Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Stryd op twee fronte

AKTUEEL:
Geloofsverklaring 2000

SKRIFOORDENKING:
"Sê aan die kinders van Israel..."
Exodus 14:15

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare

Die Eerste Gebod

Is sommige Teoloë dan nou Babelbouers?

God se plek vir die vrou in die gemeente

Afwysende advies oor kinderkommunie (NHK)

Kommunisme en die Skrif?

Gesange teenoor die beginsels van Dordt

Televisie: "Sleg vir ons geestelike gesondheid"

Verskil van teks en uitleg in die 1983 teenoor die 1953 Bybelvertaling

Die Tweede Vryheidsoorlog

Kultuur, volkskultuur en Koninkryk

Woord en Wetenskap

KERKLIKE JOERNAAL: 
Kuratore se gesprek met redaksie van Die Kerkpad
Geloofsverklaring 2000
Sake rakende Radio Pretoria netwerk
Lofsange en geestelike liedere
"Kerkeenheid"

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Eerste studente aan ACVHO verwerf kwalifikasies
Akademiese vryheid:  'n Misbruikte slagkreet in ons tyd

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (3)

PERSRUBRIEK: 
Feministiese teologie?

Jacob Zuma se godsonterende Kersboodskap

KOMMENTAAR: 
(1) Homoseksualisme aanvaarbaar vir die PU vir CHO?
(2)Prof Koos Vorster in die gedrang oor "menseregte"

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die redes vir kloning

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 1  Januarie 2000

BOEKBESPREKING

POPULêRE AFRIKAANSE BYBELS EN KOMMENTARE: DRAERS VAN 'N VREEMDE SKRIFBESKOUING

DS T DANZFUSS  -  NG KERK WITFIELD

(Eerste Aflewering)

Die afgelope paar jaar het daar minstens ses nuwe Afrikaanse boeke verskyn wat almal poog om die Bybel so te populariseer dat dit vir die moderne leser meer aanvaarbaar kan wees. Die volgende publikasies is tans beskikbaar:

  1. Die Bybel in Praktyk (1993)
  2. Die Boodskap (Die Nuwe Testament in hedendaagse Afrikaans (1997)
  3. Die Nuwe Testament vir Kinders ... in 'n taal wat hulle verstaan (1999)
  4. Die Bybellennium - Eenvolumekommentaar (1999)
  5. 'n Nuwe uitgawe van Die Boodskap met Psalms en Spreuke  (1999)
  6. My eerste Boodskap (1999)

Al ses hierdie publikasies is deur 'n ongekende reklameveldtog die mark ingestuur en is met entoesiasme deur van die Afrikaanssprekende lesers ontvang. Binne enkele maande was daar reeds meer as 60 000 eksemplare van Die Boodskap alleen verkoop! Teen ongeveer R70 - R90 per eksemplaar is dit 'n enorme hoeveelheid geld wat hierby ter sprake is.

Voordat 'n paar kritiese opmerkings oor hierdie populariserings van die Bybel gemaak word, moet ons erken dat oor elkeen van hierdie uitgawes daar mooi dinge gesê kan word.

Die Bybel in Praktyk bevat nuttige illistrasies, kaarte, kruisverwysings en konkordansies wat vir enige Bybelstudent van groot waarde kan wees. Die populêre "vertalings" soos Die Boodskap en Die Nuwe Testament vir Kinders is by tye werklik verhelderend. Dit slaag ook in sekere opsig baie goed daarin om 'n teks in die algemene spreektaal te formuleer. Die Bybellennium is wat sy formele uitleg aanbetref, besonder gebruikersvriendelik en die setwerk is ook uitmuntend goed versorg.

