou wil dit voorkom asof daar in ons kerk ook mense is wat die kindernagmaal wil invoer enkel en alleen omdat die NG Kerk dit aanvaar het. Die geskiedenis het ook geleer dat die NG Kerk nie altyd so 'n voortreflike leidsman is nie. Maar vandat die geskiedenis nie meer geken word, is daar al heel wat dwaashede begaan" sê prof Pont.
"As die saak van die kindernagmaal bekyk word, is dit duidelik dat die Skrifbeskouing nogal belangrik is. Op die oomblik word dit bepaal deur die kerk se ordinansie 1.1.2. Dit beteken dat 1 Kor 11 as 'n skriftuurlike argument beskou moet word wat gehoorsaamheid vra. As dit so is, dan word die basis vir die kindernagmaal, skriftuurlik gesproke, nogal smal
"Baie kortliks kan daarop gewys word dat daar belangrike verskille tussen die doop en die nagmaal bestaan. Daar kan op gewys word dat (1) die doop eenmalig is omdat dit onder andere teken-van-die-verbond is. Daarenteen is die nagmaal herhalend wat telkemale die troos van die vergifnis van die sonde simboliseer en bevestig deur op die kruisdood van ons Here, Jesus Christus te wys. (2) die doop sy eie toedienings- en ontvangsvereistes het, naamlik gelowige ouer(s) of groot-ouer(s). Die nagmaal vra van die gelowige self geloof, onderskeidingsvermoë, voorbereiding, selftug. As juis hier weer gelet word op die eerste nagmaal dan kom daar mense bymekaar wat Jesus die Christus ken en wat in 'n besondere verhouding tot Hom staan. Die saamhorigheid van hierdie groep berus in die besonder op hulle persoonlike verhouding met Christus en nie op ander verbintenisse nie. Daarom het Judas dan ook die groep verlaat omdat hy sy verbintenis met Christus verbreek het. Uit hierdie twee voorbeelde word dit duidelik dat doop en nagmaal nie dieselfde is nie en ook nie as sodanig beskou kan word nie.
"Die nagmaal bly 'n besondere gebeure in die lewe van die gemeente omdat dit nog steeds verbum visibele is wat aan ons die Evangelie oordra dat Jesus Christus terwille van ons Hom opgeoffer het, 'n teken en seël wat God gegee het sodat ons die Evangelie nog beter sal verstaan. Maar dan moet ons dit gebruik vir die doel waarvoor God dit aan sy verbondsvolk geskenk het. Dit lê nie in ons hande om straffeloos die sin en betekenis van die sakrament te verander en die toeganklikheid daarvan steeds makliker te maak nie", aldus prof Pont.
Ook behels dit, volgens hom, 'n versoek vir advies dat 'n verantwoorde standpunt oor die sogenaamde "oop uitnodiging na die nagmaal" soos tans gebruiklik, bespreek sal word. ®