Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYWARE BETEKENIS VAN DIE CALVINISME
P VAN DER KOOI
CALVINISME IS SINONIEM AAN GEREFORMEERD-WEES VIR DIE WETENSKAP EN DIE PRAKTYK VAN DIE LEWE |
Die vorige aflewering het die aandag gevestig op dr Abraham Kuyper se argumentering van die noodsaaklikheid van die Anti Revolusionêre beginselprogram. Die tweede artikel van hierdie program handel oor die gesag en die saak van die soewereiniteit.
Ten aansien hiervan volg Kuyper die oortuiging van sy voorganger-geesgenoot, Groen van Prinsterer. Dit is eerder bespreek toe laasgenoemde se staatsopvattings aan die orde gestel is. Ook vir Kuyper was dit die oorwegende vraag wat beantwoord moes word of die soewereiniteit uit die mense of uit God is. Beskik die regering en die gesagsdraers oor 'n absolute gesag of is dit 'n gesag met verantwoordelikheid aan 'n hoër mag, naamlik die hoogste Wetgewer en opperste Soewerein?
"Noch in den volkswil noch in de wet, maar alleen in God vindt zij de bron van het souvereine gezag, en verwerpt mitsdien eenerzijds het beginsel van volkssouvereiniteit ..."
Kuyper verwerp die gedagte dat die owerheid in die eerste plek mandataris van die volksmenigte is. Die wettige owerheid, gelegitimiteer deur verkiesing, is in die eerste plek verantwoording verskuldig aan God. In die ontkenning van die droit divin (die goddelike reg) lê die bron van die liberalisme. Dié teorie is in ooreenstemming met die gewaande hoogmoed van die menslike rede.
So kom, aldus Groen - en Kuyper onderskryf dit -, 'n mens tot die stelsel van die revolusionêre volksoewereiniteit. Die owerheid is die gevolmagtigde van die soewereine volk, uitvoerder van die volkswil, waaraan dit sy gesag ontleen. Van hierdie stelsel, verkondig deur die filosowe van die agttiende eeu, is nou die hemel op aarde verwag. "Die opvolging van die voorskrifte van die wysbegeerte, en dit alleen, sou vernietiging van vooroordeel en tirannie, vestiging van vrijheid, waarborg van welvaart, van oorvloed, van ware beskawing en hoër lewensgenot, ja, trapsgewyse herskepping en vervolmaking van die menslike geslag wees.
Nyd en twis sou gesmoor word, die geluk van elkeen sou met die nut van almal ooreenstem. Daar sou vrede op aarde wees, waarheid, geregtigheid, onderlinge liefde, gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die natuur, nie deur die beteueling nie maar deur die bevredi-ging van begeerlikhede en drifte, wederkerige hulpbetoon, broederskap; daar sou in plaas van rampsaligheid saligheid wees. So sou geskied wat in die tye van onwetendheid nie moontlik was nie.
So het die revolusionêre idealiste geredeneer. Maar hulle hoop was 'n hersenskim. Ook wanneer ons 'n oomblik die vraag laat rus wat daar van hulle teorie in die praktyk tereggekom het, kan reeds die logika leer waarheen dit moes lei. En, is dit nie asof ons die teorieë en die geskiedenis van die afgelope twintig jaar van óns volkstryd hierin hoorbaar en sigbaar herken nie?
Op tweërlei wyse kan die stelsel van die volksoewereiniteit uitgewerk word en is dit ook uitgewerk. Want óf die soewereine volk hou die mag aan homself en stel die owerheid in die ongelyk sodra dit teen die volkswil ingaan; of dit dra sy mag op die owerheid oor, wat dan die vrye beskikking oor die lewe en besit van die onderdane verkry. Om 'n al te "vrye beskikking" van die uitvoerende magte van die owerhede in te perk dien die verklarings van "menseregte" om dit te beteuel. Die, in ons geval, sosialistiese regte van die mens is verskans in die grondwet. Dit is waar die tweede artikel in die program van beginsels van die oorspronklike Nederlandse AR Party na verwys: Nòg in die volkswil, nòg in die wet, maar alleen in God vind hy (die Grondwet) die bron van die soewereine gesag.