Ongelukkig is dit juis die populariteit en aantreklikheid van hierdie boeke wat hulle ook baie gevaarlike leesstof kan maak, wanneer predikante en lidmate geleer word om dit kritiekloos te gebruik. In die meeste resensies word so sterk gefokus op die formele aantreklikheid van hierdie publikasies en die begaafde teoloë wat daaraan gewerk het, dat daar nie gevra word watter vertalingsbeginsels gebruik was nie, en ook nie watter Skrifbeskouïngs daardeur gepropageer word nie. Voordat ons kan gaande raak oor die ontvanklikheid van hierdie boeke vir die gewone leser, moet ons eers twee veel belangriker vrae vra: Hoe akkuraat en betroubaar is hierdie vertalings van die Bybel regtig? Hoe suiwer is die teologiese uitgangspunte van hierdie Bybelverklarings?

Wanneer mens telkens dieselfde simptome in al hierdie populêre uitgawes vind, dan is daar goeie rede om te vermoed dat daar ook ‘n gemeenskaplike siekte kan wees. Die gemeenskaplike siekte waaraan al die publikasies in ‘n mindere of meerdere mate ly, is blykbaar die invloed van verskillende variasies van Skrifkritiek.

In hierdie artikel wil ons slegs wys op enkele voorbeelde van naakte Skrifkritiek in Die Bybel in Praktyk. In die volgende aflewering sal dan kortliks gekyk word na ‘n paar voorbeelde uit hierdie nuwe populêre vertalings van die Bybel, en die gevaarlike Skrifbeskouing wat bewustelik of onbewustelik daardeur gepropageer word. Robert Sheehan is reg as hy sê: "Our doctrine of Scripture ought to determine our translation procedures." 1 Elke Bybelvertaling reflekteer ‘n bepaalde Skrifbeskouing. Die vraag waarin ons belangstel is nie watter Skrifbeskouing die vertalers huldig nie, maar watter Skrifbeskouing word bewustelik of onbewustelik gepropageer deur die wyse waarop hulle hierdie vertalings gedoen het. "Bible-believing people, however, do not automatically make good translators. The principles that guide them in translation are very important. Good men may work with bad principles." 2 Wanneer goeie teoloë hulself die vryheid veroorloof om nie net te vertaal nie, maar om hul eie interpretasies in die vertalings in te skrywe, dan werk hulle met "bad principles". Dan propageer die vertaling ook ‘n gevaarlike Skrifbeskouïng.

In nog ‘n verdere aflewering beplan ons dan om die bespreking te wy aan die invloed van Skrifkritiek op die nuwe populêre verklaring wat so pas verskyn het: Die Bybellennium. Die publikasie verskyn onder redaksie van Wil Vosloo en Fika van Rensburg in samewerking met nog 27 ander Afrikaanse teoloë. Teologies bevat dit soms nuttige inligting en opsom-mings asook kernagtige inleidings tot die verskillende Bybelboeke. Sommige van die teoloë wat daaraan gewerk het se uitleg is nog suiwer en betroubaar, maar dit geld beslis nie van al die medewerkers nie. Hoe teoloë wat nog as redelik behoudend bekend staan, dit regkry om ‘n eenvolumekommentaar saam met teoloë te skrywe wat openlike voorstanders van Skrifkritiek is, en wat in verskeie uitsprake openlik die uniekheid van die Bybel as Woord van God bevraagteken, is moeilik om te verstaan. Dit dwing ons om te vra: Hoe ver strek die invloed van verskillende variasies van Skrifkritiek soos byvoorbeeld, die histories-kritiese metode, die vormkritiek, die "religionsgeschichte", die sogenaamde bronnesplitsingsteorië ensovoorts, alreeds in Die Bybellennium? Hieroor sal ons meer sê in ‘n opvolgartikel.

"DIE BYBEL IN PRAKTYK"

Om hierdie inleidende artikel mee af te sluit noem ons slegs ‘n kort voorbeeld of twee om die invloed van die Skrifkritiek op Die Bybel in Praktyk te illustreer. Dit kan gesien word in die wyse waarop verskeie dele verklaar word.

