Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
GESPREK MET DIE LESERS DIE NUWE JAAR, DIE JAAR VAN ONS HERE, 2000Terwyl ons dit skryf behoort die jaar 1999 reeds tot die verlede. Daar was weinig goed en baie kwaad wat plaasgevind het. En die goeie was in bybelse perspektief nog met sondes bevlek. Tog was dit ook 'n genadejaar wat die Here aan ons lewens toegevoeg het. Genade in die sin dat Hy nog nie gekom het om sy oordeel oor hierdie wêreld te voltrek nie; genade dat Sy oproep tot bekering van sondes en die boodskap van heil en verlossing nog uitgegaan het.
Met die oog op laasgenoemde is dit dan ook met dankbaarheid dat ons gewag maak van die ononderbroke verskyning van ons blad en die artikels wat daarin gepubliseer is. In die vorige uitgawe het ons reeds die nodige bedankings gedoen. Ons wil graag met dankbaarheid vermeld dat die terugvoering wat ons oor dié spesifieke inhoud gekry het, baie gunstig was.
Ons poog om hierdie jaar met hernude ywer toe te spits op die redaksie en wel in die besonder op dit wat saak maak. Die onbaatsugtige medewerking van diegene wat kan en wil bydra vir sinvolle kopie word hartlik verwelkom.
Soos reeds vermeld, bly dit 'n doelstelling om vereers tot 'n maandblad uit te groei. Met die oog daarop kan ons dankbaar vermeld dat, sedert vorige jaar Januarie, die aantal intekenare met ruim 'n kwart van die huidige totaal daarvan toegeneem het.
As redaksie en administrasie wil ons die positiewe intekenare versoek om bekendstelling waar dit moontlik is aan ons blad te verleen, en lesers te betrek om in te teken, sodat ons so gou as moontlik dié drukoplaag kan bereik wat nodig is om verdere planne van stapel te stuur en in die praktyk te realiseer.
Mag die Here ons ook hierdie jaar weer lei en die nodige insig, wysheid en middele verskaf vir die voortgang van ons werk. Mag Hy ook aan sy kerk die genade skenk van die suiwere bewaring van sy Woord. Mag Hy ook u paaie rig en lei volgens sy wil. Met die oog daarop bid die redaksie aan die lesers van ons blad die heil en voorspoed uit die hand van die Here toe in alle opsigte van die bestaan.
REDAKSIONEEL
In die redaksionele kolom op die voorblad is reeds verwys na die toespitsing van polemiek in verband met die aantasting van die Skrifgesag waaraan in hierdie uitgawe reeds substansie verleen is. Ook was dit noodsaaklik om 'n regstelling te maak aangaande die verslag van die kuratore van die Teologiese Skool te Potchefstroom aan die Nasionale Sinode GKSA te Potchefstroom (bl 14). Dit blyk duidelik uit die gevoerde polemiek van die afgelope jare dat daar uiteenlopende onderstrominge in die Gereformeerde Kerke bestaan wat, af-hanklik van die oortuigings wat gehuldig word, betwisbaar is. Die Kuratorium van die TSP behoort met die oog daarop onpartydig te staan en die aangevoerde besware te toets volgens die trou aan die leer, diens en regering van die kerk.
Professore behoort gevolglik binne die perke van hulle leeropdrag van die teologiese skool te doseer en op te tree. Die geskille oor die optrede van sekere professore handel juis oor hulle handelinge buite die akademiese veld van die TSP.
As redaksie, ondersteun deur die redaksiekommissie, spreek ons die wens uit dat die verskyning van ons blad, die afgelope drie jaar, mag bydra om die geskille op Christelike wyse tot heil van die kerk en sy lidmate en tot versoening van elkaar bestrydende partye mag lei.
Daar is talle twispunte wat op dié Sinode sal dien. Dit is te voorsien dat nie almal in alle opsigte tevrede gestel word nie. Met die oog daarop adviseer ons die lesers om nie moedeloos te word en tou op te gooi nie, maar om aan te hou stry en vas te staan by die suiwere bewaring van God se Woord en die toepassing daarvan, in die praktyk van die kerklike bestaan asook in dié van die staat en samelewing.
Per slot van sake moet kerklike besluite op grondvlak, in die plaaslike kerke gerealiseer word. Daarom sal betwisbare besluite deur kerkrade en kerklidmate verifiëer of geratifiseer moet word.
"Ons glo ... dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar 'n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het". Dit het beslis ook betrekking op die byeenkoms van die Nasionale Sinode, die komende weke te Potchefstroom.
"En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou" (NGB, art 32). Hierdie woorde is besonder van toepassing onder die huidige omstandighede van toenemende onrus en verdeeldheid in die kerklike bestaan. Mag die Here sy seën gebied aan afgevaardigdes wat gehoorsaam gelowig Hom dien in die standpunte wat gestel en die besluite wat geneem sal word.
Mag die komende Sinode die gesonde leer van die Skrif handhaaf en reformatories die afwykinge van die leer, diens en tug van die kerk, volgens die Woord van die Here verwerp asook die teenskriftuurlike en onkerkordelike independentistiese optrede van sekere kerkrade en kerklidmate vermaan en bestraf. Ons bid die Sinode die wysheid van en die gehoorsaamheid aan die Koning van sy kerk, Jesus Christus, toe.
Dit is 'n voorreg dat ons in die persone van prof TE Cloete en dr Chris L Jordaan ('n behoudende predikant in buitegewone diens van die NG Kerk) medewerkers gevind het wat op hulle spesifieke terreine redaksionele bydraes gaan lewer. Ons verwelkom hulle graag in die groeiende leserskring van ons blad.
ADMINISTRATIEF
Dit is 'n aangename ervaring wat ons graag vermeld dat 'n taamlike getal ondersteuners van ons blad reeds spontaan heringeteken het, nog voordat hierdie eerste uitgawe gepubliseer is. Ons beskou dit as 'n blyk van vertroue wat in die redaksie gestel word. Ons poog om daardie vertroue gestand te doen, allereers in die redaksie wat gehandhaaf word, maar ook in die reëlmatige verskyning en die toekomstige uitbou van ons blad.
Ons vestig nogmaals die aandag daarop dat van nou af gratis eksemplare slegs by wyse van uitsondering beskikbaar gestel word. Diegene wat belangstel in die ontvangs van ons blad, maar dit nie kan bekostig nie, nooi ons om met ons in verbinding te tree.
Met die oog op die hernuwing van intekening vermeld ons opnuut dat u op die adresstrokie op die koevert kan sien of u reeds vir die vierde jaargang betaal het of nie. Indien die getal agter die naam van die geadresseerde 'n 3 of dalk 'n 2 is, dan is die vierde jaargang van nou af verskuldig.
Ons vermeld met dank dat in enkele gevalle donasies ontvang is, waarvoor ons dié skenkers hartlik bedank. Op dié wyse bou ons reeds 'n publikasiefonds op, wat tewens kan dien om vanjaar weer 'n simposium soos dié van die afgelope jaar te kan hou. Mag die jaar van onse Here, 2000, tot eer van sy Naam geseënd wees!®