Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
DIE TWEEDE VRYHEIDSOORLOG Prof Bouke Spoelstra in: Godsdiens-aktueel (Beeld, 29 November 1999)
"Die Afrikaners van die vorige eeu verskil met ons in die eerste plek daarin dat hulle baie nader as ons aan die Ou Testament geleef het. Hulle het hul daaglikse lewe en ervaring van siekte, droogte, vyande, oorloë ensovoorts as 't ware in die Ou Testament afgelees soos wat God Israel in hul verhouding as volk met Hom gelei, geseën, gestraf en beproef het."
In 1952 het 'n boekie verskyn met uittreksels uit toesprake van pres Paul Kruger. Hy het in baie opsigte verwoord wat in die harte van die republikeinse Afrikaners in die twee klein republiekies van Transvaal en OVS geleef het namate hulle in 1899 deur die Britse hoë kommissaris Alfred Milner beleër is.
Milner het dit onomwonde gestel dat hy vir altyd 'n einde wil maak aan Afrikaners as 'n bepaalde element langs die Engelse in Suid-Afrika. Toe duisende troepe op die grense van die republieke saamgetrek het, was die oorlog in 1899 'n voldonge feit. Een van baie vrae wat mens kan vra is watter rol godsdiens by die Afrikaners gespeel het wat met oop oë 'n oorlog aangedurf het wat hulle nie kon wen nie.
Nadat ek toesprake van Kruger, 'n oorlogsdagboek van ds JD Kestell, herinnerings van genl Christiaan de Wet, Kommandolewe van Pretorius en ander werke gelees het, is ek oortuig dat godsdiens 'n bepalende motief was om die ongelyke stryd aan te bind. Ek is tegelyk ook oortuig dat die godsdiens van hierdie Afrikaners 'n eeu gelede ingrypend verskil het van die godsdiens van die deursnee-kerklike Afrikaner vandag.
Ek glo dat as ons vandag voor so 'n krisis te staan sou gekom het, sou ons ons eerstens op die uitkoms van die oorlog toegespits en die nadruk op geloof gelê het. Ons sou waarskynlik min of meer so geredeneer het: ons moet ons geloof en vertroue onverbiddellik op God plaas, dan sal Hy ons soos met die Eerste Vryheidsoorlog in 1881 laat oorwin. Dit is moontlik dat talle van die Bittereinders so gedink het en baie Hensoppers vroeg besluit het dat die oorlog met of sonder God verlore is.
Tog het ek 'n ander indruk by Kruger, Kestell, De Wet en andere oor die rol van hul godsdiens in die oorlog van 1899 gekry. Dit was nie in die eerste plek 'n godsdiens wat op geloof in oorwinning staatgemaak het nie. Dit was baie meer 'n godsdiens van gehoorsaamheid aan die wil van God.
Die Afrikaners van die vorige eeu verskil met ons in die eerste plek daarin dat hulle baie nader as ons aan die Ou Testament geleef het. Hulle het hul daaglikse lewe en ervaring van siekte, droogte, vyande, oorloë ensovoorts as 't ware in die Ou Testament afgelees soos wat God Israel in hul verhouding as volk met Hom gelei, geseën, gestraf en beproef het.
Hierdie instelling het meegebring dat hulle God baie meer uit die skepping, natuur en veral in die geskiedenis en lotge-valle van individu, gesin en die volk in groepsverband as uit die Bybel leer ken het.
Hulle het die Bybel eintlik net as 'n bril gebruik om hulle eie lotgevalle en ervaring te verstaan. Vir hulle het vasgestaan dat God reg liefhet en onreg straf.
Die skeiding wat die filosoof Plato en Westerse denke uit die Renaissance tussen siel en stof gemaak het, het hulle nie geken nie. Die moderne verbruikersgodsdiens wat nadruk lê op die verlossing wat Jesus vir jou bewerk het en wat jou ewige saligheid waarborg, kom min by die ou mense voor, behalwe miskien op 'n sterfbed. Hulle het baie meer geleef by die God wat regeer, voorspoed en teëspoed beskik en elke mens verantwoordelik hou vir wat hy doen.
Wanneer 'n mens dan terugkyk op die oorlog van 1899 sal niemand kan ontken dat by presidente Kruger en Steyn die verdediging van hul onafhanklikheid (wat ook vryheid genoem is) teen Brittanje dwarsdeur op die voorgrond gestaan het.
Die latere genl JC Smuts haal in 'n Eeu van Onreg (1899) Joachim Prinsloo aan wat in 1842 al in die Natalse volksraad oor die Britse aggressie gesê het: "Ons weet dat daar 'n God in die hemel is en wat die mag het en gewillig is om swakkes teen hulle onderdrukkers te beskerm ... Indien dit sy wil is dat ons, ons vrouens en kinders totaal vernietig moet word, sal ons ons nederig aan sy wil onderwerp ... ons kan nie toelaat dat mag oor reg sal seëvier sonder dat ons dit met al die kragte wat ons besit bestry het nie."
Paul Kruger het van 1881 tot 1900 gedurig die volk gekonfronteer met die Groot Trek, die Eerste Vryheidsoorlog en hul poging om regverdig teenoor swart mense op te tree en van hulle niks weg te vat nie. Hy sê keer op keer dat elke Christen, heiden en ongelowige moet erken dat die Boere nie met hulle krag hul onafhanklikheid verwerf het nie. Daarvoor het elke man skaars tien patrone in die Eerste Vryheidsoorlog gehad.
Enigeen wat na hul geskiedenis kyk, moet erken dat God aan hulle die onafhanklikheid geskenk het en dat hulle dit wat God gegee het tot die uiterste moet verdedig. Ook genl de Wet sê dat iemand geen man is as hy nie sy kosbaarste besit, sy onafhanklikheid wat God gegee het, tot die uiterste teen 'n mag sterker as hyself sal verdedig nie.
Die oorlog het die doodsklok gelui oor die potensiaal van die jong Christen-Afrikanervolk (luister na die ou volksliedere van die republieke) om as skepping van God hul eie geskiedenis, identiteit, taal en godsdiens staatkundig onafhanklik en vry te verwesenlik. Die aksent wat die negentiende eeuse republieke op die volk geplaas het, is deur die oorlog na die staat en bevolking van Suid-Afrika verplaas.