‘n Tipiese kenmerk van Skrifkritiek, is dat die inwendige getuienis van die Bybel self nie ernstig opgeneem word nie maar dat allerlei buite-Bybelse verhale en teorië dikwels die ware verklaring moet gee vir gebruike wat die Bybel self anders verklaar.

As voorbeeld kan ons kyk na die ontstaan van die Joodse paasfees. Ten spyte van die Bybel se eie inwendige getuienis oor die ontstaan van die paasfees, verklaar Die Bybel in Praktyk die ontstaan van paasfees vanuit ‘n ou heidense gebruik om die bloed van ‘n lam teen die tentpale te smeer om die bose geeste van die lammeroes af weg te hou. "Net soos die besnydenis was die paasfees ‘n bekende gebruik van daardie tyd. Die veeboere het elke jaar in die lente met hulle vee na beter weivelde getrek. Dan het hulle ‘n lam geslag en sy bloed aan die tentpale gesmeer. Die doel daarvan was om die bose geeste van die lammeroes af weg te hou. Daarna het hulle vertrek. Met die uittog word aan hierdie heidense fees ‘n nuwe betekenis gegee…" ( bl 111). Hierdie tipe verklarings is kenmerkend van die Skrifkritici wat werk met die "Religionsgeschichtliche" metode. Die feit dat die Bybel se eie verklaring hoegenaamd nie in daardie rigting dui nie, is vir hulle nie belangrik nie. Die resulate van die mens se feilbare wetenskaplike navorsing is belangriker as die onfeilbare getuienis van die Woord van God.

Nog ‘n voorbeeld waar Die Bybel in Praktyk nie erns maak met die Bybel se eie getuienis nie, maar probeer om dit met behulp van die metodes van die Skrifkritiek weg te verklaar, vind ons by die tekste oor die Sondvloed in Gen 6 en 7. Volgens Die Bybel in Praktyk moet die "verhaal" van die sondvloed nie letterlik verstaan word nie. Aangesien dit ‘n "verhaal" is, werk dit nie noodwendig met histories-betroubare feite nie. Ons haal aan: "Twee kwelvrae rondom die vloedverhaal pla baie mense: Hoe het Noag al die diere bymekaar gebring? En was die hele aardbol werklik onder water? Al twee vrae spruit voort uit dieselfde vertrekpunt, naamlik dat die verhaal letterlik verstaan moet word…" Die standpunt van Die Bybel in Praktyk is dan baie duidelik dat ons nie die verhaal van die sondvloed letterlik moet verstaan asof dit alles werklik net so sou gebeur het nie. "Miskien moet 'aarde ' verstaan word in die sin van die destyds bekende aarde, soos mense vandag nog dikwels sê: 'die hele wêreld was onder water.' Daarby word dit duidelik dat die gebeurtenis nie presies net so oorgelewer is nie. Dit is geherinterpreteer in terme van die Godsbegrip van Israel… " (bl 24). "Op grond van ‘n baie letterlike verstaan van die vloedverhaal soek sommige mense die oorblyfsels van die ark op die pieke van die moderne Ararat, noord van die Tigrisrivier. Daar bestaan egter ernstige probleme met so ‘n interpretasie." (bl 25).

Wat Die Bybel in Praktyk dus vir ons wil sê, is: Julle hoef regtig nie alles te glo wat die Bybel sê nie… Sommige dinge is baie oordryf, en ander is verkeerde en verdraaide herinterpretasies van die waarheid. Aanvaar net die morele lessie wat julle daarin leer, maar neem die historiese gegewens gerus met ‘n knippie sout! As dit nie ‘n duidelike simptoom is van die dodelike teologiese siekte van Skrifkritiek nie, dan eet ek my hoed op.

1  Sheehan RJ, 1988 The Word of Truth, Scripture its origin,  Sufficiency and Relevance, Evangelical Press Darlington, bl 96.
2   Ibid, bl 96.