Aktes van menseregte is wetlik verskanste bepalings waaraan alle wetgewende en uitvoerende gesag getoets kan (moet) word. Dit word ondersteun deur regspleging wat op dié wyse die hoogste gesag in die samelewing van die staat kan opdwing. Nie meer die etiese toepassing van die norme en gebooie van die Here nie, maar die rasioneel-humanistiese en in ons geval die bevooroordeelde en "regstellende" doelstellings en strewe van die "reënboognasie" dien as die filosofiese fondament daarvan.
Die onderliggende beginsel was ter sprake toe Staatspresident Paul Kruger die toetsreg van die regbank oor 'n prinsipiële konstitutionele vraagstuk wat regters Kotzé en Ameshof aangedurf het, of dit die krag van wet gehad het, as 'n "instelling van die duiwel" getipeer het.
"Die gedagtegang van die geleerde regters is 'n juridies staatkundige uitvloeisel van die volksoewereiniteitsteorie en dit weer is 'n vrug van 'n tipe van humanistiese lewens- en wêreldbeskouing wat sy diepste wortel in die ideaal van die menslike persoonlikheid het.
"Volgens hierdie lewens- en wêreldbeskouing word die menslike persoonlikheid beskou as soewerein, soms selfs as goddelik, as selfbepalend. Die mens is geen gevalle sondaar meer nie, maar 'n 'God in het diepst van zijn gedachten'. Op die normatiewe terreine van die lewe bepaal die soewereine menslike persoonlikheid dan eiemagtelik wat as goed en kwaad, wat as reg en verkeerd sal geld. Hierdie soewereine menslike persoonlikheid ken derhalwe geen band aan die Woord, aan die Wet van God nie.
"Op staatkundige terrein lei hierdie opvatting daartoe dat die volk, wat tog maar uiteindelik uit individue bestaan, beskou word as soewerein, as die bron van gesag en reg. Die algemene wil van al die individue, as volkswil, bepaal wat as reg en verkeerd beskou en gevolglik wat as wet gepositiveer moet word, en die volksverteenwoordigers moet eenvoudig die wil van hierdie soewereine volk in die maak van wette uitvoer.
"Die verteenwoordigers self het niks te sê nie behalwe in sover hul die wil van die soewereine volk tot uiting laat kom. Hul is derhalwe mandaathouers van die volk en moet gevolglik binne die bestek van hul mandaat bly. Hul kan dus nooit meer mag hê as wat aan hulle gegee is nie, en gevolglik, as die grondwet wat beskou word as die skriftelike mandaat, of altans 'n blywende deel van die mandaat. Dit bepaal hoe die verteenwoordigers hul wetgewende bevoegdheid moet uitoefen. ten opsigte daarvan moet hulle dié bepalings getrou nakom of anders is die uitoefening van hulle gesag eenvoudig ongeldig.
"Derhalwe moet die hof toesien dat dit wat voor die hof gebring word as wet, as die gepositiveerde algemene wil van die soewereine volk, by die hof aankom deur en langs die suiwere kanaal van 'n juridiese mandaatvervulling.
"Gevolglik moet die hof 'n toetsreg hê, 'n toetsreg waarvan die hele toeleg dan is om te sorg dat die volksverteenwoordigers binne die bestek van hul mandaat, vir sover dit in die grondwet vasgestel is, bly en dat die soewereine volkswil suiwer tot gelding kom."
"Daarteenoor is dit Paul Kruger se (anti-revolusionêre) standpunt dat almal, die stemgeregtigde burger, die volksraadslid, die President, die regters, die amptenare en almal gebind is aan en deur die Wet van God.
"Gevolglik is almal ook gebind aan die wette en verordeninge wat die Wetgewende gesag in die staat maak, want daarin kom die Wet van God, soos dit leef in die harte van die stemgeregtigde burgers en soos dit gedra word deur die volksverteenwoordigers, tot positiewe gelding in die bepaling van wat in die samelewing binne die staatsverband as reg en verkeerd sal geld." Hierdie beskrywing is aan die hand van adv CF de Vos Hugo (24 April 1946).
Die draai in die geskiedenis van die Boere-Afrikaner is geloop om die tweede artikel in die Program van Beginsels van die AR Party in Nederland te verklaar en aktueel toe te pas met verwysing na ons volkseie verlede.